Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skuimkop: Proteas se loesing is pynlik

Laat ons nou eers kalm bly mense, ná die afgelope ontspoorde toetskrieketreeks teen Engeland.

Skep ’n asempie. Gaan stap met die hond, sny die gras, was die motor. Tel die seëninge, tel hul een vir een. Want dit kon erger gewees het as ’n loesing met 3-1. Regtig, dit kón.

En ons praat nie van ’n reeksvernedering met 4-0 teen die Kakies nie.

Mark Boucher het sy hand opgesteek en gesê hy sal die Proteas weer in ’n wenspan omskep. Hy het sy oog op die toekoms. Foto: Gallo Images

Het dié drag slae gebeur met die vorige bedeling (lees: Thabang Moroe) nog stewig in beheer van Krieket Suid-Afrika (KSA) se doen en late, sou dit die begin van ’n bitter donker tydperk vir die spel ter plaatse ingelui het.

Dit het nie.

Skuimkop glo mense wat met hart en siel die belang van krieket dien, is nou in bestuursposte.

Om die Proteas weer ’n gevreesde span in die internasionale toetsarena te maak, gaan ’n uitdaging wees. Dit gaan nie oornag gebeur nie. Verwag nog teleurstellings. Verwag proefnemings met spankeuses. Verwag die gewone druk van hoër af oor kwotavereistes.

Maar weet dit: Mark Boucher, die nasionale afrigter, is in sy wese ’n uiters mededingende mens. ’n Spanman. Hy hou nie van verloor nie. Ditto Graeme Smith, die waarnemende direkteur van krieket.

Jacques Faul, KSA se waarnemende uitvoerende hoof, sal nie die tipe landmyne plant wat Moroe in sy armsalige tydperk geplant het nie.

Hy het ’n bewese rekord as administrateur. Boonop ken hy die spel en hy dra die belang van die spelers en die afrigtingskorps op die hart.

Toegegee, die reeksloesing was pynlik om te aanskou. Daar is kommer oor ons kolfpeil en die boulers was, op enkele uitsonderings na, benede standaard.

Dis egter nie onoorkombare probleme nie. Met die tyd sal die groentjies hul voete vind.

* Tot dan moet ons positief bly en glo dat Boucher en kie ’n plan het, nes Rassie Erasmus toe hy destyds oorgeneem het by die Springbokke.

Dis weer sulke tyd

Luister nou mooi vir my, boys. As die Bokke dit kon doen, kan ons ook. Siya Kolisi gesels met sy Stormers voor die aanvang van vanjaar se Superrugbyreeks. Foto: Gallo Images

Die lang wag kom die naweek tot ’n einde met 2020 se Superrugbyreeks wat uiteindelik begin.

Skuimkop het ’n duisend stompies rooikrans laat aflewer, die spens is gelaai met gekerfde beesbiltong en droëwors en in die vrieskas wag ’n dosyn sakkies netjies gepak met duim-dik Karootjoppies (R89/kg via ’n vriend van ’n skaapboer in die Calvinia-distrik).

Die vraag is nou net: gaan die braaivleis- en vreugdevure vanjaar hoog brand, of gaan daai tjoppies iewers langs die pad in ’n vaal bredie beland?

Al vier Suid-Afrikaanse franchises het houe gevat met hul Springbokke wat vanjaar aan die geil weiding oorsee knibbel.

Maar dit laat die deur oop vir nuwe talent om na vore te tree. Onontgonne talent wat in die skaduwee van dié Bokke met oorskietkanse tevrede moes wees.

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie sal op biddende knieë wees soos die seisoen vorder. Ondersteuners gaan vanjaar, in die lig van ons Wêreldbeker-sukses, topvertonings van die vier verwag. Ongeag die afwesigheid van ’n gros supersterre.

Goeie vertonings sal met verloop beloon word met beter bywoningsyfers by wedstryde. ’n Geploeter sal die teenoorgestelde beteken.

Net dié naweek alleen is daar 17 rugbywedstryde om van te kies (sewesrugby, Sesnasies, Superrugby en Pro14 inkluis).

Die druk is dus op franchises om goeie spel op te dis, om ondersteuners se aandag te prikkel en om borge gelukkig te hou.

Die hoop aan’t huis is natuurlik vir ’n Stormers-revolusie die seisoen. Die voorspelers lyk gedug en as Damian Willemse tot sy reg kom op losskakel en Herschel Jantjies speel so goed soos verlede seisoen, is daar rede om positief te wees.

Skuimkop is veral opgewonde oor die Walliese senter-aanwins, die veteraan Jamie Roberts, asook die jong David Meihuizen op slot.

* As die Stormers dit dan nie maak nie, laat dit die Haaie wees. Of die Leeus. Of die Bulle. Laat ’n Suid-Afrikaanse span ’n slag die vervlakste titel wen!

Gaan dit ’n nagmerrie wees?

En dis 5, 6 ,7 meter . . . Luvo Manyonga mik vanjaar na ‘n Olimpiese medalje en die wêreldrekord in verspring. Hy sal egter veel verder moet spring as in 2019. Foto: Gallo Images

Die Suid-Afrikaanse verspringer Luvo Manyonga sê hy is oortuig ’n podiumplek by die Olimpiese Spele in Tokio is vanjaar vir hom beskore.

Hy is dalk nog nie op die standaard waar hy moet wees nie, maar sal in Julie slaggereed wees vir die skouspel. Trouens, hy is so positief, hy sê 2020 is die jaar waarin hy die nasionale rekord (8,65 m) en sommer ook die wêreldrekord (8,95 m) wil laat tuimel. Laasgenoemde staan reeds sedert 1991.

Nou Skuimkop weet nie of Luvo ’n koorsdroom koester nie. In 2019 was sy beste afstand 8,37 m. Dis 11 sentimeter korter as die 8,48 m wat hom in 2017 as wêreldkampioen gekroon het.

Niks fout met teikens stel en positief wees nie. Maar hoe Luvo binne vyf maande so gaan verbeter dat hy sy silwermedalje-sprong by die Spele in Rio de Janeiro gaan herhaal of verbeter, is tot op hede ’n onbeantwoorde vraag.

* ’n Mens kan net hoop sy droom ontaard nie vanjaar in ’n nagmerrie nie.

Meer oor:  Luvo Manyonga  |  Mark Boucher  |  Siya Kolisi  |  Proteas  |  Skuimkop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.