Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skuimkop: Rassie moet woorde weeg

Rassie Erasmus, die Springbok-breier, balanseer tans op een wankelrige been iewers op ’n glibberige rots tussen die duiwel en die diep blou see.

Ja, hou maar toe daai mond, Rassie. Jou woorde kan teen jou draai. Foto: Getty Images

Dié afrigter móét aan die een kant die eerste kragmeting in die Rugbykampioenskap teen Argentinië wén om die span momentum te gee en die kommerbrommers in die publiek te verjaag.

Aan die ander kant móét hy onervare spelers blootstelling op internasionale vlak gee met die oog op aanstaande jaar se Wêreldbeker-toernooi in Japan.

Rasman het vroeër in die week heel openhartig erken hy is nie bang om sy pos as nasionale breier te verloor nie. Hy is wel bang dit gebeur voordat hy al sy doelwitte met die Bokke bereik het.

Skuimkop hoop hy hou sy balans op daardie glibberige rots.

Maar net ’n woord van raad, Rassie, as jy nie omgee nie: Dink in die toekoms mooi wat jy voor toetse sê. Om woorde soos “proefnemings” en “eksperimenteer” te gebruik met verwysing na jou span se samestelling teen die Poemas, kon straks die Argentyne ontstig het.

Trouens, as Skuimkop Saterdagmiddag in Durban in Mario Ledesma, die Poema-breier, se skoene was, sou hy die twee woorde met vrug in sy motiveringspraatjie gebruik het.

“Amigos, die Bokke dink ons is so lig in die broek, dat hulle proefnemings teen ons wil doen, ’n bietjie wil eksperimenteer, asof dit ’n oefenwedstryd is. Kom ons gaan wys hulle wat toetsrugby is.”

Die breier se “ons het groot respek en agting vir Argentinië” en “ons onderskat hulle hoegenaamd nie” om sy proefenemingsplan te probeer verdedig, oortuig nie.

* Weeg voortaan jou woorde, coach. Skuimkop vermoed jy het hier met ’n baie kort stokkie ’n baie kwaai kat se agterstewe gekielie.

Wag, sê weer?

Van afrigters se uitlatings gepraat: Die Bokke se voorspelerbreier, Matthew Proudfoot, verstom toe vriend en vyand vandeesweek met sy uitspraak dat daar nie eintlik veel te kies is tussen Malcolm Marx en Bongi Mbonambi as die span se voorkeurhaker nie.

So lyk die beste haker in SA en straks die wêreld – Matthew Proudfoot: Dis Malcolm Marx. Foto: Getty Images

Matt, nee. Net nee. Skuimkop is nie seker of jy bloot ’n transformasietrompet wou blaas en of jy dalk lanklaas gekyk het na die beste internasionale hakers nie.

Ofskoon Bongi beslis toetsmateriaal en ’n logiese keuse as die nommer twee in die span is, is Marx die beste haker in Suid-Afrika. Geen twyfel nie.

* Trouens, met die moontlike uitsondering van die All Blacks se Dane Coles (wanneer hy fiks is), is hy die beste haker op die planeet.

Siesa, Saru!

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se besluit om kleiner unies se begrotings met 52% te besnoei, boemerang nou op skouspelagtige wyse.

Die Luiperds-rugbyunie is op sy knieë gedwing aan die vooraand van die Curriebeker se Eerste Liga – hy het aangedui daar is eenvoudig nie genoeg geld in sy koffers om sommige van sy wegwedstryde te eerbiedig nie.

Dit nadat hy reeds die geldgordel tot op die laaste gaatjie om die middel styfgetrek het met skeidingspakkette aan werknemers, die inkorting van reisbegrotings, salarisbesnoeiings en die vrystelling van sy voorste en mees senior spelers.

Die Griffons, nog ’n kleintjie met ’n kleiner begroting, gaan voortaan sy 23 topspelers (teen ’n salaris van R11 000 per maand) vir net agt maande van die jaar kan kontrakteer om sy boeke te laat klop.

Sê Eugene van Wyk, dié unie se grootbaas: “In hierdie stadium is Saru se totale begroting R1,3 miljard, waarvan die unies net R310 miljoen kry. Saru kry dus sowat 72% van die inkomste en die unies net 28%.”

Hoe nou gemaak, Saru? Jurie, Mark – julle ouens? Hoe het julle toegelaat dat dinge so erg uitgetorring het? Julle lui die doodsklok vir kleiner unies en nou sit julle handjies gevou. Skandelik!

Swart gesig, rooi gesig

Die Internasionale Krieketraad (IKR) verdien ’n dwarsklap vir sy flagrante flater nadat Kagiso Rabada as die wêreld se beste jong speler deur die gesaghebbende Wisden Cricket Monthly aangewys is.

Dié beheerliggaam het op Twitter sy gelukwensing aan die jong snelbouler wyd uitbasuin, selfs vir Rabada en Thabang Moroe, die Suid-Afrikaanse krieketbaas, aangehaal, maar toe ’n foto van ’n ander Protea-sneller, Lungi Ngidi, by die twiet geplaas.

Dit het die IKR bykans 15 uur geneem om sy verspotte fout agter te kom en om verskoning te vra.

* Teen daardie tyd het ondersteuners en spelers oor die wêreld heen reeds die een opslagbal na die ander na die beheerliggaam gemik.

Meer oor:  Bokke  |  Springbokke  |  Rassie Erasmus  |  Skuimkop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.