Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Rassie toe amper slagoffer van stutfaktor
Toe Alphaville destyds die treffer “Big in Japan” geskryf het, het hulle waarskynlik nie die yslike Bok-slot RG Snyman in gedagte gehad nie. Foto: Getty Images

Suid-Afrikaanse rugbyondersteuners het met reg snuf in die neus oor die twee Italiaanse vaskopstutte wat Vrydag ná minder as 20 minute van die veld af is met “beserings”.

Italië het straks vooraf geweet dit gaan nag wees in die vaste skrums en die eerste paar skrums in die wedstryd het dié vermoede bevestig.

Deurdat Italië nie nóg ’n vaskopstut op die veld kon stuur nie, moes Wayne Barnes, die skeidsregter, noodgedwonge beslis dat die skrums vir die res van die wedstryd onbestrede sou wees. Dít, uiteraard, het daar en dan beteken die Bokke was een van hul grootste wapens kwyt.

Skuimkop kon egter nie help om die ironie in dié situasie raak te sien nie.

Want sien, toe Rassie Erasmus (die Bok-afrigter) sy eerste treë as afrigter by die Cheetahs gegee het, het hy soms ook van hoogs twyfelagtige stut-taktieke gebruik gemaak. Trouens, sy berugte stut-strategie, waarvolgens stutte gekom, gegaan en weer teruggekom het op die veld, het later ’n naam, “die stut-faktor” gekry.

Nou, jare later, het Italië dalk ook die Bokke met hul “stut-faktor” probeer ontwrig.

* Ongelukkig vir hulle kon dié plan nie behoorlik tot sy reg kom nie, want ’n oomblik van “stut-onnoselheid” het hul vir bykans 40 minute tot 14 spelers op die veld verdoem.

Daar’s omtrent net een skeidsregter, Wayne Barnes (regs), wat nog nie vanjaar onder kritiek deurgeloop het by die Wêreldbeker-toernooi nie. Dieselfde kan ongelukkig nie van sy kollega Romain Poite (links) gesê word nie.Foto: Getty Images

Rêrig, Steve?

Skuimkop sien Steve Hansen, die All Black-afrigter, het vroeër dié week ander breiers by die Wêreldbeker-toernooi tereggewys omdat hulle skeidsregters kritiseer.

Op die oog af is dit edele optrede om in die bres te tree vir sy beleërde broers met die fluitjies. Maar dis darem ook baie maklik om hierdie standpunt in te neem as jou span selde aan die ontvangkant van swak en omstrede beslissings is; wanneer jou spelers nie gestraf word vir vuilspel nie; wanneer die 50/50-beslissings in die guns van jou span gemaak word.

Daar kan mos nie van die afrigters, wie se spanne gereeld aan die ontvangkant van die swak beslissings is, verwag word om net eenvoudig op hul lippe te byt en niks te sê nie. Nog minder wanneer dié swak besluite jou ’n Wêreldbeker-wedstryd kos en jou kanse bemoeilik om ver in die toernooi te vorder.

Ironies genoeg onthou Skuimkop nog hoe die All Blacks tien jaar gelede, toe Hansen nog Graham Henry se hulpafrigter was, ’n verskriklike bohaai gemaak het nadat die Aussie-blaser Stuart Dickinson hulle swaar gestraf het in die vaste skrums in ’n toets teen Italië.

Toe is die gevoelens van die blaser nie gespaar nie en het die destydse skeidsregterhoof van Wêreldrugby (toe nog die Internasionale Rugbyraad), die Kiwi Paddy O’Brien, sover gegaan om aan die All Blacks om verskoning te vra vir Dickinson se beslissings.

“Ons sal die skeidsregter moet opvoed,” was destyds O’Brien se onvleiende woorde oor Dickinson.

En wie kan nog onthou hoe Wayne Barnes, een van die beste blasers ter wêreld, in 2007 deur die All Blacks verguis is nadat hy nie ’n oënskynlike vorentoe aangee raakgesien het in die kwarteindstryd teen Frankryk nie, wat die Kiwi’s toe daardie wedstryd gekos het?

* Nee, Steve, kom ons kyk of jy steeds so voel as die skoen aan die ander voet is.

Te veel spanne

Skuimkop geniet tot dusver die Wêreldbeker in Japan en die gasheernasie se heldhaftige oorwinning oor Ierland was presies wat die toernooi nodig gehad het om behoorlik vlam te vat.

Tog het dié skouspel die afgelope week weer bietjie momentum verloor met die Bokke en All Blacks se weghol-oorwinnings oor Namibië en Kanada onderskeidelik.

Hoewel Skuimkop die spelers van Namibië en Kanada hul oomblik in die kollig gun, neem sulke eensydige wedstryde ’n bietjie glans van die toernooi weg.

Dis vir niemand lekker om te sien hoe oorwegend amateurspanne van die eerste minuut af in die grond in gespeel word nie. Wat toeskouers wil sien, is boeiende tweestryde soos dié tussen Japan en Ierland of Wallis se spannende kragmeting met die Wallabies.

* Skuimkop stel voor dat die toernooi van 20 tot 16 spanne verminder word. Sodoende sal daar heelwat minder voorspelbare wedstryde wees.

Meer oor:  Steve Hansen  |  Japan  |  Wêreldbekerrugby  |  Skuimkop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.