Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Rassie verdien lof vir Kwagga-keuse

Vir baie plaaslike rugbyliefhebbers breek die oomblik van waarheid die naweek aan wanneer Suid-Afrika en Nieu-Seeland mekaar in die tweede ronde van 2019 se verkorte Rugbykampioenskap pak.

Ek is nou so lus vir All Blacks seermaak, ek skrum sommer die regoppaal, sê Kwagga Smith aan sy Bok-spanmaat Faf de Klerk. Foto: Getty Images

Ons is deeglik bewus van die feit dat die All Blacks die span is om te klop.

Die draers van die silwervaring stel die standaard sedert hulle die Wêreldbeker-kroon in 2011 verower het. Nie een van hul vele uitdagers kon sedertdien met reëlmaat dié status quo versteur nie.

Kan die All Blacks geklop word? Gewis.

Rassie Erasmus se Springbokke het dit verlede jaar in die ooreenstemmende toets in die reeks vermag. Boonop in die Cake Tin in Wellington, waar die tuisspan bykans onaantasbaar is.

Die naweek is ons weer dáár.

Die All Blacks soek wraak vir dié loesing in hul agterplaas. Die Bokke soek ’n sege om te sê dít was geen vloekskoot nie. Skuimkop soek bewyse dat Rassie op koers is met sy beplanning vir die eintlike doelwit – Wêreldbeker-sukses in Japan later vanjaar.

Albei breiers het hul kaarte in die eerste toetse gespeel deur “eksperimentele” spanne te kies en die “beste ouens” tot die naweek se grote te laat rus.

Skuimkop glo Rassie verdien ’n pluimpie vir sy span. Veral met die insluiting van die “klein” flank Kwagga Smith, die tipe ou wat jy in die voorste loopgrawe wil hê, waar hy sonder ophou soos ’n vreeslose ratel veg. Kwagga verdien op grond van sy Superrugby-vertoning sy plek.

Ditto die “klein” vleuel Cheslin Kolbe, ’n woelwater wat werk soek, bo sy gewigsklas boks as dit by verdediging kom en geen gebrek aan vaart en systappe doellyn toe het nie.

Oor die res van die span is daar nie veel pyne nie. Dalk net op senter, waar Damian de Allende in die stadium nie veel vertroue inboesem met kreatiewe spel nie. Maar mag hy Skuimkop op sy neus laat kyk en ’n blinder saam met Lukhanyo Am in die middelveld speel.

So hier is ons nou.

Hansen wat sê wát ook al die uitslag van die toets, dit sal nie ’n invloed hê as die twee aartsvyande mekaar op 21 September in Yokohama pak nie.

Rassie sê die wenner sal ’n sielkundige slag voor daardie eerste WB-groepwedstryd slaan.

* Skuimkop glo vas laasgenoemde gaan in Wellington geslaan word.

Vat vyf, hemelbesem

Dis mooi om te sien hoe van ons grootste sportsterre ter plaatse iets terugploeg, selfs al het hulle lankal na die groener weivelde van die eerste wêreld verhuis of sport vaarwel toegeroep.

Ernie Els se gholfstigting is sedert 1999 ’n sprekende voorbeeld. Verskeie van ons voormalige top-krieketspelers is akademies op die been gebring. ’n Hele klompie rugbymanne help ook om jong talent te identifiseer en te ontwikkel.

Oog op die bal op die baan, oog op die groter prentjie weg van die baan. Kevin Anderson ploeg terug in plaaslike tennis. Foto: Getty Imaqes

Skuimkop is aangenaam verras om te sien ons beste manstennispeler, Kevin Anderson, is nou aan boord as ambassadeur en die gesig van ’n nuwe nasionale toernooi vir laerskole, wat van Augustus af oor sewe maande sterk en in al nege provinsies beslis sal word.

* Die wêreld se nr. 11 woon dalk deesdae in Amerika, maar sy hart is nog hier. Om in ’n veeleisende skedule tyd vir die projek in te ruim, sê baie van sy karakter.

’n Mens wil nie lag nie, maar . . .

Ongeag die uitslag op Lord’s in die enkele kriekettoets tussen Engeland en Ierland, sal dit altyd onthou word vir die tuisspan se eerstebeurt-fiasko toe hy vir 85 uitgeboul is.

Storie van die toets . . . nog ’n Engelse kolwer stap terug paviljoen toe met sy paaltjies wat windskeef staan ná die Ierse boulaanslag. Foto: Getty Images

Dis nie sy laagste beurttelling in ’n toets nie. Dié telling was 45 teen Australië, donkiejare gelede in 1887. Daar was ook ’n 46 teen die Wes-Indiese Eilande (1994). Trouens, sy vyf laagste tellings was teen dié twee bewese toetsnasies.

Maar die 85 op Lord’s was teen Ierland. Ja, Ierland. Die land waar sokker, Keltiese voetbal en hurling voor rugby in die gewildheidsry staan. Iewers verder ondertoe is krieket op die lys.

Dit was die Iere se derde probeerslag in die langste weergawe van die spel sedert hy op 22 Junie 2017 toetsstatus van die Internasionale Krieketraad ontvang het.

Toegegee, dit was nie Engeland se beste toetsspan nie. Maar ’n paar van die spelendes kan straks van Donderdag af op Edgbaston in die eerste toets in die reeks om die As teen Australië aantree.

* Skuimkop reken die Aussies kon nie vir ’n beter sagmakertjie gevra het nie.

Meer oor:  Skuimkop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.