Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skuimkop: Rassie vir sportminister!
Ja, klap maar hande skorriemorrie, moet net nie in Pretoria en Jaansberg kom kuier nie. Nick Mallett glimlag nog, met al sy tande. Foto: Gallo Images

Wie onthou nog die dae toe ons vir regstreekse rugby op TV ingeskakel het? Dit voel nou skielik soos “lank-lank gelede”, daai frasetjie waarmee sprokiesverhale gewoonlik begin word.

Jou Superrugby-span (die Stormers, Haaie of wie ook al) is op toer in Australasië ná drie tuiswedstryde. Twee gewen, een verloor. Vier taai kragmetings lê nou voor, twee teen die Kiwi’s, dan twee teen die Aussies.

Saterdagoggend skuins na 11:00 neem jy stelling in voor die platskerm. Dalk saam met ’n vriend of twee wat vroeër die week genooi is om die game te kom kyk. Dalk dra jy of julle almal ondersteunerstruie. Dalk drink julle koffie. Tot een kort voor lank yskas toe stap en vra of nog iemand eerder ’n biertjie wil hê. Dan drink julle dalk almal biertjies.

Met die rustyd wag almal om te hoor wat die SuperSport-ateljeespan te sê het van die afgelope 40 minute se verrigtinge.

Die meeste kenners sê goed wat julle reeds weet. Ou Naas ‘on de adder hand’ sy stukkie, Butch, Jean of Breytie gaan deur die motions. Maar as Nick Mallett sy spreekbeurt kry, luister almal aandagtig.

Veral as die ou effens moerig is oor jou span weens swak dissipline sy kanse verspeel het of ’n wedstrydplan probeer uitvoer, wat kennelik nie werk nie. Dan spaar hy nie sy woorde nie.

Tot een kort voor lank yskas toe stap en vra of nog iemand eerder ’n biertjie wil hê.

Menige Saterdag het Skuimkop self so gesit en luister. Iewers sal iemand nog ’n bier oopknak en so half vir homself sê ‘ag ou Nick is nou weer onnodig krities’. Of iets soos ‘die Mallett moet ook altyd teen die stroom staan en swem’.

Feit van die saak is, as hy praat, dan kan ’n mens maar luister. Of jy nou met hom saamstem of nie.

Dit was dus vir Skuimkop geen verrassing nie dat die suksesvolle oud-breier van die Bokke vandeesweek die een was wat met vuurhoutjies in ’n dinamietfabriek gespeel het deur voor te stel die Bulle en Leeus moet saamsmelt om een franchise te vorm.

Om die finansiële druk waaronder rugbyunies weens die koronavirus-pandemie gebuk gaan, moet die getal beroepspelers in die land verminder word, seg Mallett.

Dis in die beste belang van Suid-Afrikaanse rugby dat die beskikbare talent tussen die vier voorste franchises versprei word. Een van dié vier, reken Mallett, moet ’n gekombineerde Gauteng (“want hulle is net 50 km uit mekaar”) wees en dan sê hy ook ’n span in die Oos-Kaap, die hartland van swart rugby in die land, is ononderhandelbaar.

Nou ja, benewens steun van die oud-Springbok Ray Mordt, was daar te verstane nie soveel liefde vanuit die Bulle en Leeus se geledere vir Mallett se voortvarende idee nie.

Die Blou Bulle het dit “bisar en ondeurdag” afgemaak. Waarom twee spanne met sulke sterk internasionale handelsname opoffer vir ’n generiese Gautengse span? Dis soos om Manchester United en Manchester City te kombineer, het Willem Strauss, die BBRU se president, gemor.

Altmann Allers, die voorsitter van die Leeus se Rugby-maatskappy en die eienaar van Ellispark-stadion (Bpk), het Mallett se voorstel as “braaivleispraatjies” afgemaak.

Albei is dit eens “op papier” lyk dit dalk belowend. In die praktyk is dit egter totaal onhaalbaar.

Skuimkop dink ook Nick het bietjie wild geskiet met die een. Maar gee die duiwel wat hom toekom.

Die finansiële las van die koronakrisis gaan al hoe swaarder word. Iewers moet daar tog plan gesien word om dit hok te slaan.

Ofskoon die blote idee van ’n gekombineerde franchise ondersteuners en administrateurs in die noorde met afgryse vervul, is dit ’n voorstel wat die benarde situasie waarin unies hulself tans bevind, op ’n praktiese manier probeer teiken. Nie waar nie?

As daar iewers vorentoe weer ’n eindfluitjie geblaas word in ’n wedstryd waarby een van ons franchises betrokke was, steek maar die vuur aan saam met jou pelle en probeer ’n alternatiewe oplossing vind.

Minister Erasmus

Hierdie is blydskap, sê Rassie Erasmus. Waaraan ons moet bly werk, is hoop. Foto: Gallo Images

Is Rassie Erasmus dalk beskikbaar vir ’n ministeriële pos, die sportportefeulje, byvoorbeeld? Want Skuimkop het nog nooit vir Nathi Mthethwa soveel sin hoor praat soos dié voormalige Springbok-breier vandeesweek nie.

’n Wêreldbekersege (1995, 2007 en 2019) lei tot nasionale blydskap. ’n Tydelike high. Vlietend. Dit bring egter nie hoop nie. Hoop is iets blywend, iets waaraan mense kan vasklou.

So sê die SA Rugbyunie se huidige direkteur van rugby.

En hoe skep jy hoop?

“Wanneer jy aanhou doen wat jy gedoen het met wenspanne wat getransformeer is, met ’n diverse bestuurspan waarin daar ook vroue dien.”

Ja, daai T-woord wat almal so omkrap.

Maar transformasie sal niemand ’n kramp gee as dit op die régte manier gedoen word nie, reken Rassie. “Swart seuns moet gelyke geleenthede kry, maar wit seuns mag nie in die proses onregverdig behandel word nie.”

Dan sê hy ’n ding wat Skuimkop reken almal ter harte moet neem – selfs ons agbare sportminister en sy cronies.

Mense wat so kerm en kla oor transformasie – ja, mense soos jy meneer – begryp nie wat transformasie is nie.

As jy onder die indruk verkeer dat transformasie beteken ’n wit speler word ten gunste van ’n gekleurde uit die span gepos, sit jy die pot mis.

Neem Rassie se woorde ter harte: “Transformasie is om die ou manier van dink te transformeer. Dit gaan nie daaroor om iemand uit te sluit nie, maar eerder om ander in te sluit.”

Ons land kort ’n sportminister wat almal se belange dien. Vir ’n ou soos Rassie sal ek enige dag my stem uitbring.

Meer oor:  Soweto  |  Pretoria  |  Johannesburg  |  Leeus  |  Skuimkop  |  Rassie Erasmus  |  Bulle  |  Nick Mallett
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.