Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
SA krieket bloei, wees bang (Tha)bang
En die Proteas se span vir die reeks teen Engeland, die nasionale afrigter en die direkteur van krieket is . . . Thabang Moroe is skynbaar die man met al die antwoorde. Foto: Gallo Images

Danksy die Springbokke se Wêreldbeker-rugbysukses in Japan, kon Suid-Afrikaanse sportgeesdriftiges (genadiglik) vir ’n maand of twee van die mislike situasie vergeet waarin die nasionale krieketspan homself tans bevind.

Ons het die glorieryke rugbygolf behóórlik gery.

Daar was ’n helde-ontvangs vir die Bokke met hul terugkeer. Strate is oorstroom met ondersteuners wat vir ’n sekonde of tien die WB-wenners wou sien.

Duisende video-opnames van dié landwye triomftog is gemaak. Handtekeninge is uitgedeel, sommige gelukkiges het ’n selfie of twee saam met hul helde geneem.

En dáár trek die Bok-bus straat-af, om die hoek, buite sig. Die euforie begin taan. Die lewe gaan aan.

Werklikheid skop in.

En dáár trek die Bok-bus straat-af, om die hoek, buite sig. Die euforie begin taan. Die lewe gaan aan. Werklikheid skop in.

Volgende maand is Engeland se krieketspan hier vir vier toetse, drie eendag- en drie T20-wedstryde teen die Proteas.

Ons nasionale span is tans rigtingloos, vasgevang in een van sy swakste vertoningsiklusse sedert Suid-Afrika in 1991 hertoelating tot die internasionale arena gekry het. ’n Voldonge feit.

In Februarie klap Sri Lanka ons hier, in ons agterplaas, met 2-0 in ’n toetsreeks. Oor die Wêreldbeker-toernooi swyg ’n mens eerder. Ook oor die onlangse fiasko teen Indië op die subkontinent. Dis nou vyf toetsloesings op ’n streep, ’n bitter pil wat die span in 2005/’06 laas teen die Aussies moes sluk.

Skuimkop wil nou nie hoes, roep of skinder nie, maar die vraag moet gevra word watter aandeel Thabang Moroe, Krieket Suid-Afrika se grootbaas, in dié ondergang het.

En hoe de hel het dié man skielik soveel mag dat hy kan hiet en gebied oor letterlik áls wat met die nasionale span te doen het. Selfs sonder die goedkeuring van die beheerliggaam se topbestuur!

Wie is die Protea-spandirekteur (voorheen bloot afrigter genoem)? Thabang sal besluit. Wie is die direkteur van krieket? Thabang sal besluit. En die sameroeper van die nasionale keurkomitee? Ja, weer Thabang se besluit.

As dié man aanhou om krieket in Suid-Afrika soos ’n mikro-bestuurder te beheer, gaan die volgende gebeur (en dit het reeds begin): spelers gaan ’n kontrak oorsee as enigste opsie beskou, oudspelers gaan nie die moeite doen om hul kennis in plaaslike krieket terug te ploeg nie.

Hy gaan ondersteuners vervreem. Hy gaan borge afskrik. Hy gaan Suid-Afrikaanse krieket op sy knieë dwing.

So wie gaan die Protea-groep vir die Engelse se komende besoek kies? Wie rig die span af? Wie is die direkteur van krieket, wat die breier en spelers met raad en bystand moet lei?

* Skuimkop is te bang om te raai.

Nieu-Seeland se krieketkaptein, Kane Williamson, sluk gou die bitter pilletjie wat hy en sy span ná die Wêreldbeker-eindstryd vir hul moeite ontvang het.Foto: Getty Images

Van swaksinnig gepraat . . .

Die Internasionale Krieketraad sien toe uiteindelik die lig en sê wanneer spanne gelykop eindig in ’n WB-eindstryd, sal superboulbeurte gespeel word totdat ’n wenner opgelewer word en sal die meeste grenshoue in die eindstryd nie die kampioen bepaal nie.

Dis juis dié swaksinnige reël wat Nieu-Seeland in vanjaar se eindstryd gepootjie het: die Kiwi’s het 17 grenshoue gemoker, Engeland 26. Al was die twee op dieselfde telling na 50 beurte én die daaropvolgende superboulbeurt, is die Engelse gekroon.

Kane Williamson, die Swartpette se kaptein, het na die IKR se aankondiging bloot gesê dié skuif is geen verrassing nie. Dis wat alle spanne sal verkies.

Al het hulle nie saamgestem met hoe die uitslag beslis is nie, was die grenshou-reël een wat vooraf vasgestel is en daarom het sy span dit aanvaar.

Skuimkop lig sy hoed vir dié Kiwi.

* As die situasie omgekeer was, sou die Engelse sweerlikwaar vir maande lank steen en been gekla het oor die onregverdigheid van die reël.

Het hy maar geleer om so deur die lewe te gaan, met die hand soos ’n wag voor die mond, sou Israel Folau nie so baie mense met sy uitsprake gekwets het nie. Foto: Getty Images

Ag, hou tog jou smoel!

Nadat hy vir ’n ruk uit die kollig verdwyn het, het die voormalige Wallaby Israel Folau seker gedink dis darem bitter neerdrukkend as jou naam nie in elke tweede koerantopskrif verskyn nie.

So toe sê hy sommer die verwoestende veldbrande wat tans dié land teister, is te wyte aan Australië se gematigde wetgewing oor aborsie en selfdegeslaghuwelike.

Voorheen was dronkaards, gays en egbrekers sy teiken. Die keer het hy die veldbrande beskryf as ’n “klein voorsmakie van God se oordeel” omdat aborsies en selfdegeslaghuwelike wettig in Australië is.

Pleks hy as toegewyde Christen eerder sy meegevoel uitspreek met diegene wat naasbestaandes in die verwoestende brande verloor het.

Pleks hy as toegewyde Christen eerder sy meegevoel uitspreek met diegene wat naasbestaandes in die verwoestende brande verloor het.

* Skuimkop wonder waar in die hiernamaals opportunistiese aandagsoekers soos dié opeindig . . .

Ons bly Doer Onder

’n Kollega sê nou die dag die Australiese Rugbyunie het darem flink werk gemaak daarvan om ’n nuwe nasionale afrigter aan te stel ná Michael Cheika se bedanking.

* Met ’n ou soos (Dave) Rennie aan die stuur, sê hy, behoort die Wallabies seker gou van hul Wêreldbeker-sooibrand ontslae te raak.

Meer oor:  Thabang Moroe  |  Israel Folau  |  Proteas  |  Rugby  |  Springbokke  |  Krieket  |  Ksa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.