Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skuimkop: SA rugby moet vinnig spring
Jurie Roux, Saru-grootbaas, moet saam met ander rolspelers ’n oplossing vir rugby se toekoms na Covid-19 kry.Foto: Getty Images

Desperate tye verg drastiese stappe. Met geen einde in sig sover dit die Covid-19-pandemie aangaan nie, is daar al groter druk op die beheerliggame van sport om finansieel kop bo water te hou.

Sport, soos ons dit ken, is tot stilstand geruk.

Al die groot byeenkomste is óf afgestel óf uitgestel. Die jongste slagoffer is die Grand Slam-grasbaantoernooi op Wimbledon.

Geen byeenkomste, geen reekse, geen toernooie beteken geen inkomste vir sportbase.

Die ganse wat die goue eiers lê, die titelborge en die uitsaai-vennote, raak boonop onrustig. Die beleggings wat gedoen is vir wêreldwye blootstelling, lewer geen dividende nie. Dis net ’n kwessie van tyd voor dié kraan finaal toegedraai gaan word.

Boonop het unies en verenigings – net soos maatskappye – se verantwoordelikhede nie tydens die staat van inperking tot ’n einde gekom nie.

Dit in ’n tyd waar die geldkoffers al hoe leër word en geen inkomste gegenereer word nie.

Onderhoudskoste aan stadions en geriewe, werknemers se salarisse en, bowenal, kontraktuele verpligting teenoor duisende beroepsatlete, is steeds ’n werklikheid. Dit in ’n tyd waar die geldkoffers al hoe leër word en geen inkomste gegenereer word nie.

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie sou Vrydag aan unies terugvoering gegee het oor die pad vorentoe. Skuimkop hoop hy het ’n blaadjie geneem uit die boeke van die res van die rugbywêreld.

Besparing in die tyd waar alles stil staan, is nou al hoop om ’n totale finansiële fiasko te probeer afweer.

Spelers in die Engelse Premierliga aanvaar ’n vermindering van 25% in hul salarisse. Die Engelse Rugbyunie gaan nasionale spelers se wedstrydgeld (tans £25 000) drasties sny en Eddie Jones, die span se afrigter, aanvaar ’n vermindering van 25% in sy salaris.

Dieselfde gebeur in Nieu-Seeland en Australië, waar werknemers van die beheerliggaam 75% van sy personeellede gedwing het om drie maande se onbetaalde verlof te neem. Raelene Castle, Rugby Australië se uitvoerende hoof, se jaarlikse salaris (NS$800 000) word ook met 50% gesny.

Wayne Pivac, Wallis se afrigter, en spelers aanvaar ’n 25%-vermindering in hul salarisse en die Ierse Rugbynie oorreed sy spelers om vir eers ’n pro-rata-salaris te aanvaar, wat dan in ’n latere stadium ten volle uitbetaal sal word.

Covid-19 se wurggreep op sport gaan nie in die afsienbare toekoms verslap word nie. Saru moet gou spring om oplossings te vind, want sonder ’n konstante inkomstestroom – borgskappe en TV-uitsaairegte – gaan hy nie veel langer sy verantwoordelikhede kan nakom nie.

Die erns van die situasie kan gesien word omdat die verskillende rolspelers in die plaaslike arena, wat gewoonlik nie almal uit dieselfde beker drink nie, hul verskille (vir eers) eenkant toe geskuif het om saam te praat oor die pad vorentoe.

’n Taakspan bestaande uit lede van Saru, verteenwoordigers van die unies, die vakbond Sport Employees Unite en die spelersorganisasie MyPlayers het oplossings gaan soek.

* Skuimkop hoop dié verenigde front kom met ’n plan vorendag wat werk vir al die mense – werknemers en spelers – wat van ’n inkomste uit rugby afhanklik is.

Roger Federer het al meermale sukses op Wimbledon gesmaak. Teleurstellings ook. Maar nie een so groot soos vanjaar s’n nie, met die nuus dat die grasbaan-Slam tot aanstaande jaar uitgestel word. Foto: Getty Images

Lig gerus die hoed

Ons almal voel die virus aan die bas. Benewens die voor die hand liggende gevaar wat Covid-19 vir ons gesondheid inhou, is daar derduisende Suid-Afrikaners wat ’n inkomste kwyt is tydens die staat van inperking.

Baie sal nie dié terugslag oorleef nie. Die lewe sal nooit weer na die “normaal” wat ons geken het, terugkeer as die verwoestende pandemie uiteindelik verslaan is nie.

Skuimkop wil vandag die hoed lig vir die sportmanne en -vroue vir wie die tyd ’n massiewe teleurstelling en frustrasie moet wees.

As sport jou beroep is en jy word verhoed om dit te beoefen, kan dit jou teen die mure uitdryf.

As sport jou beroep is en jy word verhoed om dit te beoefen, kan dit jou teen die mure uitdryf.

Nog erger vir diegene wat spesifiek voorberei het vir iets soos die Olimpiese Spele, ’n proses wat veronderstel was om oor ’n maand of twee – ná vier jaar se harde werk - ’n hoogtepunt te bereik.

Al daardie harde werk, daardie lang ure vol bloed, sweet en trane, was verniet.

Maar nog nie een sportmens wat die afgelope twee maande in die media aangehaal is, het ’n skewe woord hieroor te sê gehad nie. Trouens, benewens woorde soos “verpletterend” (Roger Federer oor Wimbledon) en “teleurstellend” (omtrent elke ander elite-atleet) was almal se boodskap basies dieselfde.

“Gesondheid is belangriker as sport. Die lewe is belangriker as trofees en medaljes. Covid-19 is nie kieskeurig nie, almal oor die wêreld heen word geraak, is ewe kwesbaar. Daarom moet ons saamstaan as wêreldgemeenskap om dit te oorwin.”

Skuimkop lig die hoed vir dié rolmodelle se positiewe ingesteldheid, ondanks al die opofferings wat nou bloot verniet blyk te wees.

* Bly by die huis. Gehoorsaam die inperking. Wees veilig. Bring gehaltetyd saam met jou geliefdes deur. Bel of Skype jou vriende en hoor hoe gaan dit. Dis geen opoffering nie.

Meer oor:  Roger Federer  |  Jurie Roux  |  Covid-19  |  Skuimkop  |  Olimpiese Spele  |  Wimbledon  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.