Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
SA systap Pieter-Steph-plettervat
’n Bok duisend. Ondanks sy sukses is Pieter-Steph du Toit altyd bereid om met ondersteuners ’n geselsie aan te knoop of ’n selfie te neem. Foto: Getty Images

Daar systap die Westelike Provinsie, trouens Suid-Afrikaanse rugby, toe ’n potensiële nekslag met die nuus dat die Springbok-yster Pieter-Steph du Toit nié ’n kontrak oorsee gaan aanvaar nie.

Dit nadat daar vroeër ter elfder ure verneem is dat hy wel van die omstrede 21-dag-klousule gaan gebruik maak, wat plaaslike spelers die geleentheid gebied het om aanbiedinge van oorsese klubs te oorweeg, sonder enige nagevolge vir hulle.

Die klousule was die gevolg van besparingsmaatreëls waartoe SA Rugby gedwing is in die huidige tyd van finansiële swartgalligheid. Spelers moes salarisverminderings aanvaar om die beheerliggaam te help om sy besparingsteiken van meer as R1 miljard te haal. ’n Senior speler en superster soos Du Toit sou 40% van sy salaris moes inboet.

Nou vra ek jou, gewaardeerde leser, wat sal jou reaksie wees as jou baas vir jou sê jy gaan vir ’n hele paar maande net 60% van jou salarispakket ontvang?

Dit, boonop, terwyl ’n buitemaatskappy jou veel meer aanbied as wat jy tans (sonder ’n besnoeiing) verdien?

Sê jy “ek bly net waar ek is, dankie” of sê jy “gee my daai kontrak dat ek dit kan teken”?

Daar is natuurlik nie ’n reg of verkeerd in die keuses nie.

’n Hele klompie plaaslike spelers het wel die geleentheid aangegryp om klubrugby oorsee te gaan speel. Die geld is goed, daar is werksekerheid en die ondervinding op die speelveld en die blootstelling aan nuwe kulture sou ook die skaal help swaai het. As jy boonop in die plaaslike rugby-opset nie ’n realistiese kans staan om binne die afsienbare toekoms vir die Springbokke uit te draf nie, sou ’n skuif oorsee ’n baie aanloklike opsie gewees het.

Nou vra ek jou, gewaardeerde leser, wat sal jou reaksie wees as jou baas vir jou sê jy gaan vir ’n hele paar maande net 60% van jou salarispakket ontvang?
Skuimkop

Dit is jammer dat ons derhalwe talentvolle jong ouens soos Tyrone Green, Cobus Wiese, Jean-Luc du Plessis, Tyler Paul en Ruan Vermaak aan oorsese klubs moes afstaan. Dis egter ’n loopbaankeuse en ’n geleentheid vir die spelers om hul persoonlike en rugbyhorisonne te verbreed. En daarmee durf ’n mens nie fout vind nie.

Dat dit ’n slag vir plaaslike unies en vir SA Rugby is, kan nie betwyfel word nie. Dit kan borge onrustig stem dat die sterre nie gou plaaslik in aksie gaan wees nie. Hoe groter die name, hoe meer die belangstelling, hoe beter die blootstelling.

Wat Skuimkop terugbring by Pieter-Steph se besluit om eerder te bly. Saam met sewe van sy Stormer-spanmaats wat verlede jaar die Bokke se Wêreldbeker-sukses van stapel help stuur het.

Al voorvereiste wat die ou grote gestel het om te bly, was dat hy ná die Britse en Ierse Leeus se toer aanstaande jaar sy kontrak hier kan heroorweeg. Net dit. Hy het nie vir meer geld of spesiale behandeling gevra nie. Dit terwyl hy miljoene kon verdien deur oorsee te gaan speel.

Verbeel jou hoe handig daardie geld te pas sou kom in ’n tyd waar pres. Nkosazana Dlamini-Zu . . . jammer, Skuimkop bedoel natuurlik pres. Cyril Ramaphosa, die vervaardiging, verkoop en uitvoer van wyn verbied het.

Soos baie wynboere het die Du Toit-familie van die plaas Kloovenburg buite Riebeek-Kasteel waarskynlik ook ernstige houe gevat sedert inperkings en beperkings deel van ons daaglikse bestaan geword het.

So volgende keer as julle vir PSDT sien opdraf, hetsy in ’n Stormers- of Springbok-trui, onthou dit: Hy is meer as die Wêreldspeler van die Jaar.

  • Hy is een van die helde wat SA Rugby in ’n tyd van nood uit sy geldelike verknorsing probeer help het.

Popspeletjies

FC Seoul se ondersteuners neem ’n (af)blaaskans na die wedstryd. Foto: Getty Images

Hoe ’n Suid-Koreaanse sokkerklub nie die verskil tussen ’n sekspop en ’n winkelpop (mannekyn) kan uitken nie, gaan Skuimkop se verstand te bowe.

FC Seoul is vandeesweek met ’n aardige bedraggie deur die spel se beheerliggaam, die K-liga, beboet toe hy ’n 30-stuks van die “verkeerde” poppe ingespan het om sitplekke gedurende ’n wedstryd in sy leë stadion te vul.

Die klub het opgedok en om verskoning gevra oor die voorval wat die K-liga as “neerhalend teenoor aanhangers, veral vroue en gesinne” beskryf het.

FC Seoul erken hy moes die poppe “beter besigtig het”. Skuimkop sidder om te dink wat dit beteken.

Gelukkig was die poppe darem ten volle geklee, ook met maskers oor gapende monde.

Daar is intussen verneem dat die gerugte dat Adult World met die bestuur van SA Rugby in gesprek was om ’n paar dosyn van sy poppe aan plaaslike unies te verskaf van alle waarheid ontbloot is.

  • Ons laat ons nie vir ’n pop vat nie, het ’n anonieme bron glo vanuit bestuursgeledere gesê.
Meer oor:  Stormers  |  Covid19  |  Pieter-Steph Du Toit  |  Sokker  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.