Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skuimkop: Saru-bemarkers soos flêt Coke

Wie is die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se bemarkingsmense en hoe is dit moontlik dat dié spannetjie nog nie ’n nuwe hoofborg vir die nasionale skolerugbytoernooie kon vind nie?

Sedert die gaskoeldrankreus Coca-Cola hom einde 2018 as borg van onder meer die Cravenweek en Grant Khomo-toernooi vir o.16’s onttrek het, is daar nog nie ’n plaasvervanger gevind nie. Hy was vir 34 jaar lank ’n borg.

Is die skrif aan die muur vir nasionale skolerugbytoernooie, wat sedert 2018 sonder ’n borg oor die weg moet kom? Foto: Gallo Images

Goed, Skuimkop verstaan almal moet deesdae die geldgordel stywer intrek en borgskappe is spreekwoordelike hoendertande.

Maar gegewe die oplewing in nasionale rugby ná die Springbokke se glorieryke veldtog in Japan, is dit haas onmoontlik om te dink dat daar nie iewers ’n maatskappy is wat bereid is om geld in die rugbysterre van die toekoms te belê nie.

Óf Saru se borgvereistes is onrealisties óf sy bemarkers sit op hulle hande eerder as om die lyne warm te bel en die drumpels van maatskappye deur te trap op soek na ’n geskikte borg. Enige borg.

Die gevolg is die onkoste vir vanjaar se o.13-Cravenweek en die o.18-Akademieweek sal straks deur die ouers van die seuns wat hul streke verteenwoordig, betaal moet word.

Saru sal steeds die koste vir die o.18-Cravenweek en die o.16-Grant Khomo-toernooi dra.

Vir die o.13’s en Akademieweek om voort te gaan, sal ouers, unies of skole meer as R3 000 per kind moet hoes. Dan ook nog betaal vir die vervoerkoste na die gasheerskool. In die o.13’s se geval is dit reiskoste na Johannesburg. Die Akademietoernooi word in Port Elizabeth beslis.

Dis mos nie regverdig nie. Jy moet nou betaal omdat jou kind talentvol genoeg was om uit honderde kandidate vir ’n verteenwoordigende span gekies te word!

So beroerd is dit sonder ’n behoorlike borg, dat unies tot 14 Februarie het om te bevestig of hulle wel spanne sal stuur om aan die toernooie deel te neem.

Die Suid-Afrikaanse Skolerugbyvereniging pleit dat unies wel die nasionale weke ondersteun.

Dis in belang van rugby om die momentum te behou, sê hy. As die wiele nou afkom, gaan dit skolerugby skade berokken.

Dalk moet Saru se bemarkingspan ook ’n sperdatum gegee word om ’n borg te vind.

* Meer as ’n jaar het verloop sedert Coke gegroet het. Dinge kan mos nie so borgloos aantorring nie?

Vuil uile

Nog ’n stywe armpie, nog ’n hoogvat. Die Hurricanes was daarop uit om die Stormers met ongeoorloofde spel te probeer ontsenu. Foto: Gallo Images

Skuimkop was hoog in sy skik met die Stormers se openingsalvo in vanjaar se Superrugby-reeks.

Maar wat ’n klomp skobbejakke is die Hurricanes nie!

Die Nieu-Seelanders was daarop uit om met onderduimse taktiek, gewoon vuilspel, die Kapenaars te probeer ontsenu.

Ofskoon dit nie gewerk het nie, sit die afrigter, John Dobson, nou vroeg reeds met beserings wat van sy spelers opgedoen het juis oor die Hurricanes se “taktiek”.

Siya Kolisi is duidelik laat geloop en sy gevolglike kniebesering sal hom tot agt weke op die kantlyn hou. Pieter-Steph du Toit is vir “spesiale behandeling” uitgesonder. Seabelo Senatla is ’n keer of wat aan sy rastalokke beetgekry.

Die Canes is twee keer met geelkaarte gestraf, maar dit was nie die einde van hul geniepsigheid nie.

’n Mens moet onwillekeurig vra wat Sanzaar se oplossing vir sulke tipe negatiewe spel is.

Moet die skuldiges wat opsetlik beserings veroorsaak, soos Ricky Riccitelli in Kolisi se geval, nie outomaties met ’n skorsing gestraf word nie?

* Ons is almal ten gunste van harde, ongenaakbare rugby. Maar berekende en opsetlike geniepsigheid is ’n onkruid wat ’n vinnige gif kort.

Die Bek van Brighton

As Eddie Jones dié toebek-beleid volg, sal sy span waarskynlik ook onder minder druk opdraf weens sy omstrede uitlatings. Foto: Gallo Images

Gepraat van gif. Eddie Jones se giftong is besig om ’n groot verleentheid in Engelse rugby te word.

Daar gaan nie ’n week verby wat die afrigter van Engeland nie een of ander omstrede uitspraak maak nie.

Hy gaan Engeland se beste span in die geskiedenis van rugby maak. Sy span gaan Frankryk wys wat harde, wrede toetsrugby is (toe nie!). Skotland is ’n span wat hou van geniepsige spel en probeer altyd sy teenstander op dié manier uitlok, eerder as om eerlike rugby te speel.

Dís enkele van die Jones-uitsprake sedert die aanvang van die Sesnasies-reeks.

Nou ja, ons het Eddie se gesiggie gesien ná die eindfluitjie in Jokohama op 2 November verlede jaar. Hy was bra bleek om die kiewe. Die Springbokke het hom skoon stil gespeel.

* Skuimkop se raad aan Eddie: Klop eers weer ’n span of twee voordat jy jou mond oopmaak. Verbale diarree gaan nie vir jou wedstryde (of vriende) wen nie.

Meer oor:  Cravenweek  |  Stormers  |  Eddie Jones  |  Skuimkop  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.