Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skuimkop: Sê ’n skietgebedjie vir Div op

Kyk, die kanse is skraal, maar as jy bloot onlangse vertonings in ag neem, behoort die Westelike Provinsie se krieketspan nie volgende seisoen in die nuwe voorgestelde topliga te speel nie.

Krieket Suid-Afrika het vandeesweek gesê die aankondiging oor wie die voorste agt spanne in die nuwe provinsiale reeks gaan wees en watter sewe in ’n laer liga gaan meeding, sal Maandag gedoen word.

Ashwell Prince dink diep oor sy rol as afrigter van die Kaapse krieketspan, wat keer op keer die afgelope paar seisoene gestruikel en geval het. Foto: Gallo Images

Al die provinsies moes einde Februarie ’n bod ingedien het waarin uitgestippel is waarom hulle een van die agt uitverkorenes moet wees.

Die nuwe provinsiale stelsel vervang die bestaande ses franchises. Die 15 provinsies sal dan in ’n vierdag- en eendagkompetisie speel en aan die einde van die tweede seisoen, sal daar promosie/relegasie tussen die twee ligas wees.

Het ’n span se vertonings die afgelope seisoen die grootste gewig gedra in die besluit oor waar deelgeneem gaan word, is Skuimkop bevrees was dit kortpad na Afdeling B vir die WP.

Ten gunste van ’n span soos die Boland, byvoorbeeld, waar die Paarl Rocks in die kortstondige Mzansi-superliga groot sukses behaal het en daar keer op keer vol stadions was om die span te ondersteun.

Op Nuweland was daar (voor Covid-beperkings, natuurlik) benewens die spanne en die veldpersoneel skaars mense as die tuisspan speel. Miskien ’n paar dronkerige Ikey-studente wat klas bank vir die dag, enkele bejaardes in die ledepaviljoen (want die gin & tonics is goedkoop vir klublede), ’n vasberade roomysverkoper of twee.

Die Cobras was die afgelope twee seisoene ’n nul op ’n kontrak in alle formate van die spel.

Daar is ’n klaaglike gebrek aan leierskap in die raadsaal (die posisie vir ’n uitvoerende hoof van die WP-krieketunie is nog nie eens geadverteer nie!) Daar is ’n drastiese tekort aan ervare, senior spelers wat die span oor die wenstreep moet kry. Daar is kommerwekkende vrae oor Ashwell Prince se voortgesette breiersrol.

Maar twee goed gaan waarskynlik die unie se bas red.

Eerstens, en heel ironies, is dit Nuweland. Dit bly een van die grootste krieketstadions in Suid-Afrika. Een met toetsstatus en ’n ryk geskiedenis. Dit dra gewig.

Tweedens gaan dit oor geldsake. Die WP s’n is behoorlik beroerd, maar nie so beroerd soos van die ander kandidate wat moontlik die topagt kan haal nie. Sommige van hulle – soos die Grens en Noordwes – is tans onder administrasie by KSA.

So, die WP sal in alle waarskynlikheid die topagt haal. Maar hier is hoekom Skuimkop dink hy nie ’n duik in ’n nat bruinbrood sal maak in die kompetisie nie.

Maar hier is hoekom Skuimkop dink hy nie ’n duik in ’n nat bruinbrood sal maak in die kompetisie nie.

Die unie sleep sy voete wat die kontraktering van spelers en die identifisering van talent betref.

Ofskoon provinsies nie nou al met spelers kan onderhandel oor kontrakte nie – dié is eers “toelaatbaar” as die topagt Maandag aangewys word – kan jy maar as feit aanvaar dat daar lank reeds so onder die tafel langs ietsie in spelers se ore gefluister is.

Feit van die saak is, met ’n rigtinglose raad aan die stuur, ’n feitlik leë geldkoffer waaruit aanloklike kontrakte nou opgetower moet word en ’n futlose vertoning op die veld, gaan al hoe meer WP spelers aanbiedinge van elders oorweeg.

En dié wat nog ’n Cobras-kontrak het, gaan dalk die Boland of Suidwestelike Distrikte as alternatief kies as die venstertydperk vir kontraktering Maandag open.

Dat ’n klompie ervare Suid-Afrikaanse Kolpak-spelers weer beskikbaar is om hier te speel, bring min hoop. Drie oud-Cobras (Stiaan van Zyl, David Bedingham en Dane Paterson) tel onder hulle en die trio kom met groot ervaring. Maar die WP gaan gewis nie al span wees wat om hul dienste gaan flikflooi nie.

So kortom: Die WP sal in Afdeling A meeding, maar verwag tandelose vertonings. Meer blaf as byt.

’n Jammerte eintlik, want Skuimkop reken die enigste doepa wat die WP weer op koers sal kry, hom ’n nodige skop onder die agterwêreld sal gee, is juis om hom na Afdeling B te drop.

Div in die doodsakker

Peter de Villiers van die OP in gesprek met die Bulle se Jake White voor die Olifante laas Sondag op Loftus afgeslag is. Foto: Gallo Images

Van bankrot-boedel gepraat, sê tog ’n skietgebedjie vir Peter de Villiers en sy Oostelike Provinsie Olifante op vir die res van die “voorbereidingsreeks”.

Skuimkop het nog altyd van ou Snorre gehou. Hy is gewoonlik vermaaklik en soms vermakerig. Maar sy hart vir die spel is so groot soos ’n ou Springbok nr. 5-bal, daais wat nog van leer gemaak is, na Dubbin ruik en later sulke skeefgetrekte nate het van op die witgerypte laerskoolvelde van die Boland beland.

Ja, so ou Peter het dalk ’n politieke chip of twee op die skouer en hy praat soms sy mond verby, maar dat hy die spel dien, staan nie te betwyfel nie.

Nou moet sy span met beroepsmanne meeding. Tot sy beskikking is ’n klompie rank amateurs, spelers gewoond aan laer ligas, hier en daar ’n klubspeler of drie.

Ons het reeds gesien hoe dit teen die Bulle afgeloop het. En dit gaan nie beter raak nie.

Selfs ’n aanbod van die WP vir leenspelers uit die Kaap, is tans nie vir Div ’n opsie nie. Die OP-unie het bloot nie geld om die ouens in ’n hoëprestasie-omgewing te vestig en van ordentlike blyplek en toegang tot gimnasiums te voorsien nie.

Maar hoe sê hulle? Wat jy saai sal jy maai. Cheeky Watson se katastrofiese nalatenskap in die provinsie laat Skuimkop se bloed van voor af kook.

So, sterkte coach. As jy hier ’n haas uit die hoed kan pluk, selfs een ou brandmaer hasie, kan jy maar kwytraak net wat jy wil.

Meer oor:  Cape Cobras  |  Jake White  |  Peter De Villiers  |  Nuweland  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.