Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skoppers, staal jul vir ‘Barrett-effek’

Die All Black Beauden Barrett ’n vuige skelm? Hokaai nou! ’n Opportunis dalk. ’n Kansvatter. Soos die meeste invloedryke Kiwi’s wat al die beroemde swart trui oor die kop getrek het.

Kalm bly nou, Beaudentjie, kalm bly... die ref het jou nie gesien nie. Foto: Getty Images

Dink maar aan ou Sean Fitzpatrick, wat gedurig ’n woordjie in die skeidsregter se oor te fluister gehad het. Of Richie McCaw, wat in die grysgebied tussen onkant en aankant die gang van toetse geswaai het.

Barrett is nou ’n skelm nadat hy in laas Saterdag se rugbytoets teen die Springbokke ’n paar meter “gesteel” het voor ’n skop pale toe.

Hy het met voet die bal ’n tree of twee nader aan die doelpale getik toe die skeidsregter sy rug op hom gedraai het.

Die skop was oor en die Kiwi’s was met 10-6 voor in ’n toets wat uiteindelik met 16-16 gelykop geëindig het. Of die naderskuif-skoppie ’n invloed gehad het op die uitslag, is debatteerbaar.

Skuimkop beskou dié daad nie soseer as “skelm” nie.

Barrett het ’n geleentheid gesien en dit aangegryp. Gewis nie ’n sportiewe daad nie. Maar as jy als in jou vermoë sal doen om jou span te laat wen, is drastiese stappe soos dié seker nie verregaande nie.

Veral as jy wegkom daarmee. En báie spelers kom weg daarmee, nie net All Blacks nie.

Twee dinge kan in die nadraai van die voorval aangeroer word.

Eerstens reken Skuimkop Barrett het tot die gewraakte daad oorgegaan omdat dit tekenend is van ’n speler wat ernstig wroeg met sy selfvertroue as hy die bal vir punte op die kegeltjie moet staanmaak. Sy slaagpersentasie met stelskoppe in toetse het verlede seisoen net-net 70% gehaal.

Teen die Bokke in Wellington het hy sitters gemis.

Tweedens, en belangriker selfs, is dat skeidsregters ná dese stelskoppers straks met arendsoë gaan dophou as die bal geplaas word. Die gebruik van verdwynskuim – soos in sokker – is nie onwaarskynlik nie.

Ofskoon Wêreldrugby die debat oor Barrett se naderskuif-skoppie flink gesystap het, glo Skuimkop ’n vermaning hieroor is deur die kanale aan die blaserskorps oorgedra. Wees op julle hoede, ons kan nie so iets ongesiens laat verbygaan nie. Vernaam nie in ’n Wêreldbeker-jaar nie.

* So aan al daai stel-, lyn-, in- en tikskoppers: julle het die “Barrett-effek” te blameer as julle voortaan vasgevat word omdat die merkie met ’n tree of drie verontagsaam is.

Ubuntu, boetie!

Skuimkop was tranerig-trots op die jong swemmer Zane Waddell, wat by die afgelope Wêreldbyeenkoms in Suid-Korea verras het met sy goue medalje in die 50 m-rugslag.

Jou yster! Zane Waddell, trots Suid-Afrikaans, dra goud om sy nek. Foto: Getty Images

Ofskoon dit nie ’n Olimpiese item is nie, het die 21-jarige buiteperd by sy eerste Wêreldbyeenkoms die gunstelinge ore aangesit om Suid-Afrika se medalje-oes op vier te staan te bring.

Tatjana Schoenmaker het vroeër silwer in die 200-borsslag verower en Chad le Clos brons in die 100- en 200-vlinderslag. Chad se twee bronse, terloops, ondanks ’n liesbreuk.

Waddell is ’n student aan die Universiteit van Alabama in Amerika. Sy aksent verklap dat hy al geruime tyd in die land is.

Sy tatoeëermerke wys egter waar sy hart lê. Die Protea-wapen op sy linkerarm. Die woord ‘Ubuntu’ op sy ribbekas daarnaas. Dit verwys na deernis, medemenslikheid. Of: “Ek is danksy wie ons is”.

Terug vir ’n blitskuier by sy ouerhuis in Bloemfontein ná sy triomf sê die nuwe wêreldkampioen iets wat Skuimkop nog dieper roer as sy goue verrassing.

“Ek is so trots om ’n Suid-Afrikaner te wees. Al was dit net nog ’n 50 m-rugslag, kan jy mense se lewens deur swem verander. Jy kan ’n nasie verenig.”

* Mag dié nederigheid jou nog ver bring, Zane Waddell. In en buite die swembad.

Groot respek

Steve Smith is ’n gróót kolwer. Figuurlik gesproke. Hy staan letterlik net 1,75 m in sy krieketsokkies, maar ná sy vertoning Donderdag, op dag een van die eerste toets in die reeks om die As, is hy ’n reus. Skuimkop dink hy verdien respek.

Daar was toe lig aan die einde van die donker toetstonnel vir die manjifieke Steve Smith. Foto: Getty Images

Sy naam behoort voortaan in die Oxford Dictionary ingesluit te word as ’n sinoniem vir woorde soos “vasberade”, “verbete”, “onverskrokke” en “onversetlik”.

Dit was sy eerste toets in 15 maande. Sy aandeel in die berugte balpeuteryskandaal was ’n juk op sy skouers. Hy was van begin tot einde ’n teiken vir die Engelse boulers en die vyandige tuisskare.

* Met kolfmaats wat soos vlieë om hom val, het Smith met 144 lopies gewys hoe opwindend toetskrieket is as jy verseg om onder druk te swig.

Meer oor:  Beauden Barrett  |  Zane Waddell  |  Steve Smith  |  All Blacks  |  Skuimkop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.