Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skuimkop: Skrif aan muur vir SA krieket
Twee wyse manne van Krieket Suid-Afrika, Chris Nenzani en Beresford Williams, kan nog nie oor Thabang Moroe se toekoms help besluit nie. Maar Jacques Faul s’n is duidelik soos daglig. Foto: Gallo Images

Nou hier is ’n gawe idee vir die krieketbase in Suid-Afrika: pos Thabang Moroe oor hy duidelik nie die mas kon opkom nie (dis bevestig ná ’n onafhanklike forensiese ondersoek) en stel vir Jacques Faul permanent as uitvoerende hoof aan. Dalk besluit hy dan om te bly?

Krieket in Suid-Afrika het Faul nodig. Nou meer as ooit tevore.

Krieket Suid-Afrika (KSA), daarenteen, skynbaar nie.

En selfs al erken KSA hy is nodig, kan niks aan die saak gedoen word nie. Faul kán nie voltyds aangestel word (soos dit hoort) nie, want die KSA-raad hét reeds ’n uitvoerende hoof.

Thabang moes in Desember al die trekpas gekry het, maar hier is hy steeds, geskors met volle salaris.

As waarnemende uitvoerende hoof van die beheerliggaam – en beheer is in dié geval ironies bedoel, want voor sy koms was daar niks hiervan te bespeur nie – het Faul ’n bankrotboedel geërf en stadig maar seker KSA se naam uit die modder help lig. Hy het as’t ware die “eer” in beheer teruggebring.

Nou enigeen sal vir jou sê sonder onwrikbare, doelgedrewe leierskap sal geen entiteit, geen onderneming of maatskappy, vir lank oorleef nie. Jy kan dit as feit aanvaar, sonder ’n graad in ekonomie of ’n MBA agter jou naam.

’n Betroubare, standvastige leier kweek selfvertroue, ’n geloof in gemeenskaplike sukses, lojaliteit. Selfs, of veral, in tye van nood. In krisistye.

Faul het die vuil doeke wat Thabang agtergelaat het, uitgewas, die KSA-koliekbaba medisyne ingejaag en gesus. Dit terwyl hy dwarsklappe van links en regs moes trotseer, ’n kwesbare suigeling teen ’n vreesaanjaende virus moes beskerm. Stelselmatig het hy weer vrede in die huishouding herstel.

Maar ons leef in ’n droomwêreld as ons gedink het sy dade gaan geloof word. Ná jare weet ons van beter.

Aan die een kant van die spektrum word gesê Faul is te wit vir dié senior bestuurspos, aan die ander kant dat hy ’n ruggraatlose, meeprater is oor KSA se steun aan die Black Lives Matter-beweging.

Damned if you do, damned if you don’t, soos die Engelsman sê.

Intussen trap KSA water oor Moroe. Die raad, by name Chris Nenzani (president), Beresford Williams (adjunkpresident), Angelo Carolissen, Donovan May, Tebogo Siko, Zola Thamae en John Mogodi, is seker te bang om hom in die pad te steek. Dit sal soos politieke selfdood vir een en almal wees.

Skuimkop kan Faul dus nie kwalik neem dat hy nou sy hande ontsmet ná al die KSA-ekskrement wat hy moes hanteer en terugkeer Centurion toe nie – daar waar hy darem na waarde geskat word, nie na velkleur nie.

Dis net jammer dat ons hierdie vaandeldraer in die voorste loopgrawe gaan verloor. Benewens Dave Richardson, dalk Tony Irish, die gerespekteerde gewese hoof van die spelersvereniging, kan Skuimkop nie aan iemand dink wat bevoeg genoeg is om dié onbeteuelde perd mak te ry nie, maar Dave en Tony weet van beter!

So dankie, Jacques, vir jou toewyding in belang van krieket. Ná jou vertrek is onsekerheid weer SA krieket se voorland. Die skrif is aan die muur.

My magtig

Die Britse politikus lord Acton het destyds iewers in die 19de eeu daai groot wysheid kwytgeraak wat tot vandag toe resoneer: power corrupts; absolute power corrupts absolutely.

Basies beteken dit hoe meer mag jy kry, hoe minder gee jy om oor ander. Jy beskerm bloot jou eie belange. Botter jou broodjie aan albei kante.

Wat gaan Zelt Marais en die raadsmanne besluit oor ’n moontlike belegging in die WP Rugbyunie? Mag ons aangenaam verras word. Foto: Gallo Images

Skuimkop het hieraan gedink na die nuus oor die Amerikaanse sakeman Marco V. Masotti, wat onlangs gesê het hy en sy vennote wil nagenoeg R100 miljoen in Westelike Provinsie Rugbyunie belê – R67 miljoen in die sakevleuel en R33 miljoen in die unie self.

In ruil hiervoor: die beherende aandeel in die sakevleuel se direksie.

Die WPRU was nie hiervoor te vinde nie. Het julle (die media) sy sakeplan en omkeerstrategie gesien? Wie gaan bedryfsbestuur hê? Wie gaan op die direksie dien? Dis die vrae waarmee die unie se president, Zelt Marais, berigte hieroor begroet het.

Masotti sal nie ’n sent belê sonder ’n beherende aandeel op die sakevleuel se direksie nie, maar hierin lê die probleem. Die WP klubs se verkose beamptes, amateur-administrateurs, wil beheer oor beroepsrugby behou.

Dat die unie kan doen met ’n paar miljoen, is nie te betwyfel nie. En is dit nie wat op die ou einde saak maak nie? Borgskappe en TV-regte alleen gaan nie die wolwe van die deur weghou nie. Jy moet nuwe beleggers met nuwe idees en kundigheid betrek.

So die minste wat die WP kan doen, is om Masotti se voorstel ernstig op te neem, nie waar nie? Doen ’n noulettentheidsondersoek.

Ja, maar as ons instem, dan het ons nie meer volle beheer nie. Ons het nie meer die mag nie, hoor Skuimkop die bestuurslede brom.

Dan gaan iemand anders ons besluite kan afskiet, ons tydig en ontydig tot orde roep, sy neus in ons sake kom druk. Dit kan ons tog sekerlik nie toelaat nie? Ná al die jare waarin ons die tamboer geslaan het!

Tja, mnr. Masotti moet maar liefs sy geld by ’n ander unie belê, dalk in KwaZulu-Natal, waar hy gebore is.

Skuimkop vermoed die WP-ringkoppe sal sy sakevoorstel as potensiële magsbedreiging van die tafel vee.

Meer oor:  Ksa  |  T20  |  Wpru  |  Toetskrieket  |  Eendagkrieket  |  Proteas  |  Skuimkop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.