Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Slaan KSA sy paaltjies raak met dié projek?

Soos Willem Wikkelspies se Hamlet destyds met To be, or not to be, that is the question” oor lewe en dood gepeins het, kan ons in plaaslike sportverband ook seker mymer “om politiek korrek te wees, of nie, dit is die vraag”.

Sê jy een ding op een manier, beledig jy seker een honderd en een mense op een of ander manier.

Sê jy niks, beledig jy 70 maal sewe mense op oneindige maniere.

Ja, reg en geregtigheid moet geskied voor die finale punt ná die slotsin van die eindparagraaf in Die Boek oor die Verlede geplaas kan word.

Daar gaan gepraat word oor diskriminasie van die verlede in krieket. Maar gaan daar iets gedoen word om dit in die toekoms te verhoed?Foto: Twitter

Maar hoe dit geskied en wat dit eindelik bydra tot die groter prentjie is wat Skuimkop laat tob oor politieke korrektheid. Of dan die begin en einde daarvan.

Krieket Suid-Afrika het glo R5 miljoen bewillig vir sy projek vir sosiale geregtigheid en nasiebou (SJN). Dit kom neer op openbare transformasie-sittings vir mense wat beweer daar is oor die jare heen in hul betrokkenheid by die spel teen hulle gediskrimineer.

Die beheerliggaam se onafhanklike transformasie-ombudsman, adv. Dumisa Ntsebeza, sê ’n bietjie meer as vier dosyn skriftelike voorleggings is ontvang van mense wat aanvoer hulle was die slagoffers van diskriminasie in krieket.

Dr. Eugenia Kula-Ameyaw, wat verlede jaar as KSA-raadslid bedank het ná groot druk deur Nathi Mthethwa, minister van sport, sal in die eerste van dié sittings ’n spreekbeurt kry.

Die SJN-projek en die ombudsman se aanstelling was destyds haar idee.

Sy was later (onder meer) in die sop oor sy sonder toestemming druk uitgeoefen dat ’n advertensie (teen R521 000) in die Sunday Times geplaas word om die SJN-projek te bemark.

Einste Eugenia wat verlede jaar daarop aangedring het om ’n sê in die Protea-spankeuses te hê.

Ofskoon die edel gedagtes van skulderkenning en -aanvaarding die proses begin en als in ’n ideale wêreld eindig met cleansing en heling, moet ’n mens wonder of dit enigsins iets gaan bydra tot die oplossing van die bestaande, pertinente probleme in plaaslike krieket.

Moet ou koeie uit die sloot gegrawe word ter wille van politieke korrektheid, of moet die fokus eerder wees om die klein jakkalsies wat die wingerd verniel, voor stok te kry?

En as ons sou hou by politiek korrek wees, is die vraag of daar oor 20, 30 jaar van nou af ook ’n tipe SJN sal wees vir spelers en beamptes wat voel hulle was die slagoffers van omgekeerde diskriminasie?

Duister doelwit voorwaar

Nes ons gedink het ons kan weer die lippe bo die rioolwater lig en asem skep ná KSA se lederaad en tussentydse raad ’n vredespyp gerook het, kom die nuus dat die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) nie te vinde is dat die beheerliggaam se nuwe grondwet deur die 14 uniepresidente (die lederaad) goedgekeur is nie.

Die goedkeuring, ná maande se geheen-en-weer, beteken die meerderheid van die bestuur sal voortaan uit onafhanklike lede – dus raadslede wat nie ook in die lederaad dien nie – bestaan.

Saskok se main konyn, Barry Hendricks, sê die KSA-debakel wys jou die gevare van regeringsinmenging. Hy verwys na Mthethwa wat die tussentydse raad aangestel het juis om KSA se probleme uit te stryk.

Volgens baas Barry is die lederaad se gesag en regte om belangrike besluite te neem, soos wie die leiers moet wees, deur Nathi se ingryping verdag gemaak. In die gedrang gebring. Volgens baas Barry is die lederaad “tot oorgawe gedwing”. En al wat Saskok wil doen, is om KSA as een van sy lede “te beskerm”.

Sport, hou Barry-hulle vol, moet immers deur sportmense bestuur word.

Ag puh-leeze, soos die millennials sal sê.

Dit gaan die verstand te bowe as jy probeer uitpluis wat Saskok met dié tipe bogpraatjies probeer bereik. Dis gewis nie ’n konstruktiewe bydrae nie. Inteendeel . . .

Al wat Saskok vermag het, is om die broodnodige positiewe gevoel, wat plek-plek posgevat het na die aanvaarding van die nuwe grondwet, te ondermyn.

Op die podium

James Moloi sê hy gaan atletiek in SA op die TV kry. En die borge inbring. Die tyd sal leer of hy bloot lugkastele bou. Foto: Gallo Images

En daar steek James Moloi toe vir Aleck Skhosana in die pylvak verby om Atletiek Suid-Afrika (ASA) se nuwe president te word, ongeag die mooi broodjies wat hy voor die verkiesing gebak het oor wat hy in sy volgende termyn gaan doen sodat die sport weer plaaslik tot sy reg sal kom.

Skhosana se gesloer om die atletiekseisoen in 2020 te laat hervat, nadat die nasionale staat van inperking weens die Covid-19-pandemie verslap is, het hom sy setel gekos.

Moloi moet nou wys hy is die leier wat oor die hoë hekkies kan seil.

Borgskappe, televisiedekking vir atletiek, ondersteuning aan provinsies wat in erge geldnood verkeer en ’n toeganklike kommunikasiekanaal tussen die beheerliggaam en sy lede is enkele van sy uitdagings.

Hy gaan met munisipaliteite praat en hoor waar hulle (met die oprig van geriewe) kan help, sê Moloi. Dit, kan Skuimkop hom nou al for free sê, gaan nie gebeur nie.

Die meerderheid ploeter weens wanadminstrasie, power dienslewering, korrupsie en onbevoegde personeel reeds tussen slaggate, kragonderbrekings en protes-aksies deur. Tartanbane en lugverkoelde kantore sal nie hoog op hul voorkeurlys wees nie.

Maar laat ons nie onnodig doemprofete wees nie. Moloi was ’n langasem op sy dag. Dalk verras hy ons met sy uithouvermoë.

Meer oor:  Ksa  |  Transformasie  |  Asa  |  James Moloi  |  Saskok  |  Skuimkop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.