Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skuimkop: Soesji Sondag op spyskaart

Ja, natuurlik is daar ’n bietjie senuwees voor die naweek se groot rugby. Die spook van 2015 is nog iewers in die agterkop, daardie Bekslag in Brighton.

Skuimkop glo egter daar is Sondag soesji op die spyskaart, nie springbokbiltong nie.

Veels geluk, Kaptein! Kom ons vat hom nou vas in die pylvak. Rassie Erasmus en Siya Kolisi skud blad in Japan. Foto: Getty Images

Ongeag wat in dié kwarteind gebeur, verdien die Japannese die grootste respek. Om Ierland én Skotland in die groepfase om te dop, sit nie in elkeen se rugbybroek nie. Die tuisspan het in elke kragmeting soos kamikaze-vegters hul lewe op die spel geplaas.

Tog sou Rassie Erasmus vir dié scenario beplan het. Nou moet ons bloot vertrou dat die breier en sy troepe opgewasse is vir die uitdagings in die pylvak.

Dus: Bokke vir die wen, voorspel Skuimkop.

Sewe van die agt breiers was in aanloop tot die uitklopfase baie diplomaties oor hul spanne se kanse en het die heuningkwaste uitgehaal om die teenstanders te loof.

Almal behalwe Michael Cheika, natuurlik. Die ou korrelkop het sommer reguit gesê hy steur hom nie veel aan ontledings van teenstanders nie. Wat in vorige wedstryde gebeur het, is gedane sake. Om terug te kyk gaan jou net ’n seer nek gee, sê Cheika.

Skuimkop hoop die Australiese breier vind met die vorentoekyk ’n plan om Eddie Jones se gevaarlike Engeland te klop. Albei spanne het redelik onder die radar hul ding gedoen, synde die fokus meestal op die tuisnasie, die All Blacks en die Bokke was.

So die voorspelling is: Wallis gaan die Franse Hane se stertvere pluk. Die Wallabies gaan Engeland skok. En Ierland gaan die bykans onmoontlike vermag en die All Blacks huis toe stuur. Al lyk laasgenoemde twee scenario’s na blote wensdenkery.

* Maak ons trots Bokke! Suid-Afrika het ’n dringende hupstoot in die kollektiewe moreel nodig.

Slaan die bál, Aiden!

Ek het kop verloor. Dalk vind ek dit hier êrens in my kopskerm. Aiden Markram doen ’n bietjie selfondersoek ná sy vloermoer.Foto: Gallo Images

’n Moedswillige kollega wonder vandeesweek hardop of die Protea-kolwer Aiden Markram nie met voorbedagte rade sy woede op ’n “soliede voorwerp” uitgehaal het wat tot sy polsgewrig-besering gelei het nie.

Die detail van wat presies in die kleedkamer gebeur het nadat die kolwer nogmaals daarin misluk het om toetslopies teen Indië aan te teken, is bra skraps.

Dis nie duidelik of hy, soos die Aussie Mitch Marsh, ’n muur met sy vuis bygekom het nie. Dalk het hy uit pure frustrasie met sy kolf iets gemoker.

Hoe dit ook al sy, die lawwe daad het tot sy besering gelei en dus mis hy die derde toets wat Saterdag op die subkontinent begin. ’n Mens kan hom beswaarlik kwalik neem, indien dit met opset was.

Ná tellings van 5, 39, 0 en 0 sou Skuimkop ook ’n besering wou opdoen voor sy volgende kolfbeurt.

Die soliede voorwerp wat Markram lanklaas getref het, is ’n krieketbal.

Oor die Proteas se vertoning op toer, is daar nie veel te sê nie. Dis goed en wel as ’n span verloor nadat hy alles in die stryd gewerp het teen ’n beter teenstander. Maar ’n gebrek aan vegtersinstink en vasbyt met die rug teen die muur, is geheel onverskoonbaar.

* Daar is wurms in die wortelstelsel van die Protea. Dit voorspel maer jare sonder blom. Iewers moet daar ’n Keith Kirsten van krieket gevind word om die misoes te red.

Vat dit Easy, ou grote

Nee, ons lig die hoed vir jou, Ernie Els. Veels geluk en dankie vir die goeie herinneringe. Foto: Gallo Images

Skuimkop dra graag sy gelukwensing oor aan Ernie Els. Hy het vandeesweek 50 jaar oud geword.

Dalk kan hy aan die Protea-kolwers verduidelik hoe ’n mens by 50 uitkom?

Die Big Easy sal as bonus in middel November weer by Sun City aantree vir die Nedbank-uitdaagtoernooi, wat hy in 1999, 2000 en 2002 gewen het.

Ons verwag nie ’n vierde kroon van hom in Afrika se “Grand Slam” nie. Bloot daardie breë glimlag en seepgladde swaai waarmee hy ons oor die jare vermaak het.

* Baie geluk, ou grote. Mag die hangore nie te erg wees ná die partytjie nie. En mag jy eersdaags groot sukses in die PGA-reeks vir seniors behaal.

Hou maar dop…

Japan se opgang in die rugbyarena is noemenswaardig. Is krieket die volgende sport waarin die land gaan uitblink?

Dis vraag kan gevra word nadat die land se o.19-span vir aanstaande jaar se o.19-Wêreldbeker-toernooi in Suid-Afrika gekwalifiseer het.

Destyds was die Brave Blossoms ’n melkkoei op die rugbyveld. Hulle is geen kans gegun nie. Nou wonder ons of die magtige Springbokke hulle in die kwarteindronde van die WB-toernooi kan klop!

* So, hou maar die krieketspan dop. Dit sal aanvanklik sukkel. Maar Japan is kennelik ’n nasie wat nie bes gee totdat hy sukses behaal het nie.

Meer oor:  Ernie Els  |  Rassie Erasmus  |  Wêreldbekerrugby  |  Skuimkop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.