Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Spele-reëls atlete se beproewing

’n Mens moet die atlete jammer kry wat vanjaar vir die Olimpiese Spele in Tokio aanmeld. Buitengewone omstandighede gaan die sowat 11 000 van hulle noop om streng protokolle te volg.

Daar word maande reeds geredekawel of sport se naasgrootste skouspel wel vanjaar moet voortgaan in die lig van die koronavirus-pandemie, wat skynbaar net nie sy ry kan kry nie.

Shelby Houlihan sê dis die vark-burrito wat haar positief laat toets het. Maar skiet sy spek? Foto: Getty Images

Die meeste Japannese sê “orinpikku en no no orinpikku”. Volgens Siri op Skuimkop se foon beteken dit “No to Olympics”, ingeval iemand gewonder het.

Die Japannese regering en die Spele se reëlingskomitee hou egter voet by stuk. Daar sal ge-Spele word.

Met die verloop van (’n lang-lang) tyd het woorde soos masker, handreiniger, sosiale afstand, bioborrel, aandklokreël en drankverbod (verál!) deel van ons woordeskat geword.

Ons word daagliks hiermee gebombardeer en ongeag hoe doeltreffend of ondoeltreffend ons regering se aanslag is om die virus te bekamp, voel dit asof die einde nie in sig is nie.

En nou moet atlete, wat in elk geval onderbroke voorbereiding vir die Spele moes verduur, met hul aankoms op die Tokio-lughawe ’n dik reëlboek – die derde een wat die organiseerders saamgestel het – byderhand hou waarin al die moets en moenies uiteengesit is. Ofskoon dit meer moenies as enigiets anders is.

Moenie met enigiemand praat nie, nie in hysbakke, huurmotors of op straat nie. Trouens, vermy openbare vervoer geheel en al en bly weg uit die winkels. Geen inkopies, geen besoek aan besienswaardighede in die stad nie. Gaan na die akkreditasie-toonbank, kry jou toegangskaartjie, gaan dan na jou blyplek en wag daar vir jou kans om deel te neem.

Eet op jou eie of sit ten minste twee meter weg van ’n ander eter.

Daaglikse koronavirus-toetse is verpligtend. Vir hoe lank jy ook al in Tokio is, sal daar élke dag ’n wattestokkie diep in jou neusholte opgedruk word. Heerlike vooruitsig.

Oortree dié reëls en ’n boete of diskwalifikasie is jou voorland. Jy sal van jou medaljes gestroop word en herhaalde oortredings kan selfs tot deportasie uit Japan lei.

Sjoe, klink meer soos iets wat Heinz G. Konsalik sou kon skryf – Strafkamp in die Ooste. Allermins ’n gasvrye Spele-stad.

Kan nie lekker wees vir atlete nie. Die frustrasievlakke sal sweerlikwaar op die Richterskaal registreer. Dink net aan al daardie opgekropte testosteroon (en in sommige gevalle seker ook nandroloon).

Met 11 000 deelnemers en derduisende ander betrokkenes soos beamptes, ondersteuningspanne en die wêreldmedia in Tokio kan ’n mens beswaarlik dink dat die virus, ongeag die protokolle, nie iewers sy nare kop gaan uitsteek nie.

Die beste waarop ’n mens kan hoop is dat almal veilig deur als kom en die frustrasies gekanaliseer word na goue vertonings, wat ons van al die korona-narighede sal laat vergeet.

Wees meer soos Boipelo

Wat ’n wonderlike verhaaltjie is dit nie van die Kimberley-tiener Boipelo Awuah (15), wat Suid-Afrika straks op die skaatsplank in Tokio gaan verteenwoordig.

Die Kimberley-tiener Boipelo Awuah (15) is ’n voorbeeld vir baie van ons wat dink die uitdagings is te groot. Foto: Anena Burger

Die sport word vanjaar vir die eerste keer by ’n Spele aangebied.

Boipelo sal waarskynlik saam met drie ander skaatsplankryers – veel ouer as sy – vir Suid-Afrika aantree (sy het vir Tokio gekwalifiseer, maar moet nog amptelik deur Saskok in die Suid-Afrikaanse span ingesluit word) en ofskoon haar kanse op ’n medalje bitter skraal is, gaan die ondervinding wat sy ervaar massief wees. By die volgende Spele in 2024 in Parys gaan sy skaars 18 wees, steeds jonger as die jongste lid van die span wat vanjaar deelneem.

Dis egter haar deursettingsvermoë om tot hier te vorder, wat Skuimkop die hoed laat lig.

Sy het as vyfjarige (teen haar ma se wens) begin skaatsplankry. Sy oefen daagliks vyf uur. Op haar eie. Sy het geen afrigter nie. Sy gaan in Tokio toepas wat sy by die Wêreldkampioenskap in Rome geleer het.

Ons kan almal baat vind by dié tipe toewyding. Dink maar volgende keer aan Boipelo as jy voel jou lewe is twee treë vorentoe en drie treë terug.

Skiet Shelby spek?

Dis daai vark se skuld, nie myne nie!

So beweer die Amerikaanse middelafstandatleet Shelby Houlihan, wat sê haar positiewe toets vir nandroloon is die gevolg van ’n burrito met ’n vulsel van vark-afval, wat sy die aand voor haar opkikkertoets by ’n Mexikaanse koswa naby haar huis in Beaverton, Oregon, gekoop en geëet het.

Nee, van nandroloon – ’n middel wat ’n persoon se spiermassa laat toeneem – het die atleet “nog nooit eens” gehoor nie.

Sy het wel agterna uitgevind varkvleis kan in sommige gevalle hoë vlakke van dié anaboliese steroïed bevat.

Haar positiewe toets beteken die Amerikaanse rekordhouer in die 1 500 m en 5 000 loop die Spele in Tokio mis. Sy is ook deelname in Parys in 2024 kwyt.

Ofskoon Skuimkop al menigmaal lank ná middernag kos van ’n onbekende voedselgroep by dodgy “eetplekke” in die Kaapse middestad of by daai gehawende woonwa voor die Shack-kuierplek geëet het, was daar nog nooit ’n teken van verhoogde spiermassa nie.

Shelby se storie klink na een met wolhare. Sy het uit die aard van die saak appèl teen die bevinding van Wada (die Wêreldagentskap teen die gebruik van verbode middels) aangeteken, maar dié in vandeesweek deur die Hof vir Sportarbitrasie (CAS) uitgegooi.

Wat beteken Shelby bly skuldig en geskors.

En nou begin ’n mens wonder wie nou eintlik die vark in die verhaal is.

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Tokio  |  Boipelo Awuah  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.