Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Spelers se kuiers kan rugby kelder
Als word gedoen om spelers se veiligheid tydens die koronavirus-pandemie te verseker. Al wat die spelers moet doen, is om aan versoeke gehoor te gee om nie onnosel te wees weg van die speelveld nie. Foto: Getty Images

So, die koronavirus, nè? Niemand het dit sien kom nie.

Daardie opslagbal van die blitsbouler wat die bietjie ontblote kakebeen onder die aanvangskolwer se kopskerm teen 145 km/h tref.

Daardie hoogvat van die slot wat die senter op volspoed in die gaping met ’n stywe arm om die nek neervel.

Daardie regter-haakhou van die bokskampioen wat met ’n ysingwekkende geluid teen sy onopgewasse uitdager se slaap klap.

Só het die virus ons bygekom.

Ongeag wát jou mening is oor die oorsprong of rede vir Covid-19 (en daar is gékke teorieë wat voorgehou word), bly die feit staan dat die virus ’n wêreldwye greep op ons het. Letterlik die ganse mensdom word daardeur geraak.

Met dit in gedagte, is dit kommerwekkend om te sien hoe positiewe toetsuitslae by plaaslike rugbyunies toegeneem het.

Die Superrugby Unlocked-reeks is derhalwe in ’n chaos gedompel en ’n mens wil so half die bestaansreg van die kompetisie bevraagteken.

Waaraan kan die toename in Covid-19-gevalle toegeskryf word? Daar is tog streng protokolle en spelers word weekliks getoets?

Dit gaan oor wat weg van die speelveld gebeur. Hoe ernstig die bedreiging elders beskou word. Jurie Roux, Suid-Afrikaanse rugbybaas, het by meer as een geleentheid by spelers gepleit om verantwoordelik en gedissiplineerd te wees wat dit betref.

Dit verg net een ou om iewers saam met ’n groep pêlle te gaan braai of by ’n volgepakte kuierplek uit te hang. Daar waar die virus moontlik skuil.

Die volgende oomblik is die hele span blootgestel, almal se gesondheid gekompromitteer.

Verbeel jou hoe onrustig moet Roux en die boontjietellers in Saru-geledere slaap met die wete dat die finansiële toekoms van rugby met ’n teiken op die rug rondstap, kwesbaar, oorgelaat aan bloot die hoop dat jou spelers daarbuite nie soos dwase gaan optree nie.

As dit só voortgaan, kan ons vergeet daarvan om gou weer stadions vol toeskouers te sien.

Met die Britse en Ierse Leeus-toer op die horison, sal dit waarskynlik ’n fatale nekslag vir rugby in Suid-Afrika wees as toetse en opwarmwedstryde agter geslote hekke moet plaasvind.

Die meeste kaartjies vir die reeks is reeds verkoop, derduisende besoekers van oorsee sal hierheen reis, almal met euro in die gatsak om die toerismebedryf ’n broodnodige inspuiting te gee.

  • Die onnoselheid van enkele spelers wat nie gehoor gee aan Saru en die unies se versoeke om geen kanse te waag nie, te álle tye veilig te wees, kan lei tot ’n bykans onoorkombare finansiële krisis vir rugby en rugbyspelers in Suid-Afrika.
Carina Horn se skerp tong het behoorlik geflits toe sy haar oor die vorige nasionale rekordhouer in die 100 m vir vroue, Evette de Klerk, uitgelaat het. Foto: Gallo Images

B(l)itsige bekgeveg

Wat ’n onsmaaklike besigheid, dié katgeveg tussen die voormalige nasionale rekordhouer in die 100 m vir vroue, Evette de Klerk (11.06 sek.), en die huidige rekordhouer oor die afstand, Carina Horn (10.98 sek.).

Evette sê sy wil haar rekord terughê nadat Carina positief vir opkikkers getoets is en nou, terwyl sy voorlopig geskors is, probeer om haar onskuld te bewys.

“Ek het altyd gesê my enigste steroïed is die krag van die Here. Waarom iets gebruik om die natuurlike prestasies waartoe jy fisiek in staat is, te probeer oortref? Al wat ek vra, is dat my rekord weer agter my naam moet staan. Dit is opreg en op ’n natuurlike wyse vermag,” mor Evette.

Carina kap terug: “Daar is mense wat nie beter as jy kan doen nie en dan jou lewe hel wil maak omdat hulle s’n k*k is. As jy ouer as 50 is en steeds oor ’n rekord bekommerd is, dan moet jy ernstig iets vind om jouself mee besig te hou.”

Die hele morsige petalje word soos vuil beddegoed aan die waslyn van sosiale media uitgehang, kompleet met ’n Instagram-video.

Nou wonder Skuimkop, sou dit nie maar beter gewees het as die twee eerder oor ’n koppie koffie in Menlyn Mall die saak uitgepraat het nie?

Eerder as om mekaar in die openbaar links en regs te beswadder en sleg te sê.

Dalk kon hulle daar stil-stil en beskaafd tot ’n vergelyk kom oor wie nou eintlik die vinnigste oor 100 meter is. In Suid-Afrika, natuurlik, want met of sonder opkikkers is albei sommer ’n hele entjie agter Florence Griffith-Joyner se wêreldrekord (10.49).

Daar is wel een mens wat vinniger as De Klerk en Horn oor die kort afstand is, merk Skuimkop se kollega nou die dag terloops op.

  • In ’n 100 treë-naelloop tydens teepouse, geklee in ’n snyerspak en duur Italiaanse skoene, sou nie een van die twee b(l)itsige vroue Jacob Zuma se verbluffende lopie by die Zondo-kommissie kon nadoen nie.

Waar was jou geld?

Wat ’n verrassing. ’n Aangename ene, ook, moet toegegee word. Die beroepswedders het seker ’n goeie dag op kantoor gehad ná die Argentynse Poemas se skoksege oor die All Blacks.

Want wie sou met oortuiging geld daarop verwed het dat die Suid-Amerikaners, sonder veel voorbereiding, vir die eerste keer tot nog toe in hul rugbygeskiedenis die Kiwi’s gaan klop?

Seker nie eens die legendariese Hugo Porta nie.

Rugby is skielik so onvoorspelbaar.

Sommer net nou die dag was Wallis se Rooi Drake so amper-amper die Springbokke se struikelblok in die halfeindronde van die Wêreldbekertoernooi. Nou is die span negende op die wêreldranglys.

Het Suid-Afrika wel vanjaar aan die Rugbykampioenskap deelgeneem, sou ’n toets teen Los Poemas skielik na ’n baie kwaai bult gelyk het.

Ons val dus nogmaals op ons knieë uit danksegging aan Saru.

  • Met al die terugslae wat Covid-19 gebring het, sou ’n rits Springbok-loesings Doer Onder sout in die wond van 2020 gewees het.
Meer oor:  Atletiek  |  Koronavirus  |  Poemas  |  All Blacks  |  Skuimkop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.