Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skuimkop staal hom vir tifoon tuis
Rugby in die reën. Toeskouers in Japan trotseer die ongure weer. Foto: Getty Images

Met die verloop van jare het Skuimkop, as deurwinterde sportliefhebber, al ’n hele paar keer met ongure weerstoestande te doene gekry.

Daar was byvoorbeeld die Swart Suidoos wat ’n week lank in die huishouding gewoed het ná die Stormers se sege oor die Chiefs op Nuweland in 2017.

Dáái aangee van Dillyn Leyds na SP Marais is agterna lank in die Klapmuts-hotel gevier. Té lank. Volgens die Minister van Huishoudelike Sake.

Dan was daar die aand van 14 September 2018 en die daaropvolgende paar dae toe die gerommel van donder, skrikwekkende bliksems en ysige haelbuie die somber atmosfeer aan’t huis verteenwoordig het.

Bloot omdat die Bokke die All Blacks – nogal ín Wellington – met 36-34 geskok het. En Skuimkop (na bewering) nagelaat het om die Minister vooraf in te lig dat hy ’n “paar pelle” gaan oornooi om die game te kom kyk. Full disclosure: ons was op die einde dertienstuks. En dit was morsig.

So, van onweer gepraat…

Teen die tyd dat jy dié lees, het tifoon Hagibis waarskynlik reeds sy pad van verwoesting begin saai en die permutasies vir die uitklopfase van die Wêreldbeker-toernooi op sy kop gekeer.

Dié tropiese storm is volgens voorspellings die ergste een wat Japan die afgelope paar jaar sou tref. Die verwagting was grootskaalse ontwrigting en skade in die stede Tokio, Jokohama en Toyota.

Om veiligheidsredes is Saterdag se Groep B-stryd tussen die All Blacks en Italië en Groep C-stryd tussen Engeland en Frankryk dus afgestel.

Die Azzurri is erg ongelukkig. Die span is ontneem van die kans om verder as die groepfase te vorder. Maar dít sou slegs moontlik gewees het met ’n sege oor die All Blacks. Wat basies onmoontlik sou wees.

Dit het ook ’n paar Italiaanse staatmakers van die kans beroof om ’n laaste keer vir hul land uit te draf.

Tog het al 20 spanne vooraf geweet wat die toernooi se kansellasie-beleid vir wedstryde is. Al 20 het ’n deelname-ooreenkoms onderteken. Niemand kan dus kla nie.

* Vir die Springbokke is dit Japan, Ierland, of Skotland in die kwarteind. Enigeen is welkom. Skuimkop staal hom solank vir ’n suidelike sikloon by die huis in die nadraai van dié kragmeting.

WELLINGTON, NEW ZEALAND - JULY 27: Codie Taylor of
Die All Blacks doen die haka. Of vra die gode dat hul oortredings ongestraf sal bly. (Getty Images)

JaloersBokkies

Is die All Blacks regtig “verneukers” en word hul oortredings in toetse minder gestraf as ander lande omdat hulle vir so lank al die toonaangewende span in wêreldrugby is?

Dis moeilik om objektief te bly as ’n mens vrae soos dié moet beantwoord.

Feit van die saak is Skuimkop (en waarskynlik die meeste Springbok-ondersteuners) sluk eerder ’n loesing teen Nieu-Seeland as een teen Engeland. Of Australië. Die span in swart het sy respek verdien. Ons is dikwels jaloers op sy vertoningslys.

In sy rubriek in vir die Irish Independent skryf die voormalige Ierse agtsteman Neil Francis die Kiwi’s “verneuk sonder vrees”en met “asemrowende sinisme”. En skeidsregters laat hulle toe om dit te doen.

In die All Blacks se sege met 63-0 oor Kanada het die span “20 strafskoppe afgestaan, waarvan net een toegeken is”, skryf Francis.

Die All Blacks, skryf hy, is bereid om die grense van die reëls teen veel swakker teenstanders te “buig”. Hulle sal absoluut enigiets doen in ’n toets teen amateur-teenstanders en kyk of hulle daarmee wegkom.

Word hulle gestraf, is die risiko laag, want hulle sou in elk geval die wedstryd wen. Bly die “oortredings” ongestraf, sal hulle dit vorentoe teen sterker teenstanders ook inspan.

Dis die verskil tussen ’n kampioenspan en die res, sê Francis.

’n Erg siniese afleiding. Maar steek daar straks waarheid in?

* Al wat ons as rugbyliefhebbers eintlik wil sien gebeur, is skeidsregters wat die reëls konsekwent toepas. Maar dis seker wensdenkery.

Die haker met hart van goud. Schalk Brits maak rugbyvriende so ver soos hy gaan. Foto: Gallo Images

Breë glimlag

Net ’n laaste woord oor die WB-toernooi. Wat ’n aangename kyk-ervaring om Schalk Brits op die rugbyveld te sien!

Nie net speel die veteraan sy hart uit elke kans wat hy kry nie, hy geniet elke oomblik daarvan. Daai aansteeklike glimlag en geesdrif is prysenswaardig. Hy is ’n ware ambassadeur vir Suid-Afrika en ook vir die spel in sy geheel.

Om van sy eerbied teenoor die gasheer nie eens te praat nie. Hy bou brûe tussen rugbynasies sommer so in die verloop van 80 minute.

* ’n Sterk kandidaat as die Spelers se Speler van die Toernooi, as Skuimkop ’n sê in die saak kan hê.

Meer oor:  Rassie Erasmus  |  Schalk Brits  |  Springbokke  |  All Blacks  |  Wêreldbekerrugby  |  Skuimkop  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.