Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skuimkop: Stoute kind van SA sport

Krieket Suid-Afrika herinner mens aan ’n stout kind. Een met ’n agterbakse plan.

Daardie einste een wat uitgevang is met die hand in die koekblik, of op heter daad betrap is met die vetkryt in die hand, daar by die voorheen spierwit sitkamermuur, wat nou met vars rooi krabbels spog.

Beresford Williams, waarnemende president van Krieket Suid-Afrika, is seker ’n bekommerde man – hy is nie etnies swart nie en hy is nie ’n vrou nie. Waar gaan hy hom ná 5 Desember se jaarvergadering bevind? Foto: Gallo Images

Die skuldige party weet sy pak is geboek. Natuurlik net figuurlik gesproke, want die arme bloedjies se “kwajongstreke” is mos nie meer deesdae strafbaar met ’n raps op die boud of ’n houtlepel op die handpalm nie.

Laat staan nog vir “Trane”, die leerplak wat in Skuimkop se kinderjare dreigend agter die kombuisdeur gehang het. ’n Stille vermaning dat hy sy naam in die sekuur hand van die paterfamilias gestand sal doen indien die reëls en regulasies van die huishouding verontagsaam word.

So, die verdagte se figuurlike pak is geboek. Enige verontskuldiging of verweer wat begin met “dit was nie ek nie”, is dus uit die staanspoor van nul en gener waarde.

Die volgende plan van aksie om ’n bykans onvermydelike straf te probeer vryspring, is om mooi broodjies te bak.

Jy wag vir die gelaaide spanning om te lig. Daar sal ’n teken wees – ’n effense glimlag om die mondhoeke, miskien. Dan weet jy dit is als oukei, jy is reeds vergewe.

Dié doen jy deur so oortuigend as moontlik jou wandade te probeer regverdig. Of deur die aandag van jou oortredings af te lei met soveel as moontlik woorde.

Jy wag vir die gelaaide spanning om te lig. Daar sal ’n teken wees – ’n effense glimlag om die mondhoeke, miskien. Dan weet jy dit is als oukei, jy is reeds vergewe.

Moet dit net nie weer doen, gehoor! Is reg so, pa. Ek sal nie, ma.

So hier het ons nou vir stoute klein KSA.

Op sy beste is hy ’n turksvy in ons agbare sportminister se ontwerpers-onderbroek. Korrupsie, wanbestending (Thabang Moroe en Naasei Appiah was dórs, jong!), power administrasie, omstrede uitlatings oor die beëindiging van wit konsultante se betrokkenheid by nasionale spanne. Noem maar op, aan elke moontlike stoutigheid op bestuursvlak, het die klein KSA hom skuldig gemaak.

So wat wou hy toe doen, so met die een hand in die koekblik en die ander een wat die vetkryt vashou?

Op sy beste is hy ’n turksvy in ons agbare sportminister se ontwerpers-onderbroek.

Hy wou gaan please-explain aan die parlement se portefeuljekomitee vir sport dat daar groot planne in die pyplyn is. Hy wou vir die politieke trogvreters ’n handvol smaaklike semels voer.

Meer swart vroue sal voortaan in sy raad en lederaad (bestaande uit die uniepresidente, die hoogste krieketgesag in die land) aangestel word. Meer swart vroue gaan hoë uitvoerende poste by provinsiale unies beklee.

Dis boonop afdwingbaar, ook. Indien die provinsies nie aan dié transformasie-eise voldoen nie, sal die KSA hulle beboet!

Ai, maar al wat die portefeuljekomitee eintlik wou hê en toe ook oor gepraat het, is die volledige en veelbesproke forensiese verslag oor KSA se diepliggende bestuursprobleme.

Maar verbeel Skuimkop hom, of sien hy reeds daardie effense glimlag om die politieke mondhoeke?

Kiwi’s knak Sanzaar

Ek het so mooi na die All Blacks gekyk, selfs in swart geklee vir die okkasie, en al wat ek kry is die ou rugbybal. Andy Marinos, uitvoerende hoof van Sanzaar. Foto: Getty Images

Kan Sanzaar verduidelik hoe die Nieu-Seelandse Rugbyunie hom oortuig het om die Rugbykampioenskap se skedule minder as ’n maand voor die afskop te hersien sodat die arme All Blacks darem op Kersdag by hul families kan wees, nie in kwarantyn iewers in ’n hotel in Auckland nie?

Asseblief, Andy Marinos, verduidelik. Want Skuimkop verstaan dit nie.

Volgens die oorspronklike skedule sou die All Blacks en Australië op 12 Desember in hul laaste toets in aksie wees. Die Kiwi’s se terugkeer huis toe gaan egter gepaard met ’n kwarantyntydperk van 14 dae. Wat beteken Kersdag sou met hotelkos en drank uit die minikroeg gevier word.

Die Nieu-Seelandse rugbybase was nie te vinde hiervoor nie. En nou skielik is die skedule met ’n week vervroeg.

En die enigste toets op 12 Desember? Die een tussen die heersende wêreldkampioen en Argentinië.

Danksy nuwe Covid-19-regulasies ter plaatse, sal die Bokke kwarantyn met hul terugkeer kan vryspring, mits almal voor hul vertrek uit Australië negatief getoets is vir die virus.

Nietemin laat Sanzaar se U-draai, net om die All Blacks ter wille te wees, ’n wrang smaak in die mond.

Benewens die feit dat die Bokke nie oor minder as ’n maand gereed sal wees om spanne soos die wedstrydskerp All Blacks en Wallabies aan te durf nie, is dit lankal tyd om Sanzaar onder sy jis te skop.

Kyk so ’n grootmeneer

Skaars ’n jaar nadat Engeland se krieketspan op opwindende wyse die Wêreldbeker-toernooi op tuisbodem gewen, het die Engelse Krieketraad (ECB) nogmaals gewys waarom dit so moeilik is om van die span te hou.

Engeland is veronderstel om in Januarie in Sri Lanka te gaan toer.

Skynbaar geld een stel reëls vir base van die Britse Ryk en ’n ander stel vir die klase.

Die Sri Lankaanse regering het egter Covid-19-maatreëls ingestel. Alle besoekende spanne moet eers vir 14 dae in ’n hotel in kwarantyn deurbring. Standaardpraktyk oor die wêreld heen.

Die ECB het egter sy Sri Lankaanse eweknie vandeesweek ingelig dat hy nie te vinde vir dié maatreëls is nie. As die span gedwing word om vir twee weke in kwarantyn te wees, gaan hy nie kom toer nie. Dis glo in die belang van die spelers se “geestelike welstand” dat die kwarantynvereiste nie geld nie, sê die ECB.

Interessant genoeg was niemand bekommerd oor die Wes-Indiese Eilande of Pakistan se “geestelike welstand” toe hulle vroeër vanjaar etlike weke lank in ’n bioborrel moes deurbring nie.

Skynbaar geld een stel reëls vir base van die Britse Ryk en ’n ander stel vir die klase.

Meer oor:  Krieket  |  Krieket Suid-Afrika  |  Nieu-Seeland  |  Skuimkop  |  Sanzaar  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.