Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Suid-Afrikaners durf nie swyg oor Floyd

Daar is ’n paar onderwerpe wat jy liefs moet vermy as jy tydens ’n sosiale samesyn met vriende en vreemdelinge eensklaps die brandende begeerte ontwikkel om ook ’n stuiwer in die armbeurs te gooi.

Dié raad kom gewoonlik uit die mond van mense wat op grond van persoonlike ondervindings so ’n afleiding kon maak.

Daai ou wat een keer te veel in ’n kroeg of dergelike kuierplek aanvegbare stellings gemaak het vir almal om te hoor. Daai einste ou wat met ’n kort stokkie die leeu se kroonjuwele gekielie het.

Hy het net ’n dik lip of vuurwarm ore vir sy moeite te wys.

Skuimkop se pa het altyd gewaarsku: gesprekke oor geloof hoort in ’n kerk, tempel of moskee. Of, as dit dan nou elders moet plaasvind, in ’n filosofieklas.

Die Amerikaanse tennisster Naomi Osaka het met dié Twitter-boodskap gewys hoe sy oor die Black Lives Matter-veldtog voel. Sy is een van verskeie sterre wat hulle teen rassediskriminasie uitgespreek het.Foto: Twitter

Dieselfde geld politiek en sy verwante nefies en niggies. Laat dit oor aan die verteenwoordigers in die parlement, demokraties verkose vaandeldraers in die voorste banke en tientalle portefeuljekomitees belas met tergende kwessies.

Ja, dis seker so. Opinies is mos soos agterstewes. Almal het een.

Maar gegewe die wêreldwye reaksie, ook uit sportgeledere, ná die dood van die Amerikaner George Floyd, voel Skuimkop tog geroepe om ’n mening hieroor te lug.

Floyd, ’n Afro-Amerikaanse man, is op 25 Mei dood nadat ’n polisielid hom in Minneapolis, Minnesota op ’n teerstraat vasgepen en sy knie vir meer as agt minute op Floyd se keel gedruk het.

Die verskriklike daad van polisiebrutaliteit het tot volskaalse betogings oor “Merica” heen gelei en die Black Lives Matter-veldtog van stapel gestuur.

Uit sport se geledere het verskeie supersterre hul name gevoeg by diegene wat die veldtog steun.

Hoekom is dit belangrik?

Omdat sportlui wat daardie tipe blootstelling geniet, in die ideale posisie is om knaende kwessies – soos rassisme – uit te daag. As hoëprofiel-wêreldburgers kan hulle help om mense tot ander insigte te bring, om die publiek uit te daag om te gaan besin oor hul aandeel in diskriminasie (watter vorm dit ook al mag aanneem).

Want kom ons wees nou eerlik met mekaar, om te swyg oor sulke kwessies, soos ’n volstruis kop in die sand te druk, maak jou nét so aandadig aan diskriminasie.

Want kom ons wees nou eerlik met mekaar, om te swyg oor sulke kwessies, soos ’n volstruis kop in die sand te druk, maak jou nét so aandadig aan diskriminasie.

Dis soos om te sê “van my beste vriende is swart” (of wit of wat ook al). Of, “ek is nie ’n rassis nie, maar…”

Daar is baie George Floyds in Suid-Afrika. Hulle woon in townships. Hulle woon op afgeleë plase en kleinhoewes. Hulle is jonk. Hulle is bejaard. Hulle is mense.

Plaaslike sportpersoonlikhede – trouens, ons sportbeheerliggame – moet hul stem voeg by internasionale sterre wat reeds hul steun aan die Black Lives Matter-veldtog gegee het.

Daar is genoeg rede om die stem dik te maak. Collins Khoza en 11 ander Suid-Afrikaners wat dood is tydens die staat van inperking (sterftes wat nou voor die deur van die polisie en weermag gelê word) gaan bykans ongesiens verby.

* Hoe lank nog kan Suid-Afrikaners, soos Pontius Pilatus, hul hande in onskuld was?

Ons minister van sport, Nathi Mthethwa, in ’n ligte luim. Wie laaste lag, lag op sy eie. Foto: Gallo Images

Hoe bedoel Nathi nou?

Volgens die Eminent Persons Group (EPG) se verslag oor transformasie het meer as die helfte van die 18 federasies wat gemonitor is, hul transformasieteikens in 2018/’19 bereik.

Maar swart Suid-Afrikaners en vroue bly steeds onderverteenwoordig in Suid-Afrikaanse sport.

Die EPG het ook bevind minder as 10% van SA se 25 000 openbare skole bied georganiseerde sport aan.

Volgens Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, kan die situasie nie langer deur die leierskap in die regering of sportsektor geïgnoreer word nie.

Nou dreig Nathi met die “moontlike gebruik van wetgewende werktuie” om te verseker dat teikens oral behaal word.

Wat is die probleem, volgens die agbare minister? ’n Gebrek aan behoorlike sportgeriewe op skoolvlak, onwillige onderwysers, min tot geen liggaamlike opvoeding, voormalige model C-skole wat ligas aanbied en net teen mekaar speel.

Maar is dit nie presies die kwessies wat juis op regeringsvlak getakel moet word nie, Nathi?

Hoekom is daar – 26 jaar nadat ons eerste demokratiese verkiesing tot ’n bewindsverandering gelei het – steeds ’n tekort aan sportgeriewe? Hoekom is daar lustelose onnies? En waar is LO-klasse as verpligting heen?

Hoekom is daar – 26 jaar nadat ons eerste demokratiese verkiesing tot ’n bewindsverandering gelei het – steeds ’n tekort aan sportgeriewe? Hoekom is daar lustelose onnies? En waar is LO-klasse as verpligting heen?

Wat Skuimkop sien, is honderde skole sonder behoorlike klaskamers, geen basiese geriewe soos spoeltoilette en lopende water nie.

Die minister wil nou die kwota-pitseer ryp druk met wetgewing, maar as hy mooi kyk sal hy sien Rome is aan die brand. En veel meer water as dié in Nkandla se “fire pool” gaan nodig wees om die vlamme te blus.

Soos ’n kollega opmerk: As Nathi met soveel oortuiging meer dringende kwessies soos die finansiële ondergang van sportfederasies en klubs in die lig van die Covid-19-pandemie teiken, kon sy lawwe plan oor wetgewing vir kwotas hom nog vergewe word.

* Maar dis seker te veel gevra. En boonop sal dit hom geen politieke punte in die sak bring nie.

Meer oor:  Nathi Mthethwa  |  Naomi Osaka  |  Suid-Afrika  |  Vsa  |  Diskriminasie  |  Black Lives Matter  |  Kwotas  |  Skuimkop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.