Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skuimkop: Swys se Fortuner op die spel

Ai, mymer ’n kollega nou die dag, waar is die dae toe rugbyspelers nog so onder die tafel deur met ’n bruin koevert waarin ’n paar note was, betaal is?

Ja, dis die dae toe die ouens nog rugby gejol net omdat dit ’n sport was waarin hulle uitgeblink het. Niemand het vir die geld gespeel nie. Van vergoeding in die amateurdae was daar nie sprake nie. Wel, nie openlik sprake nie.

Nou luister nou mooi vir my, mannetjie. Julle beter wen, ek het klaar die Fortuner bestel. Swys de Bruin gesels taktiek met die Bok-kaptein, Siya Kolisi. Foto: Gallo Images

Vir ’n tuiswedstryd het die ouens by sommige unies R200 in die koevertjies in die kleedkamer ontvang, met ’n R50-bonus as jy gewen het. En vir wegwedstryde was dit R350 plus daai wenbonussie van R50.

Oom Louis Luyt het natuurlik mettertyd ’n sakegeleentheid raakgesien en so is die beroepsera ingelui.

Deesdae verdien van die laaities die tipe geld wat ’n uitvoerende hoof van ’n groot maatskappy maandeliks in sy sak steek. Klere, skoene en selfs rygoed word geborg. Die een se 4x4 so groot soos die ander se gespierde sportmotor.

Skuimkop het vrede met die beroepsera. Tye verander, ’n mens moet aanpas om tred te hou. Rugby is deesdae ’n voltydse beroep, unies word soos maatskappye bedryf.

Soms wonder Skuimkop egter hoe goed die maatskappye werklik bestuur word. Veral die moedermaatskappy, die Suid-Afrikaanse Rugbyunie, wat sy kleiner maatskappye se begroting aan flarde gesny het omdat hy self in ’n finansiële krisis is.

Praat van ’n sneeubal-effek. Die gesnoei aan begrotings en die nuwe slotte aan die geldkoffers word nou tot op die hoogste vlak gevoel.

Lees nou die dag Swys de Bruin, gekontrakteer deur die Leeus Rugbyunie, werk gratis as konsultant vir die Springbokke. Hy ontvang net ’n wenbonus as die nasionale span ná die eindfluitjie voor op die telbord is.

Hoe bekommerd is Swys se bankbestuurder voor die Bokke se toets teen die Wallabies Saterdag?
Skuimkop

Nou wonder Skuimkop: Hoe bekommerd is Swys se bankbestuurder voor die Bokke se toets teen die Wallabies Saterdag? En hoe styf knyp hy die sluitspier vir volgende naweek se toets teen die All Blacks?

Daai nuwe Fortuner gaan nie homself betaal nie, Swys. Die verhittingstelsel vir die swembad en die ingevoerde tuinmeubels ook nie, pêl. Die Bokke beter wen. Daai bonus kan baie gate toestop.

Laat Skuimkop dink aan die Saru-grootkop Jurie (Sparries) Roux, wat in 2016 voor ’n parlementêre komitee oor die finansies op Springbok-vlak moes praat.

* “Nee,” sê Jurie toe. “Ons het baie geld gespaar, want daar is min aan wenbonusse in die boekjaar uitgegee.”

Van geld gepraat

Met Rassie Erasmus as die Bok-breier én direkteur van rugby, wonder Skuimkop hoe verloop sy merietegesprek aan die einde van die seisoen.

Voer die direkteur die gesprek met homself? Of moet hy en Jurie op ’n verhoging ooreenkom? Wat opsigself ’n skrikwekkende gedagte is, gegewe Sparries se huidige penarie oor Maties se geldsake.

Hy word mos deur die Universiteit Stellenbosch gedagvaar omdat hy glo tussen 2002 en 2010 nagenoeg R35 miljoen onregmatig na die Maties-rugbyklub gekanaliseer het. Dit was glo spaargeld vir “algemene uitgawes” en beurse en so aan. Of “sparries”, soos daarna verwys is.

Laat nog sulke skandes ons tog gespaar bly!

* Fokus, Rassie, fokus. Klop die Wallabies die naweek, rol die All Blacks daarna en bou ’n wenspan vir 2019 se Wêreldbeker-toernooi. Dan verdien jy bonusse, verhogings en sommer ’n kis Bells.

Laaste stuiwer in die armbeurs

Saru se begrotingsnitte het veral die kleiner unies in ’n finansiële wurggreep. Die Boland Rugbyunie wil dan nou glad sy stadion in Wellington loop staan en verkoop om die druk te verlig.

Nou kyk, Skuimkop het in sy jong dae baie rugby daar gekyk. Selfs een of twee keer in die stadion gespeel! So dis hartseer nuus dat die (ietwat gehawende) vlagskip van die Wynboere nou waarskynlik aan ’n ontwikkelaar verkwansel gaan word.

Wie ook al dit (waarskynlik vir ’n appel en ’n ei) opraap, kan gerus van die bestaande terreinbakens met vrug inspan. Daai deel van die veld wat elke seisoen ná ’n reënbui in ’n klein opgaardam verander, kan in ’n mensgemaakte meer omskep word.

En dan is daar natuurlik die stalle, waar die Kavalier destyds sy perd koudgelei het ná ’n stewige galop om die veld.

* Skenk miskien dié erf aan die stinkryk-grootbase van Saru. Sodat hulle konstant herinner kan word aan die bollie wat hulle aangevang het.

Meer oor:  Swys De Bruin  |  Springbokke  |  Rassie Erasmus  |  Skuimkop  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.