Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skuimkop: Te veel passasiers op Protea-trein
So, Ottis, wat gaan jy aan die einde van die Wêreldbeker-toernooi doen? Jy bedoel ná 6 Julie, Faf? Ek gaan ’n nuwe werk soek, dis wat. Foto: Getty Images

Daar is nie veel meer te sê oor die verwelkte Proteas wat nie reeds gesê is nie. Dit was ’n bittere teleurstelling, dié vertoning in vanjaar se Wêreldbeker-kriekettoernooi.

Nou moet ondersteuners maar geduldig wag tot 2023 voor die span homself weer teen die res van die wêreld kan meet.

Skuimkop gee vir oulaas sy indrukke oor die misbaksel wat in Engeland gelewer is.

Uit ’n spanperspektief:

Ons was nie naastenby goed genoeg nie. Skuimkop is geneig om saam met Ray (Jet) Jennings te stem, wat vandeesweek gesê het die blaam moet eintlik gelê word voor die deur van die krieketbase, wat klaaglik misluk het met die samestelling van die groep.

Mank spelers het saam getoer, onfikse spelers selfs. ’n Paar was in aanloop tot die toernooi nie op dreef met die kolf en bal nie.

Mank spelers het saam getoer, onfikse spelers selfs. ’n Paar was in aanloop tot die toernooi nie op dreef met die kolf en bal nie.

Daar is ook te veel staatgemaak of twee, miskien drie spelers om die beurt aan die gang te kry, met die res van die kolforde wat daarna maar bra effentjies met die wilgerlat in die hand gelyk het. Te veel passasiers, te min wedstrydwenners.

Van die toerlede is geneig tot wisselvalligheid. Dis asof ’n daar op enkele uitsonderings na nie Proteas was wat werklik vertroue ingeboesem het nie.

Die boulers – waarop die mislukte Plan A aanvanklik gegrond was – het nie ooit die trefkrag van hul Engelse, Nieu-Seelandse, Indiese of Australiese eweknieë gehad nie.

Soveel spelers, soveel verskonings. Hoe sê hulle nou weer: As die hond nie sy besigheid agter die bos sit en doen het nie, het hy die haas gevang.

Uit ’n ondersteunersperspektief:

Skuimkop erken skuld aan arrogansie. Soos so baie Protea-ondersteuners was daar nie vir ’n oomblik twyfel nie dat die span met groot gemak die uitkloprondes gaan haal. In die formaat is ses seges uit nege mos nie vergesog nie?

Helaas, dit was toe.

Daardie ingebore geloof dat ons gaan opdaag en – met die uitsondering van die Aussies, Indië en Engeland – almal voor ons gaan platvee, is gou-gou in ongeloof omskep.

Ons verwag gewoon te veel van ons nasionale spanne en word maklik mislei deur boodskappe uit die binnekring. Dit skep ’n vals gevoel van veiligheid as ons hoor die Proteas pak die WB-toernooi met die doel om dit te geniet, om hulself met ’n glimlag op die bakkies op die veld uit te leef. Geen stres, geen bykomende druk.

Vingerwysery en leunstoelkennis gaan ons ná dese nêrens bring nie.

Ja, ’n paar ou manne sal ná die toernooi hul uittrede aankondig. En Ottis Gibson se kop as nasionale breier sal in alle waarskynlikheid rol.

Die vraag is hoe herbou ons vir die toekoms. Is daar enigsins ’n plan vir die toekoms? Hoe grawe die Proteas hulself uit dié gat?

Maar, soos ’n verbitterde kollega ná die loesing teen Nieu-Seeland opgemerk het: voordat dié kwessies aangeroer word, is daar eers twee gewigtige keuses wat die spanlede binnekort moet maak.

* En dit is: “window or isle seat?” en “beef or chicken?” op die vlug terug huis toe.

Daar was baie mense wat gereken het Peter de Villiers was nooit werklik seker watter sport hy afrig nie. Foto: Getty Images

Beast die boef?

En daar swig die uitgewers van die Springbok-stut Beast Mtawarira se outobiografie toe voor die druk uit sosialemediakringe en stel die uitreikingsdatum van die boek uit.

Dit nadat die ou grote in ’n paragraaf of twee in die boek ’n paar onvleiende dinge oor die voormalige Bok-breier Peter (Snorre) de Villiers kwytgeraak het.

Snorre was uit sy diepte as afrigter en sy aanvanklike sukses is te danke aan die feit dat hy ’n goeie span by sy voorganger, Jake White, geërf het.

Die seniors – ouens soos Victor Matfield, Bakkies Botha, Fourie du Preez en Jean de Villiers – het die leiding geneem, terwyl die breier “nie veel gedoen het nie,” sê Beast in Beast.

Dit het ’n stom ontketen onder sommige mediamense wat vooraf-uitgawes van die boek vir resensie-doeleindes ontvang het.

Nou wonder Skuimkop net, as daar soortgelyk kritiek op iemand soos Heyneke Meyer of einste Jake was, sou dit ook so ’n openbare rassestorm tot gevolg gehad het?

As daar soortgelyk kritiek op iemand soos Heyneke Meyer of einste Jake was, sou dit ook so ’n openbare rassestorm tot gevolg gehad het?

Dit lyk of ons bloot te sensitief is as dit gaan oor kritiek op iemand in ’n bestuursposisie wat nie wit is nie. Want dan word die rassekaart skielik gespeel.

Pan Macmillan (die uitgewer) het in dié slaggat getrap deur die uitreikingsdatum van die boek uit te stel. Hy wou op niemand se tone trap nie. Vernaam nie as dit nie ’n wit afrigter is nie. Ongeag of dit ’n (swart) speler se mening is.

* Ons sal moet sien of dié omstrede paragrawe steeds daar is as die boek uiteindelik in die openbare domein beskikbaar is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.