Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skuimkop: Thabang maak toe soos Rokoff

Skuimkop wil vandag ’n ding sê en hy gaan dit sê: Die feit dat ’n “kommerwekkende” lotjie kinders van 18 en jonger opkikkers vir sport gebruik (en die meeste van hulle wegkom daarmee), moet grootliks voor die deur van die gesaghebbers by plaaslike hoër- en laerskole gelê word.

Khalid Galant van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport praat en praat al vir jare, maar niemand luister skynbaar nie. Foto: Gallo Images

Kort ná die Springbokke se Wêreldbeker-triomf in Japan het die Ierse rugbykommentators Neil Francis en Ger Gilroy dié suksesvolle veldtog bevraagteken.

Gaan kyk net ’n bietjie na die “dwelmkultuur” wat oor die jare in Suid-Afrikaanse sport gevestig is, het die twee op afsonderlike media-platforms beweer.

Nou goed, ’n mens kan hul uitsprake as blote bog afmaak. ’n Kwalik bedekte poging tot verdagmakery. Jaloesie, selfs.

Feit van die saak is elke nou en dan word daar in ons skolestelsel wél kinders betrap wat galop-sop gebruik.

Ses seuns by 2018 se Cravenweek-toernooi het positief getoets het vir verbode middels. Ses te veel.

Khalid Galant, hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport (Saids), het onlangs toegegee daar is ’n “kommerwekkende opkikkerprobleem” in skole. Veral onder rugbyspelers.

Saids-veldtogte soos die probeer die boodskap tuisbring dat opkikkergebruik gewoon verneukery is. Foto: Facebook

Hoekom? Laat hom toe om te verduidelik.

“Skole- en varsityrugby in Suid-Afrika toon ’n hoë toleransie vir verneukery en die gebruik van opkikkers.”

Die woorde “hoë toleransie” is wat Skuimkop interesseer.

Beteken dit by sommige skole word opkikkergebruik as bloot ’n “oortreding” beskou, soortgelyk aan ’n leerling wat in die wiskunde-periode betrap word waar hy onder sy lessenaar ’n WhatsApp-boodskap stuur?

Is ’n gebruiker van galop-sop so skuldig soos die outjie wat destyds tydens eerste pouse agter die fietshokke ’n Camel Filter (gesteel uit sy pa se pakkie) skelm sit en rook het?

Hier is Saids se uitdaging. Of probleem, eerder.

Dié organisasie mag, volgens die skolewet, slegs opkikkertoetse op leerlinge doen as dit deur ’n skoolhoof versoek word. Basies hang dit dus van skoolhoofde af om opkikkers hok te slaan, nie waar nie?

Volgens Saids kniehalter dit sy veldtog om meer skuldiges te vang, omdat dié versoeke selde ingedien word.

Dit bring ons by Saids se “Drug Free Sport”-program, waarvolgens die organisasie sonder uitnodiging of versoek by ’n skool kan aanklop om atlete te toets. Binne en buite ’n spesifieke sportseisoen.

Dié ooreenkoms gee Saids dus die regsraamwerk vir ongeskeduleerde besoeke. ’n Hele klomp skole het die ooreenkoms onderteken. Nie die lot nie.

As ons die sogenaamde “dwelmkultuur” in Suid-Afrikaanse sport vroeg wil teiken, moet die Drug Free Sport-program eenvoudig verpligtend gemaak word vir skole. Alle skole wat mededingende sport as buitemuurse aktiwiteit aanbied, moet sonder uitsondering die ooreenkoms onderteken.

En dan moet die senior vennote waarop Saids staatmaak om sy werk te doen – die SA Rugbyunie, die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee, die departement van sport en ontspanning – tussen hulle begroot sodat daar landwyd genoeg beamptes is om dié opkikkertoetse te gaan doen.

Skoolhoofde wat reeds die Drug Free Sport-program ondersteun, moet die lyn warm bel na Saids en áándring op toetse.

* As skole ernstig is oor die potensiële gevaar wat galop-sop inhou, berus die onus hoofsaaklik by hulle om die “kommerwekkende opkikkerprobleem” te bekamp.

Dr. Ali Bacher slaap nie, hy bid vir ’n beter bestuur in Krieket Suid-Afrika se geledere. Hopelik een sonder Thabang Moroe, die rigtinglose kaptein van die sinkende skip. Foto: Gallo Images

Ta-ta, Thabang

Voor hy Vrydag deur sy raad gevra is om die pad te vat, het Krieket Suid-Afrika se uitvoerende hoof, Thabang Moroe, Skuimkop aan ’n swaargewigbokser laat dink wat vir 12 rondes lank van links, regs, bo en onder houe gevat het.

Hy is basies uit op sy voete. ’n Ligte suidooster kan hom omwaai. Maar hy het verseg om te val. Blote halstarrigheid laat hom staande bly.

In die verloop van sake sedert die Proteas se mistroostige Wêreldbeker-kriekettoernooi, het Moroe en sy cronies basies die spel in die grond in bestuur.

Dit was later so erg dat gesiene voormalige administrateurs na vore gekom het om hul kommer oor KSA uit te spreek. Selfs die ewige diplomaat en gentleman Ali Bacher het vandeesweek gesê Thabang is te lig in die broek vir die pos. Hy moet maak soos daai onteerde Russiese ruimtevaarder Rokoff… en die pad vat.

Onder sy heerskappy het krieket in Suid-Afrika ’n grap in die oë van die wêreld geword.

Al wat kort, is die groot gestreepte tent, dan het jy ’n propperse sirkus, soos ’n kollega opgemerk het.

Nou ja, toe Standard Bank gisteroggend sê hy wil in die lig van die KSA-gemors nie meer die Proteas se hoofborg in 2020 wees nie (Skuimkop oor dié kontrak is glo R60 miloen werd), was dit die laaste strooi.

* So, totsiens, Thabang. Ta-ta. En dankie vir niks.

Meer oor:  Skolerugby  |  Ksa  |  Saids  |  Thabang Moroe  |  Krieket Suid-Afrika  |  Proteas  |  Opkikkers  |  Skuimkop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.