Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skuimkop: Toe kry Eddie ’n Bok-vuis in smoel
Daai eindstryd-hou in die smoel was nie so lekker vir Eddie (Planne) Jones nie. Foto: Getty Images

Soos seker menige Suid-Afrikaanse rugbyondersteuners s’n, het Skuimkop se lewer ook hande geklap nadat die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Japan op glorieryke wyse ten einde geloop het.

Nie uit verdienste nie, maar bloot uit danksegging. Dit was immers ’n paar lang, senutergende weke.

En hier is ons nou: die wêreldkampioene!

President Cyril Ramaphosa oorweeg vir ’n oomblik Rassie Erasmus as die nuwe minister van energiesake. Foto: Twitter

Ondanks al die ongelowige Thomasse, die doemprofete, die leunstoelkenners wat vooraf die Bok-groep so gekyk het en die koppe geskud het. Nie met dié span nie, het hulle gesê. Nie teen die All Blacks nie. Nie teen Engeland nie. En pasop sommer vir Wallis en Japan ook.

Nou sit daai mense met ’n bek vol tande. Hulle wat video’tjies op sosiale media gedeel het met lelike boodskappies vir die Bok-ondersteuners. Die Johan de Jonges van die wêreld. “Now you keep tjoeeeepstil,” soos David Kramer destyds gesing het.

Net vinnig oor die eindstryd, wat Skuimkop seker 10, 12 keer sedert die eindfluitjie weer gekyk het.

Die Rose het nie vir ’n oomblik opgewasse gelyk nie. Wat die span sielkundig geknak het, glo Skuimkop, was toe hy nie ná meer as twintig fases op die Springbok-doellyn kon gaan druk nie.

Dít, tesame met vertoning in die skrums en lynstane, waar die sagmaakwerk gedoen is, het gesorg dat daar uiteindelik net een span op die veld was. Engeland was uit sy diepte.

Wie is jou pappa? Foto: Twitter

Makazole Mapimpi se drie (net toe president Cyril Ramaphosa in Jokohama moes gaan ma-piepie) was ’n juweel.

Cheslin Kolbe s’n… wel, die kykweer (en weer kyk) vertel die volle verhaal van die buks se voorgevoel, sy flink voetwerk, sy vaartversnelling. Wie het nou weer gesê hy is te klein vir toetsrugby?

En Engeland… durf ’n mens hom ’n bietjie jammer kry? Hy het weliswaar die magtige All Blacks oor die voorlaaste hekkie laat struikel.

Nee. Die span was goed regdeur die toernooi, skitterend eintlik. So oortuigend was sy vertoning in die halfeind, dat niemand die Bokke ’n kans gegun het nie. Gewis nie die Britse media nie, gewis nie die meeste ondersteuners in Japan nie en ook nie Engelse spelers nie.

Almal het geglo Eddie Jones, die span se uitgeslape afrigter, het Suid-Afrika se nommer. Hy het teenvoeters vir ons sterk pak, hy het ’n manier om ons opskietverdediging uit te buit, ons doellose skoppies met teenaanvalle te beantwoord. Hy het ’n plan vir alles.

Die enigste pad terug vir Engeland se kaptein, Owen Farrell. ’n Toksak met vuil klere en geen beker om te verklaar nie. Foto: Twitter

Maar soos Mike Tyson op die hoogtepunt van sy boksloopbaan gesê het: “Everybody’s got a plan until you get hit in die mouth”.

Eddie het ’n Bok-vuis in die smoel gekry. Die Rose het voor sy oë verwelk.

Skuimkop wil Rassie Erasmus vandag gelukwens met die foutlose beplanning en uitvoering van sy WB-strategie. Ook vir Siya Kolisi en sy Bok-troepe wat onwrikbaar bly glo het in Rassie en sy breierskorps se stelsels.

* Julle het ons trots gemaak, Springbokke. Julle het Suid-Afrika gewys wat bereik kan word as almal saamstaan. Mag ons as nasie dié les ter harte neem.

Vat hom, Faffie!

’n Mens wil half onaardig voel, maar dis als oukei as jy eerder op die goue medalje en die Web Ellis-trofee fokus. Foto: Getty Images

Die oorhandigingseremonie waar Siya en die boys die Webb Ellis-trofee gelig het, terwyl die Engelse (almal behalwe Maro Itoje, natuurlik) na die silwermedaljes om hul nekke staar, was ’n emosionele oomblik.

Skuimkop erken skaamteloos die trane het oor sy wange gebiggel.

In die kleedkamer was daar natuurlik groot jolyt. En Faf de Klerk, met net ’n “springbroekie” wat die kroonjuwele bedek terwyl hy met prins Harry, die hertog van Sussex, blad skud.

Skandelik, het sommige mense gebrom. Om so voor ’n koninklike te verskyn. Geen respek nie.

As dit ouma Liesbet II was, die koningin self, sou ’n mens seker so kon redeneer.

Maar die dierbare prins Harry, wat die Bokke met ’n bier in die hand kom gelukwens het, is geen vreemdeling as dit kom by omstrede kleredrag (of totale gebrek daaraan) nie.

Daar was die Nazi-uniform wat hy op ’n keer na ’n partytjie gedra het. En daai keer in Las Vegas toe hy in sy geboortepakkie afgeneem is ná hy ’n paar potte ontklee-biljart teen sy vriende verloor het.

* Met daai goue medalje om jou nek, kan jy maar dra wát jy wil voor wié jy wil, Faf!

Vreemder as fiksie

Die ander Faf, krieket se Faf du Plessis, wonder of die Springbok-breier nie dalk die Proteas kan touwys maak nie. Foto: Twitter

In ’n sport waar onderduimse knoeiery so gereeld kop uitsteek, is dit verstommend dat ’n wedagentskap met soveel fanfare by ’n nasionale reeks betrek word.

Die Mzansi-superliga (MSL), wat gisteraand afgeskop het, se amptelike vennoot is weer die wedagentskap Betway. Via dié platform kan ondersteuners weddenskappe op die plaaslike T20-reeks plaas.

Spelers mag natuurlik nie weddenskappe aangaan nie. Maar die weddenskapduiwel is listig. Geld wat sleg is, maak krom wat reg is.

* Die vennootskap klink so al vir Skuimkop asof wolf nou skaapwagter gemaak is.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Springbokke  |  Faf De Klerk  |  Faf Du Plessis  |  Skuimkop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.