Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Vergeet krieket, kom ons fokus op rugby

Met die krieketfiasko in Engeland genadiglik agter die rug, is dit tyd om die fokus te verskuif na dringender en (moontlik) meer rooskleurige sake.

Ag, gooi maar solank vir my ’n klein dubbeltjie, ek gaan hom nodig kry vorentoe, sê Rassie Erasmus, die Bok-afrigter. Foto: Getty Images

In aanloop tot die Wêreldbekertoernooi in Japan, wat op 20 September in Tokio begin, het die groot rugbyskaakspel in alle erns begin.

Steve Hansen, die All Blacks se afrigter, het sy skuif gemaak deur aan die begin van die week sy 39-tal vir vanjaar se verkorte Rugbykampioenskap aan te kondig (die vier nasies speel elk net een keer teen mekaar).

Die uitgeslape Kiwi, wat in Japan ’n ongeëwenaarde derde Wêreldbeker-titel op ’n streep gaan jag, het ses nuwelinge opgeroep.

Michael Cheika, die Wallabies se afrigter, het Donderdag sy groep aangewys waaruit die span gekies sal word teen wie die Springbokke op 20 Julie op Ellispark in die eerste toets sal speel. Cheika het drie groentjies se name uitgelees.

Ignacio Fernandez Lobbe (regs) gaan die Poemas van die toekoms in die Curriebeker se Eerste Liga afrig. Foto: Getty Images

Mario Ledesma sal waarskynlik tot ná Saterdag se Superrugby-eindstryd tussen die Argentynse Jaguares en die Crusaders wag om sy groep se name aan te kondig.

Terloops, ’n mens wonder watter skade dié verwagte fisieke affêre die Suid-Amerikaners en Nieu-Seelanders gaan berokken.

Maar op die noot: “Vamos, Jaguares!”

Dit bring ons dan by Rassie. Die Bok-afrigter was lanklaas die hooffokus van rugbygesprekke, maar dit gaan binne die volgende week of twee drasties verander.

Sedert Rasman sy 39 Bokke (22 voor, 17 agter) gelys het uit kandiate wat plaaslik en oorsee beskikbaar was, is daar genoem dat hy dalk die Wallabies met een span en die All Blacks (op 27 Julie in Wellington) met ’n ander span gaan takel.

Dis ’n waaghalsige benadering, maar een wat in die afsienbare toekoms die antwoorde kan verskaf oor die WB-Bokke wat gekies moet word.

Als in ag geneem, dink Skuimkop ondersteuners moet nie te veel lees in die uitslae van die Bokke se drie toetse in die Rugbykampioenskap nie.

Ons is nou oorgelewer aan die Bok-bestuur se groter plan.

Die verblydende boodskap vandeesweek was die afrigter wat sy groep uitgedaag het deur te sê die toetse teen die Aussies, Kiwi’s en Poemas (op 10 Augustus, ’n wegwedstryd) moet gebruik word om hom te oortuig hulle hoort in die WB-groep. Proeftoetse, met ander woorde.

Rassie weet die tyd loop uit voor die Groot Eksodus begin van senior spelers wat ná die Japan-skouspel hul heil oorsee gaan soek.

Anders as Hansen, wat al meermalige sukses behaal het, het nasionale afrigters gewoonlik maar ’n kortstondige termyn in die warm stoel.

* Gebruik dus jou kans Rassie, en die talent tot jou beskikking. Moet jou nie laat voorskryf nie. Vanjaar is jou (en ons) beste kans op sukses.

Koebaai en dankie vir vis

Skuimkop lees ná die Craven- en Akademieweek vir hoërskoolspanne sal hoogstens 25 van die outjies ’n aanbod uit een van die plaaslike provinsies kry, ’n junior kontrak en toegang tot die beroepsgeledere.

Veel meer sal met euro, jen en selfs dollar gelok word om vir oorsese klubs te gaan speel.

Gegewe die nypende geldtekort in SA rugby, die inkorting van kontrakte vir spelers en die stropery van senior en skynbaar nou selfs skoletalent, gaan dit Skuimkop se verstand te bowe dat ons rugbybase wragtig voortgaan om die spel in Argentinië te help groei.

’n Jaguares-vyftiental sal in die komende Curriebekerreeks se Eerste Liga speel. Sy hoofkwartier is in Potchefstroom. Net die Argentyne sal hierby baat. En ons weet hoe gesond dié land se rugby is. Jy daag lank nie meer net op en klop die Poemas nie.

* SA Rugby moet eerder daarop fokus om ons beste jong spelers te probeer behou. Skep speelgeleentheid vir dié outjies, eerder as om hand om die blaas te wees met die Poemas van môre.

Dre miljoen, Roger, drie. Dis hoeveel dollar my beleggings my gedurende die eerste pot in die sak gebring het, sê Bill Gates aan sy tennnismaat Rogor Federer. Foto: Getty Images

Beplan nou al

Maak seker jy sit vir Vrydag 7 Februarie 2020 verlof in by die werk. Dis die dag waarop grootste tennis Kaap toe kom, met Roger Federer en Rafael Nadal wat mekaar in die Kaapstad-stadion pak.

Die belofte is “bekostigbare kaartjies” (maar bekostigbaar is natuurlik oop vir vertolking).

Hoe dit ook al sy, om die twee supersterre in aksie te sien, kan ’n mens maar die beursie bietjie wyer oopmaak. Ook, dis ’n liefdadigheidswedstryd en die geld gaan ten bate van Afrika-kinders se onderrig.

Skuimkop wonder net oor die dubbelvertoonwedstryd vooraf, waar die twee tennislegendes saam met Bill (Microsoft) Gates en Trevor (The Daily Show) Noah in aksie gaan wees.

Wie van die twee bekendes kan ’n raket goed vasgehou? Waarskynlik ons man Trevor.

* Al waarop Bill ’n onverbeterlike houvas het, is sy verbluffend sakeryk met ’n geskatte netto waarde in 2019 van $103,3 miljard.

Meer oor:  Bokke  |  Proteas  |  Superrugby  |  Skuimkop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.