Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Versterkwater en drome op dubbelbed

Met die verloop van die jare is daar in Skuimkop se huishouding stelselmatig wette geproklameer wat betref regstreekse sport op TV kyk.

Blyk dat die minister van vrede en versoening – sy met géén aanvoeling vir sport – net soveel van ’n geraas en geblaas kon verduur voor ingryping nodig geag is.

Ons hét hom, die Wêreldbeker is Engels... wag ’n bietjie, moet ons nie nog agt wedstryde speel nie? Foto: Getty Images

Só is daar toe ’n verbod op enige onwelvoeglike taal geplaas indien meer as een in die teenwoordigheid van ’n regstreekse sportuitsending is.

Oortredings is strafbaar met verbanning tot die ongemaklike enkelbed in die spaarkamer. Of die konfiskering van die sleutel van die kabinet waar die versterkwater (juis vir groot sportgeleenthede) gebêre word.

Menige aande het Skuimkop al droë bek op dié klapperhaarmatras aan die slaap geraak.

So, die minister se verbasing was groot toe daar Donderdag tydens en ná die Protea-krieketspan se Wêreldbeker-loesing teen Engeland op die Oval nie soveel as ’n boe of ba uit die TV-kamer gehoor is nie.

Dis nooit lekker om jou span te sien verloor nie. Veral nie op dié manier nie. Boonop teen die selfvoldane Bleekbene, wat ná dese seker as “onstuitbaar” deur die Engelse media beskryf gaan word.

Maar hier is iets om aan te herkou: Skuimkop dink dis waarskynlik die béste ding wat met die Proteas kon gebeur het.

Engeland, met reg die beste eendagspan ter wêreld, is vinnig uit die blokke. Maar die toernooi is lank.

In vanjaar se WB-formaat gaan spanne elk in nege wedstryde speel voor die laaste vier bepaal word. Teoreties gesproke moet jy dus ses van die nege wen om ’n kans te staan om die halfeindronde te haal.

So die handvol erkende Protea-kolwers wat Donderdagaand met lawwe houtjies hul kolfkans verydel het, kan gaan besin hieroor met die wete daar is nog geleentheid om te verbeter.

Hopelik kan hulle oor ’n wedstryd of twee die veggees vind wat die lotjie boulers in die kragmeting gewys het.

Engeland se kolwers, daarenteen, sal weet hul goeie begin sal vorentoe dieselfde en selfs hoër verwagtinge by hul tuisskare en die media gekweek het.

Daar sal nog groter druk wees. En druk, soos almal weet, is ’n verraderlike gedierte.

* Tot voor die uitklopfase sal Skuimkop dus sy woorde voor die TV-stel versigtig tel, derhalwe ’n paar betwisbare enkels skink en agterna op die minister se dubbelbed oor WB-glorie droom.

Italië se Ian McKinley het sy Vespa sommer langs die stadion parkeer, maar in sy haas om betyds vir die afskop te wees, vergeet om sy stofbril af te haal. Foto: Getty Images

Sien jy nou?

Destyds het mense van heinde en verre vir ’n rugby-feesmaal na stadions groot en klein opgeruk.

Eers peuselhappies as twee streekskole mekaar laatoggend takel. Dan ’n voorgereg van klipharde klubrugby. Uiteindelik die hoofdis: die provinsiale ouens draf op.

Nagereg is gewoonlik agterna, op pad terug huis toe, iewers by ’n steakhouse of hotelkroeg (of albei) opgedis.

Menige mistroostige Wes-Kaapse wintersdae het Skuimkop in plaaslike paviljoene in dié feesmaal gedeel. Die spel het mense as ’n gemeenskap bymekaar gebring. Daar is saam gejuig en saam gekreun. Sommige was meer luidrugtig as ander en die kwinkslae was volop.

Met die koms van die beroepsera het dit grotendeels verdwyn. Jy kan jou feesmaal van skole-, klub- en provinsiale rugby op TV kyk.

Vooruitgang. Vernuwing. Dis waaroor als deesdae gaan.

Neem byvoorbeeld Wêreldrugby se onlangse besluit wat spelers op alle vlakke sal toelaat om ’n spesiale sportbril te dra. Dit, sê die beheerliggaam, is deel van sy poging om inklusief te wees.

Die bril beskerm nie net spelers se oë in kontaksituasies nie, dit gee ook diegene met swak sig (of sig in een oog) die kans om “met groter gemak” rugby te speel omdat die bril met voorskriflense toegerus mag word.

Skouer- en skeenskutte, arm- en kopskerms. Nou brille. Wie weet, oor ’n dekade of so kan die deursnee-rugbyspeler dalk soos ’n Stormtrooper van Star Wars-faam lyk?

Intussen kan Skuimkop aan ’n paar Springbokke onder die hoë bal dink wat in die komende Wêreldbeker-toernooi in Japan kan baat vind by dié brille.

* En dalk herleef ons ná dese op ’n heel nuwe vlak daardie vermaaklike oomblikke van destyds, waar ’n grapjas tydens ’n wedstryd bo die geroesemoes in die stadion sou skree: “ref, jou vrou het gebel ... jy’t jou bril by die huis vergeet!”

Meer oor:  Wêreldbekerkrieket  |  Skuimkop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.