Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skuimkop: Wen eers ’n WB en kritiseer dán
Watter voorbeeld stel nasionale helde wat opkikkers gebruik vir kinders wat ook op die sportveld wil uitblink? Die talentvolle Bok-vleuel Aphiwe Dyantyi in ’n Barbarians-trui voor die stryd teen Argentinië op Twickenham verlede jaar. Hy word tans vir galopsop ondersoek. Foto: Gallo Images

’n Mens is so half geneig om die Iere van ’n ligte aanvalletjie van suur druiwe te beskuldig, synde bewerings dat ons rugbyspelers galopsop – opkikkers – gebruik.

Om dié rede, seg hulle, behoort die storie oor die Springbokke se Wêreldbeker-sukses(se) met ’n voetnota gelees te word.

Suid-Afrikaanse rugby het “lang geskiedenis met verbode middels”, skryf die voormalige Ierse toetsslot Neil Francis in sy rubriek vir die Irish Independent-dagblad.

Voor dit het die Ierse joernalis Ger Gilroy prontuit gesê die Bokke verdien nie vanjaar se die Webb Ellis-trofee nie, weens die “dwelmkultuur” in SA rugby.

Dis nogal voorbarig komende van ’n land wie se span nog nooit verder as die kwarteindronde van die WB-toernooi kon vorder nie.

Ook, met twee Suid-Afrikaans gebore voorspelers – Jean Kleyn (slot) en CJ Stander (agtsteman) – in sy geledere vir die skouspel in Japan, dink Skuimkop dié vingerwysing was nogal ironies.

Maar hokaai vir ’n oomblik. Kyk ons na wat die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport (Saids) oor die kwessie sê, begin ’n mens wonder of die twee bitterbekke nie straks die naald in ’n gevoelige senuweetjie gedruk het nie.

Feit van die saak is, daar is wél op junior vlak voorvalle van opkikkergebruik. Statistieke wys al hoe meer plaaslike laaities op skool gebruik galopsop om beter op die sportveld te vaar. Saids beskryf dit self as “kommerwekkend”.

So hoe, wonder Skuimkop, laat skole dié skelmstreke toe? Wat van afrigters? En ouers?

Daar is net één manier om dit te beveg. As ’n kind gevang word opkikkers gebruik, moet hy of sy verbied word om vir ’n jaar of twee aan enige sportaktiwiteite deel te neem. Maar die skole moet óók swaar gestraf word. Vir ’n seisoen geen deelname aan interskoolse sportgeleenthede in die skuldige se ouderdomsgroep nie, byvoorbeeld.

En toets die kinders. Gereeld. Veral buite-seisoen.

Slaan hulle (figuurlik gesproke, natuurlik) waar dit séér maak.

* Dis al hoe die nare gerugte oor ’n “dwelmkultuur”, wat nou ook onregverdig aan die nasionale span se kapstok gehang word, uitgewis gaan word.

Tendai Mtawarira spog met sy TAG Heuer Aquaracer-polshorlosie – die een wat Eddie Jones se Engelse nie kan bekostig nie. Foto: Gallo Images

Hoe laat is dit, Eddie?

As dit ’n bitter pil was vir Eddie Jones om te sluk, het hy dit goed weggesteek.

Die afrigter van Engeland se verloorspan in die WB-eindstryd, het agt Springbokke in sy Barbarians-span vir Saterdag se wedstryd teen Fidji op Twickenham.

Drie van dié agt het onlangs tot die Rose se ondergang in Japan bygedra: Makazole Mapimpi, Lukhanyo Am en Tendai Mtawarira.

Tydens ’n spanvergadering vandeesweek voor die stryd, was daar ’n insiggewende oomblik. Daar sit die klomp spelers in die spankamer, met Eddie wat nader staan vir ’n motiverende boodskap of iets dergeliks.

Dan tree hy vorentoe, wys na Mtawarira se indrukwekkende polshorlosie en sê: “Sien ouens, dís wat jy kan bekostig as jy die Wêreldbeker verower”.

* Beast is in Saterdag se beginspan. Het hy op daardie spesifieke oomblik vir Eddie gesê: “En dis nou presies 12:32, coach!” sou hy waarskynlik nie eers ’n plaasvervanger gewees het nie.

Wat ons eintlik wil sien . . . Graeme Smith, oud-kaptein, wat krieketgedagtes met Faf du Plessis, huidige kaptein, deel. Wat ons gaan sien is Thabang Moroe in die presidentslosie, met ’n hoenderboudjie en ’n glas chardonnay in die hand. Foto: Gallo Images

Goed gespeel, Biff!

As Suid-Afrika se suksesvolste toetskrieket-kaptein ooit het hy menige situasies voor die penne beleef waar hy flink moes dink en vlug van voet moes wees om te oorleef.

Maar Graeme Smith het nêrens in sy ganse loopbaan as kolwer beter besluitneming en voetwerk gewys as toe hy vandeesweek ’n potensieel lewensgevaarlike opslagbal van Krieket Suid-Afrika ontwyk het nie.

Laat Skuimkop verduidelik.

Biff het sy naam in die hoed gegooi as kandidaat vir KSA se direkteur van krieket, ’n pos tydelik gevul deur Corrie van Zyl voor sy omstrede skorsings deur Thabang Moroe, die beheerliggaam se oppergesag.

Die direkteur is veronderstel om die Proteas se afrigter (deesdae spandirekteur) en helpers aan te stel en saam met die breier te besluit wie vir die nasionale span moet speel.

Net die KSA-baas is bo die direkteur. Thabang, met ander woorde.

Smith het egter, enkele dae nadat sy naam as kandidaat genoem is, gesê hy onttrek aan die proses. Hoekom?

Omdat hy besef het besluite oor die nasionale span se toekoms – hetsy wie moet speel, wie moet afrig – sal net in werking tree as sy lynhoof dit goedkeur. Thabang, met ander woorde.

Smith sê hy het in sy gesprekke met KSA nooit die vertroue ontwikkel dat hy die vlak van vryheid en ondersteuning gaan kry wat nodig is om met veranderinge te begin nie.

Ons kla gedurig oor “intellektuele eiendom” wat nie benut word nie, spelers wat ná uittrede verlore is vir die spel. Mense met bewese kennis, wat bereid is om te help. Wat iets terug wil ploeg.

En nou dit.

Goed gespeel, Graeme Smith. Jy het jouself jare se frustrasie gespaar.

* Vir ons Protea-ondersteuners lê daar egter nog bitter teleurstellings vorentoe, veral met Thabang wat op sy troon sit en die spel dikteer.

Meer oor:  Graeme Smith  |  Ksa  |  Beast Mtawarira  |  Barbarians  |  Proteas  |  Eddie Jones  |  Opkikkers  |  Skuimkop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.