Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wêreldbeker moes 2 base gekry het
Die span wat die meeste grenshoue in 2019 se Wêreldbeker-krieketeindstryd geslaan het, hou sy trofee vir dié vertoning omhoog. Foto: Getty Images

Wie het nog naels oor ná krieket se Wêreldbeker-eindstryd op Lord’s verlede naweek?

As jy vooraf ’n paneel skrywers bestaande uit John Grisham, Michael Connelly, Stephen King en ons eie Deon Meyer en Karin Brynard bymekaar gekry het met die opdrag om ’n begin, middel en einde vir dié kragmeting te skryf, sou hulle sweerlikwaar nie met dié storielyn vorendag gekom het nie!

Opwinding in ooraanbod, dramatiese kinkels, hoogspanning, angs, ekstase.

Ná 102 beurte is Engeland, gasheer vir die skouspel, vir die eerste keer (op ’n tegniese punt) as wêreldkampioen gekroon.

Nie Skuimkop se eerste keuse nie. Maar welverdiend. Die span was feitlik die hele toernooi lank skitterend.

Vir Nieu-Seeland kan ’n mens net jammer voel, want alles wat in daardie senutergende doodsnikke verkeerd kon loop (en waaroor hy géén beheer gehad het nie) hét verkeerd geloop.

Wat ons by die punt bring wat gemaak moet word. Die Internasionale Krieketraad moet ernstig herbesin oor hoe ’n wenner bepaal word in die (uiters unieke) geval waar twee spanne ná 50 beurte en ’n superbeurt elk stééds gelykop is.

In alle regverdigheid glo Skuimkop die trofee moet dan eerder gedeel word. Albei spanne verdien immers dié eer as daar na 102 beurte stééds nie ’n regstreekse wenner is nie.

’n Ander opsie is om eerder te kyk watter span in die loop van die toernooi die beste netto-lopietempo gehandhaaf het.

Of watter een van die twee die meeste oorwinnings in die groepwedstryde behaal het. ’n Tipe maatstaf wat die ganse toernooi in ag neem, dus.

* Om, soos op Lord’s, die oorwinning toe te ken aan die span wat die meeste grenshoue in die eindstryd geslaan het, maak geen sin nie en onderstreep weer dat kolwers in die korter weergawes van die spel bevoordeel word.

Kyk daar, Siya, dáái lawwe ou sien nog steeds ’n Springbok vir ’n kwotaspeler aan, sê Rassie Erasmus aan sy kaptein. Foto: Getty Images

Soek die silwer randjie

Die bal was nog nie eens in spel in die opkomende internasionale rugbyseisoen nie, toe mor die gepeupel in plaaslike paviljoene reeds oor “kwota-dit en kwota-dat”.

Dis natuurlik na aanleiding van Rassie Erasmus se “eksperimentele” Springbok-span vir Saterdag se toets in die Rugbykampioenskap teen die Australiese Wallabies op Ellispark.

Verstommend!

Dis asof hierdie bende brommelaars met kwylende monde voor hul rekenaars sit wag vir die geleentheid om gal te braak elke keer as ’n nasionale span gekies word.

“Ek sien ou Rassie speel sommer vroeg sy kwotakaarte,” skryf een. “Wil seker sy base beïndruk en sy pos behou.”

“Ag nee wat,” kla ’n ander, “met so ’n span vol has-beens en regstellende aksies gaan ek nie my tyd mors nie. Hier kom ’n groot wen vir die Wallabies.”

“Hierdie transformasie-C-span staan nie ’n kans teen die Aussies nie. Wat ’n klug.”

En so gaan dit aan.

Die arme drommel wat dit durf waag om iets positiefs te sê in die maalstroom van nydigheid, word self ’n teiken en word b(l)itsig op sy plek gesit.

Wat is dit met onse mense? wonder Skuimkop.

Dit wil voorkom asof daar nie meer ruimte vir positiewe denke is nie. Dis asof dit totaal ondenkbaar is om iemand (soos Rassie, byvoorbeeld) die binnevet van die boud te gee.

Al wat gedurig opborrel, is negatiewe neigings. Niks opbouend nie. Die kwêrkoor sien net donker wolke, géén silwer randjies nie. In dié femelaars se tonnel is die lig wat daar voor skyn, wél ’n aankomende trein.

* Nie almal sal saamstem oor gelaaide kwessies soos spankeuses nie.Maar ’n gesonde, opbouende debat is tog ’n veel beter manier om jou mening te lug as ’n ewige en afgesaagde geteem oor kwotas en regstellende aksie, nie waar nie?

Norma Plummer lyk dalk soos iemand se vriendelike ouma, maar dié ystervrou ken van sweep klap as dit by afrigting kom. Foto: Getty Images

Blom van trots

Veels geluk aan die Protea-netbalspan met hul skittervertoning in die Wêreldbeker-toernooi!

Om die halfeindronde in sulke uitgelese geselskap te haal, wil gedoen wees.

Ja, die Engelse, Australiërs en Nieu-Seeland is waarskynlik steeds ’n treetjie voor ons wat vaardighede betref, maar die groot gaping van die verlede raak al hoe kleiner.

Norma Plummer (afrigter) verdien ’n pluimpie. Met ’n beperkte begroting tot haar beskikking en bitter min blootstelling vir die Proteas op internasionale vlak, het sy steeds ’n baie mededingende span gevestig – ’n span wat feitlik oornag plaaslike sportliefhebbers se verbeelding aangegryp het.

Skuimkop wens die vroue sterkte toe vir die groot stryd Saterdag teen die Aussies. In die uitkloprondes kan énigiets gebeur.

* Ons staan bankvas agter julle, Proteas. Ons is trots op wat reeds bereik is. ’n Opskudding of twee die naweek sal die kroon span!

Meer oor:  Skuimkop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.