Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Só kan hulle Bokskrum regdokter

Elton Jantjies se verbroude strafskop sal uit vele oorde beskou word as die rede waarom Suid-Afrika nie Saterdag vir Australië geklop het nie, maar hy verdien beswaarlik om uitgesonder te word.

Inteendeel, die grootste enkele faktor in die verskil tussen ’n sege en die gelykopstryd in die Rugbykampioenskapstoets in Bloemfontein was Suid-Afrika se flou skrumwerk.

Gaan Pieter de Villiers binnekort weer ’n ogie oor die Springbokke se skrumwerk hou? Foto: Gallo Images

Dis ’n faset waar die Bokke die Wallabies nog altyd in die nabye verlede kon boelie, maar Saterdag het die besoekers die septer geswaai.

Waarom? Die vernaamste rede is waarskynlik dat Suid-Afrika se voorste vaskopstutte nie beskikbaar is nie.

Frans Malherbe en Coenie Oosthuizen is beseer, terwyl ’n ander logiese keuse, Vincent Koch, vir Saracens uitdraf. Hy het nog nie die vereiste 30 toetse gespeel om as oorsese speler vir die Bokke oorweeg te kan word nie.

Gevolglik moet die Bok-afrigter, Allister Coetzee, sy heil by Ruan Dreyer, Trevor Nyakane en Wilco Louw vind.

Teen nou het ons genoeg van Dreyer gesien om met reg te kan wonder of hy opgewasse is vir toetsrugby.

Gegewe dat Nyakane op die plaasvervangersbank was, sou dit net regverdig wees dat hy vandeesweek ’n geleentheid gebied word. In Coetzee se skoene sal ek vir Louw op die plaasvervangersbank kies. Dit sal die spreekwoordelike vuurdoop wees, maar wat is daar om te verloor?

Oor Nyakane se deugde as vaskopstut het ek my bedenkinge. Is hy nie eintlik ’n loskop nie? Nietemin – hy verdien ’n kans.

Met die oog op die toekoms kan die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) dalk ook oorweeg om die reël van 30 toetse te wysig.

Dit hoef nie as sulks verslap te word nie, maar dalk op ’n ander manier toegepas word. Eerder as om die kerf 30 toetse te maak, kan daar dalk oorweeg word om ’n maksimum van drie spelers wat oorsee gesetel is in ’n groep te mag oorweeg.

Só ’n reël het al in die verlede gegeld, maar in ’n era waar dit nog ’n skok was as ’n Bok ’n oorsese kontrak aanvaar het.

Indien my vermoedens hier in die kol is, is dit een van vele ongemaklike situasies ten opsigte van Bokrugby wat oor die komende maande uitgepluis gaan moet word.

Die idee is immers om ’n “afskrikmiddel” te hê vir spelers wat oorweeg om ter wille van finansiële oorwegings oorsee Suid-Afrikaanse rugby die rug toe te keer. Terselfdertyd wil jy jou beste span in die veld kan stoot, wat nie tans die geval is nie.

Wat afrigting betref, behoort Saru te oorweeg om vir Pieter de Villiers, die voormalige Franse vaskopstut, as skrumkonsultant te betrek. Hy was deel van die opset voordat Rassie Erasmus die pos van Munster se direkteur van rugby aanvaar het, maar Coetzee se keuse van Matt Proudfoot as voorspelerafrigter het vir De Villiers oorbodig gemaak.

Die winde van verandering behoort egter te waai nou dat Erasmus na Saru terugkeer en dit sal my glad nie verbaas nie indien De Villiers aanstaande jaar weer betrek word.

Ek sê aanstaande jaar, want Erasmus sal waarskynlik eers laat vandeesmaand of aan die begin van November in sy pos by Saru kan begin.

Hy sal slegs betekenisvolle insette ten opsigte van die jaareindtoer kan lewer indien Coetzee daarvoor ontvanklik gaan wees. Dis egter ’n komplekse situasie gegewe dat Coetzee nog altyd op Proudfoot as sy hoofluitenant geleun het.

Indien my vermoedens hier in die kol is, is dit een van vele ongemaklike situasies ten opsigte van Bokrugby wat oor die komende maande uitgepluis gaan moet word.

Om die Springbokke na die volgende vlak te neem, gaan egter verg dat die rolspelers plooibaar is en ook nie van uitdagende situasies wegskram nie.

Meer oor:  Bokke  |  Stephen Nell  |  Rugbykampioenskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.