Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sokker se VAR-nuk bied g’n waarborg
Ter Illustrasie

Die sewe spelende plaasvervangers was net die tweede domste idee wat rugbybase in die laaste tyd gehad het. Dit het natuurlik daartoe gelei dat die laaste 20 minute van ’n wedstryd, eerder as die logiese ontplooiing van die eerste uur, nou ’n meestal vervelige chaos is van spelers wat kom en gaan.

Die domste idee was die TV-skeidsregter. Rugby se grootste probleem is te veel oponthoud. Iewers tussen die eindelose sta-a-a-adige kykweers vermoed ek ek het jou wragtig meer van sokker begin hou. TV-skeidsregters was die uitvloeisel van die menige toevallige TV-entoesiaste.

Regte ondersteuners weet vrot skeidsregtersbeslissings val op die lange duur só weerskant dat dit uitbalanseer. Regte ondersteuners weet vrot skeidsregterbeslissings gee jou boonop ’n verskoning as jou span verloor het.

Nou flankeer die einste sokker met TV-skeidsregters.

In sokker noem hulle dit VAR – Video Assisted Refereeing – en ons rugbymanne sou hulle lankal kon inlig VAR beteken allermins die VARheid. In ’n kort rukkie in sokker was dit al dikwels in die spervuur oor foute.

Nou gaan dié nuutjie by sokker se Wêreldbekertoernooi in Rusland gebruik word. Die meeste beamptes het egter g’n ervaring daarvan nie. Johannes Holzmueller, baas van tegnologiese vernuwing by Fifa, erken hy sweet ’n bietjie, maar sy grootste vrese oor die vernuwing is besweer.

Sal maar skrale troos wees vir ondersteuners van ’n span wat weens foutiewe tegnologie uitgeknikker word.

Holzmueller seg die tegnologie is so goed soos dit op die oomblik kan wees. “Dis tegnologie. Dit kan misluk,” sê hy. Sal maar skrale troos wees vir ondersteuners van ’n span wat weens foutiewe tegnologie uitgeknikker word oor ’n verkeerde onkantbeslissing.

Een van sokker se grootste bates is hoe min dit tot stilstand kom, maar hiervandaan gaan dit ondergrawe word. As jy die dag besluit om al jou mees ondergemiddelde refs in ’n losie met ’n kykweer te sit, gaan iets van jou sport se siel verlore. Om van jou eie siel nie te praat nie.

Rus toe 'n Duitser

Wêreldbekersokker is natuurlik selde meer die aanskoulikste of vernuwendste weergawe. Breiers hou dinge so eenvoudig as dit kan. Hulle het immers nie veel tyd met hul spanne nie. Maar met nasionale eer op die spel, is dit steeds die een sokkertoernooi wat die hele wêreld vir ’n maand laat kyk.

Wladimir Poetin (2009)

TV-skeidsregters is nie die grootse kopseer nie – Russiese sokkerskollies was lekker lank hand om die blaas met Wladimir Poetin se regering. Toe ’n afvaardiging van dié brekers in 2016 deur Marseille op loop gegaan het en Engelse ondersteuners flenters geslaan het, was hulle duidelik ’n nuwe geslag sokkerskollie – gespierd en deeglik onderrig in gevegskuns.

Die arme bierpens-Poms het nie ’n kans gestaan nie en die Russe was nasionale helde tuis.

Nou dat die oë van die wêreld op sy land is, is Poetin minder geneë met dié verteenwoordigers van Moedertjie Rusland, so die strate van Moskou en St. Petersburg lyk dalk weer weldra soos dit meer as ’n eeu gelede gelyk het.

Nes die tsaar destyds, hoop Poetin glo om die orde met Kosakke te handhaaf. Vir ’n oomblik het die idee van ’n horde omgesukkelde Ivan Rebroffs my breed laat glimlag, maar die pelshoed is al wat Rebroff met dié klomp omgesukkelde ouballies gemeen het.

Vind ek toe verlede week tot my skok uit dié “Rus met die vier-oktaafstem”, soos hy destyds hier aan ons goedgelowiges aan die suiderpunt verkoop is, se regte naam was Hans-Rolf Rippert en hy kom uit Berlyn, nie ’n klein dorpie langs die Don of die Wolga nie.

Vir groter ontnugtering wag ons maar op die VAR.

Wys my die geld

Sale Sharks se Steve Diamond trek te velde oor die £1 miljoen wat Charles Piutau nou by Bristol gaan verdien. Diamond meen – en nie sonder rede nie – dat sulke verspotte salarisse rugby kan breek, omdat daar eenvoudig nog nie genoeg belangstelling in die sport is nie.

Exeter Chiefs was verlede seisoen die enigste Engelse Premierliga-klub wat enige wins gemaak het. Die meeste van die res se geldsake lyk net so beroerd as dié van ons plaaslike . . . oukei, laat ek nie helemaal op hol gaan met die waarheid nie, maar dit lyk nietemin nogal sleg.

Diep in my binneste begin ek al wonder of dit nie dalk die beste sal wees as die yslike rugbysirkus ’n merske finansiële knou kry nie.

Diep in my binneste begin ek al wonder of dit nie dalk die beste sal wees as die yslike rugbysirkus ’n merske finansiële knou kry nie. Dan kan ’n mens die beroepsport dalk beter herbou as die skeefgetrekte misbaksel van ’n stoeiery waarmee ons nou sit.

Kleiner salarisse beteken baie minder wedstryde, wat ’n meer gesogte produk maak. Dit beteken baie minder beserings, wat baie beter rugby sal beteken. En baie beter rugby sal baie meer belangstelling lok; dan is £1 miljoen-salarisse ook nie meer so vergesog nie.

Meer oor:  Louis De Villiers  |  Kaapstad  |  Sokker  |  Rugby  |  Sport  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.