Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Soos ou Jan se kat kan CB weer kom

Dit is vir die uwe nog altyd ’n moeilike kwessie om te sê hoeveel ’n sportman se private lewe met die grootbase van sy sport en die breë publiek uit te waai het. Dis onregverdig dat ’n talent vir sport beteken dese en gene kan hulle met jou private lewe bemoei.

’n Federale Switserse hof het anderdag ’n skorsing van 14 maande wat die Peruaanse sokkerkaptein, Paolo Guerrero, weens kokaïen opgelê is, na ses maande verkort sodat hy aan die Wêreldbekertoernooi kon deelneem.

Jy kan redeneer dat kokaïen jou allermins ’n beter sokkerspeler maak en dit ’n saak vir die gereg is. Terselfdertyd kan jy sê Guerrero is ’n rolmodel vir die jeug, hoewel die jeug van Suid-Amerika beswaarlik aanmoediging nodig het om hulle aan die “duiwel se skilfers” te vergryp.

Kokaïen is slegte nuus vir jou hart, jou sinusse en jou bankrekening, maar Danny Cipriani se pad na verdoemenis is die minder eksotiese ene van dop en vroue – sy Engeland-loopbaan is sweerlik verby nadat ’n hele tros laaste waarskuwings verlede week in die hof in Jersey geëindig het.

  • Dat hy rugby kan speel, ly min twyfel. Maar soos ’n paar manne voor hom, is die ou gesegde op hom van toepassing: “Dronk, gekonfoes – sy loopbaan’s verwoes . . .” Of hoe gaan dit?

*****

Gepraat van “minder eksoties”: Selfs die gewoonlik onsentimentele ekke wil-wil ontsteld raak oor die powere paadjie wat die eens verpligte kykstof van Curriebeker-rugby deesdae bewandel. Die kleiner unies se begroting is só dat hulle dalk van hul wegwedstryde wil prysgee.

Nou moet ons waak teen krokodiltrane. Almal wil gereeld weet hoekom die Nieu-Seelandse NPC sy identiteit kan behou én as voederstelsel vir vier gedugte Superrugbyspanne (en die Blues) kan dien.

Nieu-Seeland het in die eerste plek die helfte soveel beroepspelers as Suid-Afrika. En Nieu-Seelandse spelers word sentraal gekontrakteer.

Dit sou natuurlik onregverdig wees om Suid-Afrika se kleiner unies vir spandabelrigheid uit te kryt – die grootste sondaars skuil tussen die toetsunies, waar die rand van bankrotskap ’n alledaagse werklikheid is.

Almal wys vinger na die SA Rugby-unie en, hoewel dié weleerwaarde liggaam gereeld latte vir sy eie agterent sny, is dit heeltemal te maklik.

  • Almal vra ook gereeld hoekom ons vyftienmanspanne soveel treuriger as ons immer mededingende sewesspan is. Dié is standaardstellers in hul kode, word heeltemal nie-rassig saamgestel en is alomgeliefd. Is dit toevallig dat die provinsies net mooi niks met die Blitsbokke uit te waai het nie?

*****

Maar al lyk die Curriebeker-kompetisie ook op sterwe na dood, is dit g’n uitgemaakte saak dat dit hiervandaan net agteruit sal gaan nie. Om die waarheid te sê, ’n Curriebeker-kompetisie wat in ere herstel is en Europese mededinging vir die beste spelers is dalk net die regte medisyne om hierdie onverkwiklike tye dalk eendag na ’n relatiewe laagtepunt te laat voel.

Hoe maklik ’n toernooi kan glans herwin, kon ons onlangs in die sokkerwêreld sien. As een van talle laaities wat eintlik ons sokkertande geslyp het op weeklikse uitsendings van die Italiaanse Serie A in die tagtiger­jare, was die agteruitgang daarvan die afgelope dekade ’n hartseer saak.

Maar al wat dit geverg het, was die Portugese superster Cristiano Ronaldo wat sy goed gevat en geloop het by Real Madrid en dié seisoen vir Juventus speel, en alles is sommer klaar meer honkiedorie.

Skielik is die Scudetto weer wêreldwyd nuus.

En ons kry dit ná jare weer dié seisoen op ons TV’s te siene.

) Ál vangplek is dat Juventus natuurlik die afgelope sewe Scudetti op ’n streep gewen het. Cronaldo, wat gister sy ligadebuut teen Chievo se Vlieënde Donkies gemaak het, maak ’n agtste wen agtereenvolgens nóg meer waarskynlik. As skouspel voorspelbaar word, vervaag die rede dat ons wil kyk.

*****

Van voorspelbaar gepraat, die All Blacks se triomftog in Sydney het daarvoor gesorg dat die Bledisloe­beker vir die 16de agtereenvolgende seisoen in Nieu-Seeland bly.

Waar dit rugbyliefhebbers nog lank vreugde sal verskaf om ’n span te sien rugby speel soos die Nieu-Seelanders – buiten as jou span aan die ontvangkant is – raak die voorspelbaarheid van hul oorwinnings tog effens afgesaag.

Met Australië gister kort voor die draaislag 6-0 voor het g’n niemand seker gedink hulle kon wen nie?

Soos die All Blacks die Suidelike Halfrond oorheers, word in die noorde gehoop dat hul relatief maklike afranselinge van Wallaby, Bok en Poema die All Blacks mettertyd sag sal maak sodat Engeland en Ierland hulle kan laat les opsê.

  • Met ’n Springbok-afrigter in Rassie Erasmus wat verstaan waar Suid-Afrika se sterkpunte lê, is dit dalk nie nodig nie. Dat ’n man ná al die jare nog ’n bietjie hoop het om aan vas te klou, is ’n pluimpie vir Erasmus en die Bokke.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.