Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Spele moet asems vir regte redes wegslaan

As dit waar is dat ons lewe voor ons oë afspeel in die oomblikke voordat ons die hiernamaals betree, is dit ’n gegewe dat elke persoon se rolprentrol verskillend sal lyk.

Wayde van Niekerk sal die emosies ná sy goue wêreldrekord-vertoning in Rio de Janeiro nooit vergeet nie. Foto: Gallo Images

Die mooiste oomblik in party mense se “fliek” is dalk hul eerstelinge se eerste asemteug, of ’n baba se eerste tree, of die eerste soen op ’n troudag.

Ander sal in hul laaste oomblikke ’n laaste gesprek met ’n geliefde herroep, sommige ’n paar ingrypende woorde met ’n vreemdeling.

En dan is daar die uitgesoekte paar wat ’n oomblik op die Olimpiese podium het om vir altyd te koester. Dié wat huilend op die boonste trappie na hul nasionale volkslied gestaan en luister het én dié wat trane van vreugde oor ’n bronsmedalje gestort het.

Daar is dié wat ’n leeftyd sal neem om die teleurstelling van ’n vierde plek en ’n verbryselde droom te oorkom. Dié wat vir die res van hul dae sal breëbors loop omdat hulle ’n Olimpiese eindronde gehaal het. Dié wat met ’n permanente vraagteken in die hart loop oor ’n swak wegspring of ’n geswikte enkel of ’n krampende spier op die Olimpiese verhoog.

Daar is geen ander arena waar soveel uiteenlopende emosies en herinneringe vastrapplek kry soos die Olimpiese arena nie. En juis dít is waarom dit ’n tragedie sal wees as uiteindelik besluit word om vanjaar wéér die Tokio-Spele uit te stel, soos al hoe meer Japanners in die laaste weke smeek.

Vir talle groot dromers sal daardie besluit hul enigste kans verpletter om die Spele by “Eendag se laaste rolprentrol” te voeg. Maar hul ideale is ongelukkig nie al wat saak maak nie.

Ek was bevoorreg genoeg om twee Olimpiese Spele te dek, en gevleuelde woorde oor die heldedade van goue Suid-Afrikaners soos Cameron van der Burgh, Chad le Clos, Wayde van Niekerk en Caster Semenya huis toe te stuur. In my rolprentrol sal sekerlik ook flitse van Londen in Julie 2012 en Rio de Janeiro in Augustus 2016 wees. ’n Olimpiese skouspel laat bokspring immers nie net die deelnemers se harte nie.

Maar dis juis my ervaring van hoe magies die Olimpiese ervaring kan wees wat maak dat ek my skaar by diegene wat sê die Spele kan nie vanjaar voortgaan nie.

Die organiseerders het tot in Maart verlede jaar probeer hoes teen die donderweer van ’n groeiende pandemie, maar uiteindelik aanvaar dat ’n normale Spele onmoontlik in ons nuwe, abnormale wêreld is.

’n Tranerige Chad le Clos vier die grootste oomblik van sy jong lewe op die boonste trappie van Londen se Olimpiese podium in 2012. Of hy vanjaar weer sal kan jag maak op goud, bly steeds ’n ope vraag. Foto: Gallo Images

Met ses maande oor voor die Spele se nuwe begindatum van 23 Julie, raak dit al hoe duideliker dat “normaal” ons steeds teen dan nie beskore sal wees nie.

Alle aanduidings is dat inentings teen daardie tyd steeds vir miljarde meer ’n wens as ’n werklikheid sal wees. Dat dit steeds taboe sal wees om jou in ’n jubelende mensemassa te werp oor ’n landgenoot se goue sukses. Dat skouer-aan-skouer sit in ’n Olimpiese stadion sal grens aan dwaasheid, en dat die klankbaan van brulle en jille wat top-sport ontketen, steeds te veel spoeg en virus in die Tokio-lug sal versprei.

Natuurlik is daar ’n saak uit te maak vir ’n Spele sonder toeskouers. Ons sien al vir maande sport voor leë paviljoene en almal betrokke aanvaar dit as deel van die “nuwe normaal”. ’n Aansienlike hoeveelheid atlete sal waarskynlik sê hulle gee nie om hoeveel applous hulle op die Olimpiese podium kry nie, solank hulle net ’n medalje het om huis toe te vat.

En daar is die idee dat ’n Olimpiese Spele midde-in die ergste pandemie van ons leeftyd vir mense hoop sal gee dat ’n beter môre wag. Op daardie punt sal ek egter argumenteer dat leë paviljoene eerder harte sal laat sink.

Daar is geen maklike oplossing vir die Spele-tameletjie nie. Te veel jen en dollar is reeds ingestort om dit bloot te kanselleer – maar te veel onsigbare laksmanne dryf in die lug rondom ons om sonder meer voort te gaan.

My persoonlike gevoel is dat die Tokio-Spele na 2024 geskuif moet word, Parys sy beurt in 2028 moet kry en Los Angeles in 2032 moet gasheer speel. Dis natuurlik nie wat ’n 33-jarige in die skemer van sy loopbaan wil hoor nie – niemand wil met so ’n groot “Wat as?” in die gemoed loop nie.

Maar daardie atlete wie se Spele-drome deur twee Wêreldoorloë of Suid-Afrika se sportisolasie verydel is, het geen keuse gehad nie as om met “Wat as” saam te leef. Hulle moes aanvaar dat niemand kan beheer watter klippe die noodlot in ons pad rol nie.

Daar is geen twyfel nie dat Tokio ’n skouspel kan opdis wat mense hul asems laat intrek. Maar dit is ook ’n harde werklikheid dat ’n Tokio-Spele in die dae van Covid-19 mense om die verkeerde redes na asem kan laat snak.

En dít wil niemand hê nie.

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Japan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.