Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Gaan Rassie blasers geelkaart gee?

Dit gaan interessant wees om te sien waaraan Rassie Erasmus eerste aandag gee wanneer hy uiteindelik weer die leisels as die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se direkteur van rugby neem.

Die skeidsregter Cwengile Jadezweni (links) en sy assistent Marius van der Westhuizen in Saterdag se Curriebeker-rugbywedstryd tussen die Westelike Provinsie en Griekwas op Nuweland. Foto: Gallo Images

Munster, die Ierse streekspan waar Erasmus tans dié pos beklee, hoef hom eers aan die einde van Desember vanjaar uit sy kontrak vry te stel. As hulle gelukkig is,vind hulle voor dan iemand om hom te vervang sodat hy vroeg sy moue in Suid-Afrika kan oprol.

Tans bestaan die vrees dat daar dalk konflik tussen Erasmus en Allister Coetzee, die Springbok-afrigter, kan wees. Neem ’n mens Erasmus se pos in oënskou, is dit duidelik dat ’n pos geskep is waar die Bok-afrigter nie meer die oppergesag oor sake op die veld gaan hê nie.

Kortliks sal sy pos behels dat hy toesig hou oor al Saru se nasionale spanne, toernooie en die ontwikkeling van spelers, afrigters en skeidsregters. Dit sal Erasmus dus vrystaan om veldsessies by Coetzee oor te neem en weg te doen met enige van die huidige personeel of konsultante waarvan daar tans gebruik gemaak word.

Ons sal nog moet sien hoe hierdie situasie gaan ontvou, maar ons kan maar net hoop dit word gedoen op ’n manier waar die goeie behou word en die baba nie saam met die badwater uitgegooi word nie. Dit gaan in elk geval meer as een afrigter of een speler verg om weer met die All Blacks te kan saamgesels. Die oplossing lê in die groter prentjie en in daardie opsig is dit ook verblydend dat Erasmus se pos ’n oorsigrol oor skeidsregtersake behels.

Tans is dit nie net die gehalte van Suid-Afrika se skeidsregters wat ’n bron van kommer is nie, maar ook die werkverrigting van dié departement agter die skerms.

Afrigters kry glo minder gereeld terugvoering oor spesifieke reëlkwessies as voor André Watson se afdanking as Saru se bestuurder van skeidsregters in 2015.

Ek het ook betroubaar verneem van ’n voorval waar ’n skeidsregter vroeër vanjaar op die nippertjie vir ’n wedstryd vervang moes word omdat hy die vorige aand te laat en lekker gekuier en gevolglik ’n vlug verpas het.

Die verdienste van Watson se destydse afdanking – vernaam die gevolg van sy outokratiese bestuurstyl en verval in verhoudinge met skeidsregters – is moeilik om op peil te trek. Bertie Grobbelaar, Watson se prokureur, het my verlede week daarop gewys dat sy kliënt ontken dat sekere gesprekke, wat as verdoemende getuienis teen hom gebruik is, ooit plaasgevind het.

Soos sake staan, appelleer Saru teen die arbeidshof se beslissing dat hy vir Watson, met ’n finale waarskuwing, weer in sy pos moet aanstel. Misluk dié appèl, sal dit waarskynlik daarop neerkom dat Saru vir Watson ’n groot tjek moet uitskryf.

Terselfdertyd is die vraag of sy bestuurstyl ook nie vir hoër standaarde gesorg het nie as wat tans die geval is.

Buiten Jaco Peyper het Suid-Afrika nie meer ’n skeidsregter aan wie ’n groot toets toevertrou kan word nie. ’n Skeidsregterdepartement wat nie aan sy werketiek en dissipline geken word nie, is ook ’n bedreiging vir hoë prestasie deur die betrokke land se spanne.

Ek weet uit ervaring Erasmus stel hoë eise en daar is nie twyfel oor sy bestuursvermoëns nie. My enigste voorbehoud oor sy aanstelling is die moontlikheid van koppe stamp met Coetzee, want wie sal dan nou eintlik die Bokke afrig?

Daar is egter elders sake wat dringend aandag verg en skeidsregtersake tel straks onder hulle.

Meer oor:  André Watson  |  Rassie Erasmus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.