Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Stephen Nell: SA se spelers sal móét opoffer

Om te hoor dat jou werkgewer jou salaris wil verminder, is seker een van die slegste tydings wat jy kan kry.

En as daar een groepering mense is wat Covid-19 erg aan hul sakke gaan voel, is dit beroepsrugbyspelers.

Gaan Covid-19 rugby in ’n posisie laat waar selfs noord-suid-derbies sonder die meelewing van toeskouers gespeel moet word? Foto: Gallo Images

Om sake vir die spelers te vererger, is hul wêreldwye verteenwoordiger, die Internasionale Rugbyspelersvereniging (RPA), ten gunste daarvan. As al die klubs bankrot raak, gaan daar immers nie geld wees om enigiemand te betaal nie.

Dis dan ook waarom spelers by die Engelse klubs bereid is om te aanvaar dat als nie soos normaal kan aangaan nie. Van daardie spelers kan natuurlik bekostig om diamante vir hempsknope aan te skaf, maar nie almal val in dieselfde kategorie nie. Om ’n beroepspeler te word, maak jou toekoms selfs onder gewone omstandighede onseker.

Van die stappe wat reeds in die rugbywêreld gedoen of beplan word, is:

* Spelers by klubs in die Engelse Premierliga aanvaar ’n vermindering van 25% aan hul salarisse.

* Eddie Jones, Engeland se afrigter, het ’n vermindering van 25% aanvaar.

* Die Engelse Rugbyunie onderhandel om nasionale spelers se wedstrydgelde van £25 000 te sny.

* Ian Foster, afrigter van die All Blacks, sê hy en die spelers is oop vir ’n vermindering in hul salarisse.

* Rugby Australië dwing 75% van sy personeellede om drie maande se onbetaalde verlof te neem. Sy uitvoerende hoof, Raelene Castle, se salaris word met 50% gesny.

* Die VSA se Rugbyunie doen aansoek om bankrot verklaar te word.

* Martyn Phillips, uitvoerende hoof van die Walliese Rugbyunie, en Wallis se hoofafrigter, Wayne Pivac, se salarisse word met 25% verminder.

Nie almal het só drasties opgetree nie en ek hou van die Ierse Rugbyunie se benadering. Eerder as om salarisse te sny, het hy ’n ooreenkoms aangegaan om persentasies van spelers se salarisse later te betaal. Dit wissel van 10% tot 50%.

Terwyl die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) nog niks oor sy posisie gesê het nie, hoop ek laasgenoemde sal ook sy benadering wees. Of kan wees.

Volgens die plaaslike kontrakteringsmodel help Saru met die lone van spelers wat die beheerliggaam as “van landsbelang” beskou.

Gegewe die katastrofale impak van Covid-19 op die rugbybedryf, raak die vraag eenvoudig hoe Saru kan bekostig om sy pligte na te kom. Die spel se lewensbloed lê in sy uitsaairegte en indien daar onbepaald nie rugby op TV is nie, sal daar nie ’n inkomste wees nie.

As Covid-19 nie onder bedwang gebring kan word nie, kan die spel se heil selfs daarvan afhang om in leë stadions te speel.

Dink jou die volgende in: Die Bulle teen die Stormers op Loftus met wedstrydbeamptes, afrigters, plaasvervangers en SuperSport se personeel as die enigste toeskouers. Die Presidentslosie gaan leeg staan en afrigters kan joernaliste ná wedstryde op Zoom te woord staan.

Terwyl dit die spelers se salarisse is wat die verbeelding aangryp, is dit allermins net hulle wat in die bedryf geraak word. Sonder ’n produk is daar nie ’n behoefte aan personeel nie, wat baie hardwerkende mense by unies sal raak.

Dis dus verblydend dat al die belanghebbendes in Suid-Afrika – Saru, verteenwoordigers van die spelers, die werknemers se vakbond en die werkgewersorganisasie – die probleem verenig en sonder strydbyle aanpak.

Vir die rugbybedryf om die stryd teen Covid-19 te wen gaan groot opofferinge verg. Daarvan sal Suid-Afrika se spelers en werknemers nie kan wegskram nie.

Meer oor:  Koronavirus  |  Salarisse  |  Superrugby  |  Covid-19  |  Saru
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.