Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ben waardige opvolger vir Botham

Ian Botham se heldedade in die reeks om die As in 1981 was vir my nog altyd die toppunt van ’n individuele vertoning in toetskrieket.

Dié Engelse legende het amper 40 jaar gelede die reeks teen hul aartsvyand, Australië, in die laaste drie toetse op sy kop gekeer met sy verstommende boulskofte en kolfbeurte. Dít het hom krieket se superster in die jare tagtig gemaak.

Australië se paaltjiewagter Rod Marsh wens Ian Botham geluk ná sy onoorwonne 149 op Headingley in 1981. Foto: Getty Images

Ben Stokes het die afgelope naweek op Headingley in Botham se voetspore gevolg en saam met sy vertonings in die Wêreldbeker-toernooi, kan die rooikop met reg nou as die moderne Botham beskou word.

As iemand wat in die middel-sewentigs gebore is, het ek in my grootwordjare nie toetskrieket gesien nie. Ja, ons het af en toe gelees oor die magtige Wes-Indiese spanne van Clive Lloyd en Viv Richards en jy het die tellings nageslaan in die uitslae-kolom van die daaglikse koerante.

Ek het ook vroeg besef dat die rebelle-toetse waarin Suid-Afrika in die jare tagtig gespeel het, nie die ware Jakob was nie.

Nee, my groot “opvoeding” in toetskrieket was ’n VHS-kasset – Botham’s Ashes – wat my pa destyds van oorsee af terug gebring het.

Ek en my broers het daardie video stukkend gekyk en amper al my drome en verwagtinge van toetskrieket is daardeur geskep.

Ben Stokes vier Engeland se verstommende oorwinning oor Australië in die derde toets in die reeks om die As in Leeds. Foto: Getty Images

Krieket, en veral toetskrieket, bly my gunsteling-sport, maar in die 30 jaar sedert ek daardie video gekyk het, was toetskrieket weinig so opwindend soos in Botham’s Ashes. En geen individuele vertoning het vir my nog naby dié van Botham gekom nie.

Dit was tot ek Sondagmiddag Stokes se beurt op Headingley gesien het.

Dié gebore Kiwi het reeds ’n ereplek in Britse harte losgespeel met sy heldedade in die Wêreldbeker-eindstryd in Julie, maar sy vertoning op die laaste dag van die derde toets teen Australië was eenvoudig verbluffend.

Hy het sy beurt begin met Engeland wat slegs probeer het om ’n skynbaar onafwendbare nederlaag so lank as moontlik uit te stel.

Hy het slegs drie lopies in sy eerste 73 balle aangeteken terwyl hy probeer het om die toets te red. Die paaltjies het egter om hom bly val en hy was op 61* van 174 balle toe Engeland se negende paaltjie (dié van Stuart Broad) geval het. Die tuisspan het toe nog 71 lopies benodig.

Stokes het toe besluit dis nou of nooit en 74 lopies van die volgende 45 balle gemoker, terwyl hy ook seker gemaak het dat Jack Leach, Engeland se nommerelf-kolwer, so min as moontlik aan die boulwerk blootgestel is. Leach het uiteindelik op 1 nie uit nie geëindig van 17 balle in ’n onoorwonne vennootskap van 76 lopies.

Te midde van ’n hopelose situasie, was Stokes (135*) die een speler wat kop gehou het, terwyl die res hulle s’n verloor het.

Ek dink nie ons gaan sommer gou weer ’n vertoning soos dié toetskrieket sien nie. Botham het ’n waardige troonopvolger gevind.

Ja, hy het ook geluk aan sy kant gehad, maar hy het dít terdeë verdien.

En wat dié beurt bo Botham se briljante 149* op die einste Headingley in 1981 laat uittroon is hoe berekend Stokes was. Botham het sy kolf wild en wakker geswaai in ’n wedstryd wat almal gedog het reeds in die Aussies se sak is. Strykdeur Stokes se beurt wou die gedagte nooit wyk dat ’n oorwinning net-net ’n moontlikheid is nie.

Sy kolfbeurt was egter nie sy enigste bydrae in dié toets nie.

Engeland was halfpad deur die tweede dag teen die planke nadat hy vir net 67 in sy eerste beurt uitgeboul is.

Die sou baie maklik vir die span gewees het om daar en dan boedel oor te gee. Stokes het egter die bal geneem, ingestoom en 16 boulbeurte ononderbroke afgestuur. Hy het met tye selfs vinniger as die blits Jofra Archer geboul en ’n mens kon selfs op TV aanvoel hoe hy sy spanmaats geïnspireer het. As dit nie vir dié verstommende boulvertoning was nie, sou Engeland nooit Sondag in ’n posisie gewees het om die toets te wen nie.

Ek dink nie ons gaan sommer gou weer ’n vertoning soos dié toetskrieket sien nie. Botham het ’n waardige troonopvolger gevind.

Meer oor:  Toetskrieket  |  Ian Botham  |  Eendagkrieket  |  Ben Stokes  |  Reeks Om Die As
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.