Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Strafskoppe ’n groot rolspeler in WB-sukses

Om te voorspel watter span vanjaar se Wêreldbekertoernooi gaan wen, is so goed soos om vyf name in ’n hoed te gooi en een te trek as die wenner. Enigeen van Nieu-Seeland, Suid-Afrika, Engeland, Wallis, Ierland en dalk Australië kan die trofee lig. Frankryk kan enigeen van bogenoemde spanne klop, maar is ’n buiteperd omdat die Franse selde twee goeie wedstryde ná mekaar speel, en dis wat nodig is om die beker te wen.

dok pool
Dok Pool.

Menige rugbyondersteuner het my al gevra wat ons moet doen om die Wêreldbeker te wen.

Om ’n eindstryd te wen moet ’n span beslis oor ’n betroubare stelskopper beskik – gewoonlik ’n losskakel – wat ook kan skepskop. Daarvan getuig die 47 strafskoppe en vyf skepskoppe wat sedert 1987 in eindstryde oorgeskop is. Daarteenoor is slegs 16 drieë gedruk. Van die 16 drieë is vier in 1987 en vyf in 2015 aangeteken, dus slegs sewe drieë in die oorblywende ses eindstryde!

In 1987 wen die All Blacks die eerste Wêreldbekertoernooi 29-9. Hulle druk wel drie drieë, maar dis teen ’n Franse span wat homself in die halfeindstryd teen Australië kis gespeel het. Die losskakel, Grant Fox, vestig die patroon vir toekomstige eindstryde en skop ’n doelskop, vier strafskoppe en ’n skepskop deur die pale. Die Franse antwoord met ’n doel en ’n strafdoel.

In 1991 druk Australië ’n drie en die losskakel Michael Lynagh skop ’n doelskop en twee strafskoppe oor om Engeland 12-6 te klop. Die Engelse antwoord met twee strafdoele.

Toe Suid-Afrika in 1995 Nieu-Seeland 15-12 klop, was dit weer twee losskakels wat in die kollig is. Joël Stransky skop drie strafskoppe en twee skepskoppe – een in ekstra tyd – vir die Springbokke deur die pale en Andrew Mehrtens drie strafskoppe en een skepskop vir die All Blacks.

Die toernooi van 1999 kan by uitstek as die “toernooi van die skoen” bestempel word. In die kwarteindwedstryd sit die Springboklosskakel Jannie de Beer teen Engeland ’n wêreldrekord-vyf skepskoppe oor! In die halfeindstryd teen Australië volg hy dit op met nog ’n skepdoel en ses strafdoele net om te sien hoe Matt Burke met agt strafdoele en Stephen Larkham met ’n skepdoel die wedstryd vir Australië wen. Australië wen uiteindelik die beker 35-12 teen Frankryk, wat Nieu-Seeland onverwags uitgeskakel het. Die punte? Sewe strafdoele en twee doele teenoor die Franse se vier strafdoele.

Die Springbokspan het diepte en gaan moeilik in die vaste fasette geklop word.

Nog is dit het einde niet.

In 2003 beklink die Engelse losskakel Jonny Wilkinson se skepdoel in ekstra tyd Australië se lot toe Engeland die tuisspan klop met vier strafdoele, ’n skepdoel en ’n drie teenoor die Aussies se vier strafdoele en ’n drie vir ’n 20-17-oorwinning.

In 2007 seëvier Suid-Afrika met vyf strafdoele teenoor Engeland se twee en wen 15-6. Die strafskop-tendens duur dus voort.

In 2011 breek Nieu-Seeland sy Wêreldbekerdroogte toe die All Blacks en Frankryk in ’n omstrede wedstryd elkeen ’n drie druk, maar Nieu-Seeland seëvier 8-7. Die verskil? ’n Strafdoel.

In 2015 wil dit byna voorkom of die patroon aan die verander is toe die Nieu-Seelanders drie drieë druk teenoor die Australiërs se twee. Dis nou wanneer ’n mens vergeet van die All Black-losskakel Daniel Carter. Nie net verdoel Carter twee van die drieë nie, maar hy klink die Aussies se doppie met vier strafdoele en ’n skepdoel! Die eindtelling is 34-17 in die All Blacks se guns.

Strafdoele is dus deel van ’n eindstryd. In die praktyk kom dit daarop neer dat jy gou by die skeidsregter se vertolking van die reëls moet aanpas en in die opponente se helfte van die veld moet speel. Dis waarom spanne vooraf soveel tyd aan die inoefening van taktiese skoppe en die daaropvolgende druk-verdediging bestee het.

Skeidsregterbeslissings gaan van kardinale belang wees. Deur die jare was skeidsregters nog altyd geneig om oor te reageer wanneer hulle op ’n bepaalde benadering besluit het. In hierdie opsig gaan die skrums van deurslaggewende belang wees omdat die talle reëls waarvoor skeidsregters spanne kan straf moeilik is om konsekwent toe te pas. Dit geld veral te vinnig stoot, swaai van die skrum en voorrye wat skuins druk. Alte dikwels kom uitgeslape voorrye wat strafskoppe wil afdwing, of opponente se sterk skrum wil neutraliseer, hier met moord weg. Die gevolge kan verreikend wees. ’n Verkeerd toegekende strafskop 10 m van die opponente se doellyn, kan lei tot ’n lynstaan in jou eie helfte met ’n daaropvolgende strafskop in die lynstaanlosgemaal en ’n strafskop deur die pale!

Wat is ons kanse?

Die Springbokspan het diepte en gaan moeilik in die vaste fasette geklop word. Dit, tesame met hul hegte verdediging en twee uitstekende stelskoppers, maak hulle ’n gedugte span met ’n uitstekende kans om die eindstryd te haal en, met ’n bietjie geluk, te wen. Dis nou buite-faktore waaroor hulle nie beheer het nie, uitgesluit.

  • Dr. Gerrit Pool was in die era van dr. Danie Craven as afrigter by Matie-rugby betrokke. Hy het ook in Italië afgerig en was ’n tegniese adviseur van die Springbokke. Hy is deesdae afgetree en woon op Hartenbos.
Meer oor:  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.