Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Superrugby in SA ‘soos Stones sonder Jagger’

Rassie Erasmus het Vrydag in Pretoria ’n interessante, dog ooroptimistiese uitkyk oor die Suid-Afrikaanse spanne in die Superreeks gehad.

Die groot uittog van plaaslike spelers na Europa en Japan het meegebring dat ryk klubs daar rofweg R200 miljoen opdok vir sowat 20 van die voorste Springbokke se salarisse.

Leë paviljoene by Superrugby-wedstryde in Suid-Afrika het verlede jaar ’n algemene gesig geword. Foto: Gallo Images

Maar dié Bokke is steeds beskikbaar om vir Suid-Afrika te speel.

Hoewel dit die vier plaaslike franchises met min ervaring laat, gee dit terselfdertyd vir opkomende talent soos Aphelele Fassi, Curwin Bosch, Manie Libbok en Wandisile Simelane blootstelling in Superrugby.

Dit is eintlik ’n goeie posisie om in te wees en uit ’n nasionale oogpunt is Suid-Afrikaanse rugby se brood aan albei kante gebotter, meen Erasmus.

Maar hoe voel ondersteuners daaroor – in ’n tyd wat daar met volksvreemde Amerikaanse superhelde gepoog word om belangstelling aan te wakker vir dié sterwende kompetisie?

Net agt van die 23 Springbokke wat in die Wêreldbeker-eindstryd teen Engeland gespeel het, is vanjaar in die Superreeks in aksie (waarvan ses vir die Stormers speel).

Die rugbyjoernalis Mark Reason, wat vir die Nieu-Seelandse webwerf Stuff.co.nz skryf, sê in ’n onlangse rubriek veral Suid-Afrikaanse ondersteuners het rede om verneuk te voel.

Hoekom sal ondersteuners hier hoegenaamd opgewonde raak in ’n jaar wat hulle juis (ná die Bokke se Wêreldbeker-triomf) moes na uitsien? vra hy.

Reason voer aan dit is soos om ’n kaartjie te koop om die Rolling Stones te sien, maar dan vind jy uit Mick Jagger en Keith Richards is op sabbatsverlof.

Daar is deesdae meer Springbokke by die ander Haaie – die span van Sale, buite Manchester in Engeland – as by die Haaie in Durban, skryf hy.

Hiermee sê ek geensins die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) moet verkwalik word vir die groot uittog of die jammerlike stand van Superrugby nie.

Een van die grootste foute wat begaan is, was om destyds van die Super 12-wenformule weg te beweeg.

Waar was die sterre soos Jonah Lomu, Carlos Spencer, Christian Cullen, Zinzan Brooke, Tana Umaga, Josh Kronfeld, John Eales, Tim Horan, Joe Roff, George Gregan, James Small, André Joubert, Joost van der Westhuizen, Ruben Kruger en Breyton Paulse?

Cobus Claassen

Dit was dae wat jy soggens om 04:00 die slaap uit jou oë gevee het, al was dit nie eens jou span wat in Nieu-Seeland opgedraf het nie.

Gaaf, beroepsrugby sou altyd aanbeweeg het. Maar dit het eerder agteruitgang meegebring.

Die besluitnemers was blindelings oortuig meer spanne sal groter en beter wees.

Dit het ’n hoogs onverstaanbare, oninteressante kompetisie meegebring, wat rugbyliefhebbers toenemend koud gelaat het.

In die proses het die Sunwolves byvoorbeeld die lig gesien, wat ná ’n klompie ploeterseisoene vanjaar vir oulaas die getalle aanvul.

Die “Japannese span” bestaan die seisoen meer as 80% uit oortollige spelers van Suid-Afrika, Nieu-Seeland en Australië.

Reason meen die 2020-Superkookpot het nie “genoeg hitte om sjokolade te laat smelt nie”.

Die vraag is of daar iets gedoen kan word aan die Superrugby-dodemars, wat al saggies begin speel het?

Dit is ondenkbaar dat die reeks só verpak en aangebied kan word dat ondersteuners weer deur stadions se hekke sal vloei.

Want kom ons wees eerlik en realisties, afgewaterde franchises en Spider-Man en Captain America gaan dít beslis nie doen nie.

Meer oor:  Bokke  |  Springbokke  |  Rassie Erasmus  |  Superrugby  |  Speleruittog  |  Saru
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.