Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Te veel boeie om Rassie se enkels
Rassie Erasmus, die beleërde Springbok-breier.

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het sedert eenheid in 1992 reeds 14 Springbok-afrigters* gehad waarvan omtrent net een – Kitch Christie – nie op ’n tydstip in sy loopbaan deur die media en Jan Publiek verguis is nie.

Ná Suid-Afrika se jongste skoknederlaag teen Argentinië is dit Rassie Erasmus se beurt om die emosie van ’n teleurgestelde publiek en die media te ervaar. Dis nie nodig om vir Erasmus te wil slegsê nie, want glo my, hy is lief vir Bok-rugby en het sy pos met die beste bedoelings benader.

Wat die statistiek oor die omset rakende Bok-afrigters ons wel vertel, is dat die oplossing nie by ’n enkele individu lê nie. Dis ’n pos wat boonop al hoe moeiliker raak hoe verder ons in die beroepsera vorder.

Erasmus se taak word deur meer as enige van sy voorgangers beduiwel deur spelers wat aan oorsese klubs verbonde is en die wedstryde wil kies waarin hulle bereid is om te speel.

Erasmus se taak word deur meer as enige van sy voorgangers beduiwel deur spelers wat aan oorsese klubs verbonde is en die wedstryde wil kies waarin hulle bereid is om te speel.

As Erasmus byvoorbeeld nie vir Duane Vermeulen vir die Rugbykampioenskap beskikbaar het nie, gaan hy op geen oomblik sy voorkeur-lostrio kan kies nie.

Iewers vorentoe in die reeks gaan hy ook vir Willie le Roux weer aan sy Engelse klubspan moet afstaan.

Dis die eerste boei om sy enkel.

Nóg iets wat hy konstant in gedagte moet hou, is die nakoming aan vereistes van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se strategiese transformasieplan. Erasmus moet werk tot ’n punt waar minstens 50% van sy spanne – met ander woorde 12 uit die 23-tal – aanstaande jaar uit gekleurde spelers bestaan. Dít terwyl die spelerspoel wat deur Superrugby-spanne opgelewer word waarskynlik nie groot genoeg is om dit ’n realistiese vereiste te maak nie.

Siya Kolisi. Foto: Getty Images

Bygesê, was die probleem in die Bokspan Saterdag beslis nie die swart spelers nie. Siya Kolisi het volgens die statistieke byvoorbeeld ’n uitstekende wedstryd op die aanval beleef. Hy het twee keer bresse geslaan, 125 meter met die bal onder die arm gevorder en twee keer die bal in kontak uitgegee.

Ons moet die kwessie van transformasie dus in perspektief beskou, want spelers van alle kleure het Saterdag teen die Poemas gesukkel.

Nietemin maak omstandighede dit origens vir Erasmus onmoontlik om in enige tydstip die span te kies wat hy graag wil of spelers oor dieselfde kam te skeer. Hier moet ons weer eens nie by transformasie vashaak nie.

Wat is die invloed op spangees en spankultuur as ’n speler van oorsee byvoorbeeld elke keer ingevlieg word en reguit tot in die beginspan vorder?

Dan is daar die ganse Suid-Afrikaanse rugbystruktuur. Ons het sterk rugbyskole, maar hulle is toenemend tot hul kern vrot met die kweek van ’n wen-obsessie en die vele probleme wat deur liefde vir geld geskep word.

Op nasionale vlak is daar natuurlik die groot tekort aan geld met ons rugbyunies wat al hoe meer sukkel om ’n bestaan te maak en sukkel om gordels stywer te trek weens die kleiner bedrae wat van Saru af kom.

Die Varsitybeker en Supersport-uitdaagreeks speel goeie ontwikkelingsrolle, maar die Curriebeker-reeks – wat die volgende tree na Superrugby moet bied – raak elke jaar verder afgewater.

Saterdag speel die Cheetahs twee wedstryde – een in die Pro14- en die ander in die CB-reeks. Dis om die minste te sê ’n bisarre stand van sake.

Saru se nuwe maneuver om elke jaar sy geldkoffers te stu – die reël van toetse buite die toetsvenster teen Wallis – is ook ’n skuif wat die Bokke se aura ’n knou gegee het.

Saru se nuwe maneuver om elke jaar sy geldkoffers te stu – die reël van toetse buite die toetsvenster teen Wallis – is ook ’n skuif wat die Bokke se aura ’n knou gegee het.

Enigiemand wat dus dink die rede vir die Bokke se gesukkel kan voor die deur van ’n individu gelê word, moet liewers oor Suid-Afrikaanse rugby se algehele verval gaan besin.

Geen enkele individu het genoeg vingers om die gate in daardie damwal toe te druk nie.

* Gerrie Sonnekus word amptelik deur Saru as ’n Bok-afrigter getel, maar hy het ná sy destydse aanstelling nooit sy pos opgeneem nie.

Meer oor:  Rassie Erasmus  |  Stephen Nell  |  Kaapstad  |  Afrigter  |  Wereldbeker-Toernooi  |  Springbokke  |  Toetse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.