Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Telbord bly koud al stook Bokke die vuur

Ian Foster, die All Blacks se hulpafrigter, het op ’n onlangse mediakonferensie gesê die Springbokke doen niks nuuts nie, maar wat hulle wel doen, doen hulle goed. By implikasie het hy dus eintlik geïnsinueer dat die Nieu-Seelanders presies weet wat om van die Suid-Afrikaners te verwag. Anders gestel, die unpredictable-faktor by ons – wat die All Blacks vrees – was afwesig.

dok pool
Dok Pool.

Die Bokke se teleurstellende uitslag teen die All Blacks het rugbyondersteuners aan die praat, veral omdat hulle ’n agterstand van 17-3 byna uitgewis het en baie geglo het Suid-Afrika gaan wen. Dit het my laat dink aan die ou gesegde: Indien jy jou opponent werklik wil seermaak, klop hom met enkele punte. Hy sal dae daarna steeds omgekrap wees omdat hy dink hy kon gewen het!

’n Ontleding van ons besit – dus waar ons die bal in ons hande gehad het – is stof tot nadenke. Hiervoor is die speelveld in vier dele ingedeel wat strek van ons doellyn tot kwartlyn as Gebied Een tot die gebied tussen die opponente se kwartlyn en doellyn as Gebied Vier.

Gedurende die eerste helfte van die wedstryd het ons in ons eie helfte, dus Gebiede Een en Twee, die bal 23% van die tyd gehad. In Gebied Drie, dus van die middellyn tot Nieu-Seeland se kwartlyn, was ons besit ongeveer 61% teenoor die ongeveer 16% in die Nieu-Seelanders se kwartgebied. Vir die bykans 77% wat ons dus besit in die All Blacks se helfte van die veld gehad het, kon ons slegs drie punte aanteken! Hierdie statistiek illustreer hoe ons sukkel om besit in punte te omskep.

In die tweede helfte van die wedstryd verander die persentasies van die gebiede waarin ons besit gehad het aansienlik. In ons helfte van die veld het ons 47% van ons besit, dus dubbel soveel as in die eerste helfte. In Gebied Drie neem ons besit van 61% af na 29%! Daarteenoor styg dit in Gebied Vier van 16% tot 24%. In die geheel beskou het die All Blacks ons dus ná halftyd gebiedsgewys geleidelik teruggedruk, behalwe vir ’n kort rukkie toe ons in hul kwartgebied geboer het.

Die spelpatroon waaraan Erasmus en sy span die laaste maande gewerk het, het dus nie die verwagte uitslag teen Nieu-Seeland opgelewer nie. Verander kan hy dit nie in hierdie stadium nie, want dan breek hy die span se selfvertroue en skep hy by die spelers onsekerheid in hulle vermoë. So, wat moet hy doen?

Ek het by ’n vorige geleentheid genoem dat enige span wat die Wêreldbeker wil wen, ook geluk moet hê.

Eerstens sal die spelers dit wat hulle veronderstel is om te doen beter moet doen. De Klerk se skoppe, wat ’n integrale deel van die spelpatroon is, sal meer doeltreffend moet wees. Dit het weinig sin om die bal so naby die faset te skop dat almal staan en wag om dit te vang. Mededinging in die lug moet agter die opponente wees sodat jou spelers aggressief vorentoe kan gaan en die balvanger agter sy spanmaats kan platduik en afsonder vir herbesit.

Tweedens sal die agterlyn op aanval hul basiese vaardighede moet opskerp. ’n Ingewikkelde beweging met verskeie fophardlopers plaas nie die verdediging onder druk wanneer die spel sywaarts kantlyn toe gaan nie. Fophardlopers wat meters voor die baldraer hardloop, beteken in elk geval niks nie. Reguit hardloop bly die basis vir doeltreffende aanval.

Die heelagter, Willie le Roux, moet reg gebruik word. Hy is geen faktor op die aanval indien hy slegs as ’n ekstra agterspeler gebruik word nie. ’n Heelagter moet die verdedigingslyn kan breek, maar om dit te kan doen, is hy afhanklik van die regte hardlooplyn van die spanmaat wat die bal vir hom gee. Terloops, as Le Roux dan nou die All Blacks se af- en inskoppe van die halflyn af moet vang, wat word van die argument dat hy ’n tweede opsie as linkervoetskopper bied?

Die Springbokke speel bitter min wyd. Erasmus se strategie is duidelik om die bal naby die voorspelers te hou en foute te beperk. Met sy eerstekeuse-losvoorspelerkombinasie is dit in elk geval ’n risiko om wyd te speel. Al drie hierdie harde werkers is basies dieselfde tipe speler. Nie een is vinnig genoeg om die agterlyn wyd te ondersteun nie.

Wanneer jy na die aantal een-aangee-van-skrumskakel-na-’n-voorspeler-kontaksituasies kyk, is hierdie Springbok-span waarskynlik die mees kontak-georiënteerde span in ons geskiedenis. Dis ’n fisiek uitmergelende laerisiko-benadering en staaf wat Frans Steyn na bewering sou gesê het: “Die span wat die minste speel, maak die minste foute. Jy hoef net te wen, jy hoef nie te speel nie.”

Ek het by ’n vorige geleentheid genoem dat enige span wat die Wêreldbeker wil wen, ook geluk moet hê. Dalk is Ierland se nederlaag teen Japan ’n deel van die geluk wat ons nodig het! Ierland het op die harde manier die uitdrukking “moet nooit dink jou opponent is ’n dwaas nie” ervaar, bedoelende dat jy nooit jou teenstander moet onderskat nie.

  • Dr. Gerrit Pool was in die era van dr. Danie Craven as afrigter by Matie-rugby betrokke. Hy het ook in Italië afgerig en was ’n tegniese adviseur van die Springbokke. Hy is deesdae afgetree en woon op Hartenbos.
Meer oor:  Dok Pool
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.