Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Reëls knou spel én spelers se welstand
Dok Pool
Dok Pool

At last the chickens have come home to roost.

Dis wat deur my gedagtes gegaan het toe ek lees dat Bill Sweeney, hoof van die Tuisunies (RFU), sê hy neem kennis van moontlike regsaksies deur spelers teen die RFU vir breinskade wat hulle in hul speeldae opgedoen het.

In dieselfde asem sê Sweeney die spel moet veiliger gemaak word vir die spelers. Dalk het hy in sy agterkop die skikkingsbedrag van $765 miljoen wat die NFL in die VSA in 2016 sy spelers in ’n soortgelyke eis uitbetaal het.

Ek waarsku sedert 2001 dat die reëlmakers besig is om die aard van rugby te verander in een van brute krag en kontak. My waarskuwings is afgemaak met verskonings soos “dis moderne rugby” en “ons soek ter wille van die toeskouers na meer kontinuïteit in die spel”.

Dis asof die rugbybase nou al jare lank op dryfsand staan en so geleidelik in die moeras van ondergang insink dat hulle self nie besef wat aan die gebeur is nie. Tot nou toe.

Die rugby-indoenas het eintlik net twee keuses om die herhaalde houe teen die kop – en dus die moontlikheid van harsingskudding – te verminder. Óf hulle pas die bestaande reëls strenger toe óf verander dit ingrypend sodat fisieke kontak verminder word.

Strenger toepassing beteken eintlik maar strenger optree teen hoogvatte en mededinging vir die bal in die lug. Of wil hulle die spelers soos in Amerikaanse voetbal met valhelms laat speel?

Die vraag wat die indoenas hulself moet afvra is: Waarom is fisieke kontak so ’n integrale deel van die sogenaamde “moderne” spel?

Die kern van die probleme is by hoofsaaklik twee reëltoepassings geleë.

Eerstens, die feit dat spelers in die doodvatsituasie waar die bal op die grond is, toegelaat word om die bal met die hand te speel. Dit stel die verdediger in staat om die aanvaller se besit te vertraag sodat sy span se verdedigingslyne in plek kan kom.

Die verdediger is nie die enigste skuldige nie.

Die baldraer klou gewoonlik vir lewe en dood aan die bal vas om besit te behou, eerder as om die bal in die lug te hou en betyds uit te gee voordat hy grond toe gaan.

’n Tweede faktor wat die speltempo geweldig vertraag, die verdediging vergemaklik en weer eens tot kontak lei, is die feit dat niemand die skrumskakel mag lak nie al staan hy met sy hande of voet op die bal. Soos die gewoonte is, skop hy daarna óf ’n hoë skop óf gee dit aan ’n spanmaat wat op sy beurt óf in die teenstanders vashardloop óf self skop.

Die aanhoudende kontak-benadering het die finesse in agterspel doodgemaak.

Hierdie twee onsinnige reëltoepassings is besig om rugby te verwoes.

Die feit dat spanne met sterk vaste voorspelers danksy die huidige reëls boonop die skrum en die lynstaandryf doelbewus kan gebruik om strafskoppe af te dwing, het die aanvalskomponent in die spel verskraal.

Die aanhoudende kontak-benadering het die finesse in agterspel doodgemaak.

Agterspelers het ontaard in stormramme wat met brute krag kop omlaag oor die voordeellyn probeer kom en wie se spel eintlik ’n belediging vir die begrip “agterspel” is.

Skeppende losskakel- en senterspel bestaan feitlik nie. Dis skop ná skop vir gebied en hopelik herbesit, asof skoppe – veral hoë skoppe – die enigste manier is om oor die voordeellyn te kom.

Agterspelers is deesdae niks anders as losvoorspelers nie wat die verdediger in die kontaksituasie van die bal af wegvat terwyl die sterker, stadiger voorspeler byvoorbeeld net daar bly staan waar die skrum opgebreek het en wag dat die bal terugkom na hom toe net om weer in die verdediging vas te hardloop.

Spelers betaal toenemend met hul gesondheid die prys vir hierdie aanhoudende kontak.

Die hele proses is soos ’n nagmerrie wat hom oor en oor afspeel.

Het die reëlmakers dan nie besef dat meer kontak tot meer beserings gaan lei nie?

Die besluite wat die laaste paar seisoene geneem is, skree ten hemele en dis tyd dat die uitwerking daarvan van die dakke af verkondig word.

Op die veld steur die skeidsregters hulle oënskynlik ook nie aan sommige bestaande reëls nie. Spelers word ooglopend toegelaat om by af- en inskoppe meters voor die bal te wees en die teenstanders onwettig onder druk, dit wil sê hernude kontak, te plaas.

Kyk gerus hoeveel spelers is by hoë skoppe onkant sonder om gestraf te word.

Spelers betaal toenemend met hul gesondheid die prys vir hierdie aanhoudende kontak.

Sal die grootbase van rugby luister, of sal hulle die All Black-kaptein Sam Cane se bekommernis oor die langtermyngevolge vir die spelers in die wind slaan?

Om bloot die bestaande reëls strenger toe te pas, is om die dakplate oor te verf terwyl die dakstruktuur verrot is.

Meer oor:  Rugbyreëls  |  Breinskade  |  Tromp-Op
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.