Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Tweelingspoke by WB se boe! maar flou

Vroeg 2004 het ek die eerste en tot dusver enigste dubbelganger in my lewe ontmoet. By Ezeiza-lughawe in Buenos Aires het hy my laat roep om my tas te deursoek.

Toe ek vra hoekom ek al mens uit 100 is wat deursoek word, sê hy ek lyk soos ’n smokkelaar.

“Ek lyk ook soos ’n smokkelaar,” het hy skouerophalend gesê toe ek hom daarop wys dat hy min of meer my ewebeeld is.

Teen die tyd dat sy amptenare my tas weer ingepak het, het ons lekker gesels. “Suid-Afrikaner? Ek ondersteun jou vrotsige rugbyspan. Skandalig by die Wêreldbeker.”

“Ja, en ek jou vrotsige sokkerspan. Skandalig as hulle hul stewels aantrek.” Ons het gelag en gegroet.

Toe Argentinië verlede week in duie stort teen Kroasië in dalk hul vrotste sokkervertoning tot nog toe, het ek aan dié ou gedink. Wie van ons het die beste uit die deal gekry? Die Springbokke het ongetwyfeld darem in die anderhalwe dekade sedertdien vir meer vreugde gesorg as die Albiceleste.

Aan die ander kant, sy eie land se rugbyspan het terselfdertyd ook ver gevorder. Dalk volg hy deesdae die Bokke so met een oog. Die Bokke lyk belowend en is lekker om na te kyk, en veel beter as Lionel Messi-hulle.

Ek sit en kyk ook na Nigerië en Senegal wat sports het in Rusland en onthou dat, in 2002, ek my eie span by sokker se Wêreldbekertoernooi kon ondersteun en jou wrintiewaar teleurgestel was toe hulle terugkom met ’n oorwinning, ’n gelykopuitslag en ’n nederlaag.

Die politici het hulle met kore en toesprake op die lughawe ingewag. Ná dié trompetgeskal vir ’n relatiewe mislukking het Bafana Bafana nooit weer vir die toernooi op die speelveld gekwalifiseer nie.

  • Ek dink daai doeaneman loop tot dusver voor.

*****

’n Man moet darem ook erken as hy twak praat en tot dusver het die tweelingspoke van die sokker in Rusland – skollies en TV-skeidsregters – nog nie hard genoeg boe! gesê dat enigeen beswaar kon maak nie.

Van die skollies was daar nog g’n teken nie, wat ’n mens nogal laat wonder vir wie hulle gewoonweg werk. Of nie.

Selfs die TV-skeidsregters het tot nou minder skade aangejaag as wat ek gevrees het. Hulle is net-net meer as die helfte van die tyd reg.

Ondersteuners van Argentinië wys daarop dat die Kroaat Ante Rebic voor rustyd van die veld gestuur behoort te gewees het en die TV-skeidsregter het dit ook misgekyk.

Dan sou Rebic nie die doel geskiet het ná Willy Caballero se blaps nie, waaroor bejaarde Argentyne dalk nog eendag in 2078 ontsteld sal raak. Met Kroasië beperk tot tien man, sou selfs Jorge Sampaoli se onverstaanbare taktiek vir Messi ruimte kon gee.

In Denemarke is hulle de joos in oor ’n Australiese strafdoel wat nooit moes wees nie, die Aussies vloek oor ene van die Franse en wat is die punt van TV-skeidsregters as Brasilië se Neymar en die Portugees Pepe nie agterna vir kaasagtige toneelspel aangekla, verhoor en geskors kan raak nie?

  • So die TV-skeidsregter, nes die skeidsregter op die veld, is min of meer reg as hy in jou span se guns beslis en verkeerd as hy dit nie doen nie. Nes dit maar in rugby ook werk. Of dan eerder, nie eintlik veel verskil maak nie.

*****

As kind het ek gesien hoe ’n yslike slot in WP-klubrugby ’n haker se oor trap dat dit min of meer aan een sening bly hang het omdat dié se kop aan die verkeerde kant van ’n losskrum uitgesteek het. Die slot kon nie glo dat hy ’n strafskop afgestaan het nie.

Die haker is bebloed en beharsingskudding van die veld. Ek het die slot ’n paar jaar later laas gesien toe hy Gideonsbybels by my universiteitskoshuis kom uitdeel het en, soveel as daai haker se hangende oor soms in my nagmerries verskyn, moet ek toegee die reëls was destyds in die slot se guns.

Wil dus nie te veel kla as die sport waarmee ek grootgemaak is, veiliger word nie. Maar Benjamin Fall se rooikaart in verlede naweek se toets tussen die All Blacks en Frank­ryk, ontketen hopelik opnuut wêreldwye debat.

Soos Kwagga Smith in verlede jaar se Super-eindstryd, soos Sam Warburton in ’n Wêreldbekerhalfeindstryd in 2011, was daar duidelik nie kwade bedoelings nie. Moet sulke groot wedstryde só beslis word of sou dit beter wees om agterna ’n paslike skorsing uit te sorteer?

Laasgenoemde klink reg, maar twee All Blacks is ’n week gelede agterna kwytgeskeld vir twee strafbare hoogvatte wat Rémy Grosso se skedel op twee plekke gebreek het. TV-skeidsregters beteken selfs minder as niks as Nieu-Seeland nie hoef te bôdder nie.

  • ’n Stem roepende in die woestyn: Weg met die TV-ref! Buiten vir dissiplinêre doeleindes agterna.
Meer oor:  Louis De Villiers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.