Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Tyd om die Stormers in koppie te takel

Dis tyd vir beamptes by die Westelike Provinsie om eerlik met mekaar, hul afrigters en die publiek te wees.

Eerstens, die uitvoerende raad van die WP-rugbyunie het nie ooghare vir Paul Zacks nie, wat die bykans onmoontlike taak het as uitvoerende groephoof van ’n organisasie waar die sake- en amateurvleuel nie met mekaar oor die weg kom nie.

Tweedens het die WP reeds die besluit geneem om John Dobson van aanstaande jaar af as afrigter van die Stormers aan te stel.

Behoort die WP met Robbie Fleck as afrigter van die Stormers te volhard indien die rugbybase hom nie heelhartig steun nie? Foto: Gallo Images

Desondanks word die span steeds in vanjaar se Superreeks deur Robbie Fleck gebrei, wat in die laaste jaar van sy kontrak is. Soos die geval met Zacks is, word Fleck ook nie deur almal in die unie ondersteun nie.

Die WP hoop ook om van die Nieu-Seelandse afrigter, Paul Feeney, ontslae te raak. Gert Smal, tot Maart vanjaar nog die direkteur van rugby, het reeds groener weivelde oorsee gaan soek.

In ’n neutedop word die WP tans lamgelê. Die vraag ontstaan dus of dit nie nou tyd geword het om huis skoon te maak nie.

Wat die afrigting betref, is dit aan die een kant nie ’n goeie idee vir Dobson om die leisels te neem met die Crusaders volgende op die Stormers se bepalingslys nie. Hy kan nie ’n onmiddellike verskil maak nie en die enigste ondersteuners wat entoesiasties na Nuweland toe gaan stroom vir dié kragmeting, sal die “Cape Crusaders” wees.

Daarmee saam tel die Stormers tans nog onder die spanne wat die voorste agt plekke vir die uitspeelrondes beklee en kan hulle realisties nog die pad enduit stap. As daar egter nie geloof in Fleck is nie – hy is glo kort voor die onlangse kragmeting teen die Bulle gesê dat hy daardie wedstryd en die afgelope naweek s’n teen die Jaguares móét wen om sy pos te behou – laat dit die vraag ontstaan waarom daar vanjaar in die eerste plek met hom volhard is.

Om ’n afrigter se toekoms aan twee wedstryde te koppel, som min of meer die situasie op. Dit beklemtoon dat Fleck nie deel van die langtermynvisie was nie.

Ironies genoeg word daar op papier vir die lang termyn beplan – sonder Fleck. Dobson is aangestel as afrigter van die Stormers vanaf 2020 en Paul Treu in die rol van “bestuurder van prestasie en innovering”. Oor laasgenoemde posisie het die WP nog geen inligting verskaf nie, maar of sy kritici daarvan hou of nie, Treu is deel van die unie se toekomsvisie.

Dis ’n uiters sensitiewe situasie ná die uitval wat Treu verlede jaar met Fleck en Feeney gehad het. Die WP se rugbybase het hulle egter uiteindelik by Treu geskaar, nie Fleck, wat die belangrikste pos in die WP beklee nie.

Een van die probleme met die afrigtingstrukture was van meet af aan dat daar te veel kokke in die kombuis was. In Suid-Afrika is die posisie van direkteur van rugby ’n ongewone een en die WP het daarmee, tesame met talle senior afrigters, ’n enorme salarisrekening gehad.

Om Smal van die boeke af te kon kry danksy sy werksaanbod in Japan, het ’n bietjie finansiële druk verlig.

Om mense af te dank, sal egter duur wees.

Die WP kan egter nie bekostig om ’n front voor te hou dat sake binne blink wanneer dit eintlik stink nie. As almal mekaar nie opreg in die oë kan kyk en sê dat hulle mekaar ondersteun nie, het die tyd aangebreek om te onderhandel.

Meer oor:  Robbie Fleck  |  Stormers  |  Wp  |  Paul Zacks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.