Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
DIS DIE PUNT
Rugbybase abdikeer hul plig

In verlede Sondag se Rapport lees ek die storie van die 15-jarige meisie wat kort ná die instelling van die korona-inperking in Indië met ’n trapfiets 1 200 km ver gery het om by haar huis in die ooste van Indië uit te kon kom.

Jyoti Kumari en haar pa, Mohan Paswan, op die fiets.

Uit vrees dat sy en haar pa in Delhi van honger sou omkom nadat haar pa weens ’n besering sy werk as ’n riksja-trekker verloor het, het sy ’n ou fiets gekoop om die tog huis toe aan te pak.

Haar pa het die hele 1 200 km agter op die fiets gesit, klouend aan die paar besittings wat hulle nog gehad het.

Die gr. 8-meisietjie het die amperse afstand tussen Kaapstad en Johannesburg afgetrap – met ’n skedonk van ’n fiets en haar pa agterop.

Wat daarna gebeur het, toe die nuus oor haar epiese tog inwoners in Indië begin aangryp, was dat die Indiese Fietsryfederasie haar uitgenooi het om saam met die land se nasionale fietsryspan te oefen. Hulle sou ook haar skoolgeld betaal.

Die meisie se deursettingsvermoë is bewonderenswaardig. Haar guts is selfs aangrypend.

Ewe prysenswaardig is hoe die Indiese fietsrybase op Jyoti Kumari se “storie” gereageer het.

Hul gebaar om haar as ’n doodgewone pedaaltrapper uit te nooi om saam met die Indiese fietsryspan te oefen, is om veel meer vir die sport te doen as om dit net te bestuur.

Ivan Pekeur, president van Boland Rugbyunie.

Hoe tragies anders as die berig in dieselfde uitgawe van Rapport oor die verskeuring en aftakeling waardeur die Boland Rugbyunie gaan aan die hand van ’n unie-president wat klaarblyklik nie ’n benul het van wat goeie en deursigtige bestuur is en vereis nie.

Arbitrasiesake en skikkings met personeel strek al oor maande. Ook die ontkennings, ontwykings, verwaande uitsprake en binnegevegte met almal wat hom durf teengaan.

So goed as wat Indië se fietsrybase my laat voel het oor hul uitreiking en besonderse daad, het die president se vernielsug van Boland-rugby my ontstel.

Ewe so oor hoe gedienstig dit deur die meerderheid van die klubstruktuur klaarblyklik net aanvaar word.

Hulle is as klubpresidente rugbybase in eie reg. Of het hulle geabdikeer en is hulle maar net lakeie van Ivan Pekeur, bloot vermom as klubbase?

Wat doen hierdie verkleurmannetjies waarop die sport en sy deelnemers trots kan wees? Wat maak hulle as bestuurslede besonders? Wat het hulle vir rugby gedoen wat uitnemend is?

Is hulle daar vir die trapfietsmeisie? Of is hulle daar net vir eiebelang?

Wanneer ’n unie soos ’n spreekwoordelike piesangrepubliek bestuur word, is dit sekerlik die plig (nie net die reg nie) van die beheerliggaam om toe te tree en vir goeie orde en deursigtigheid te sorg.

Waar is die leierskap van die Suid-Afrikaanse Rugby-unie? Waar is sy gesag? Of sy toesig? Of sy verantwoordelikheidsin om na te kom wat hy in die eerste plek veronderstel is om te doen: En dit is om die beswil van rugby te dien tot voordeel van sy deelnemers.

Ek kyk nou die aand die rolprent The Post. Die fliek handel oor die Washington Post se guts toe hy destyds teen die wil en regsdreigemente van pres. Richard Nixon onthullende dokumente oor die Viëtnam-oorlog gepubliseer het.

Bokkie Gerber

Teen die einde van die gedramatiseerde ware storie sê Tom Hanks, in die rol van die hardegat-redakteur: “We serve the governed, not the governors.” Dit is die grondslag waarop die vryheid van die media in Amerika gebaseer is.

Treffend waar en dit kan wyd toegepas word, want dit is wat die visie van sportbase van klubvlak af tot bo behoort te wees. Dien die sport en sy deelnemers.

Saru ontbreek dit. Boland ontbreek dit. Die res het nie die wil om betrokke te raak nie.

Grens-rugby is vir alle praktiese doeleindes toe. OP was toe en waarskynlik op pad om weer toegemaak te word. SWD het ook al daardie pad geloop.

Die landskap van rugby in die land lyk kol-kol bankrot. Ook in sommige ander sporte is die aarde verskroei – die toedoen van verwaande administrateurs.

Krieket Suid-Afrika was tot nou onlangs toe nog een van diesulkes. Saskok is ’n ander.

Traak-my-nie-agtige toesig en verwaandheid is die pes wat dit veroorsaak.

Meer oor:  Boland Rugbyunie  |  Saru
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.