Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wat nou van die ‘naamlose’ Olimpiërs?

Toe die Internasionale Olimpiese Komitee net meer as ’n week gelede aangekondig het dat dié byeenkoms met ’n jaar uitgestel is, het dit my laat snak na asem.

Soveel drome, soveel werk. Wat nou?

Elvira Wood en haar man, Mike, in 2008 in die Olimpiese atletedorp in Beijing. Foto: Verskaf

Ek lees telkemale hoe met Olimpiese kampioene van weleer gepraat word oor hoe hulle daaroor voel. Met bekendes wat tans op die kruin van hul sportloopbane is en wat ’n groot kans staan om ’n medalje by die Spele in Tokio, Japan, te wen.

Maar wat van die duisende ander atlete wat nié daardie glorie gaan beleef nie? Daardie atlete wat alles in hul vermoë doen net om te kwalifiseer?

Vir ’n atleet soos ek.

Toe ek in 2008 aan die Spele in Beijing, China, deelgeneem het, was dit veel meer as net ’n droom wat waar geword het. Dit was ’n onwerklike droom wat waar geword het.

Ek het Suid-Afrika in skerm, in die vroue se sabel-kompetisies (individueel en span) verteenwoordig.

In my stryd net om te kwalifiseer, moes ek ’n berg hoër as Everest oorwin. Boonop was dit ’n storie om die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) te oortuig om ’n skermspan te stuur.

Sien, ek was tóé al “oud”. Ek het 35 jaar oud geword daardie jaar. Daarby is skerm nie ’n professionele sport nie. Dit beteken ek moes in die dag werk en in die aande gaan oefen.

As jy nie werk nie, is daar bloot nie geld om aan sport deel te neem nie. Dit is ’n groot genoeg uitdaging om dít te doen as jy enkellopend is, hoeveel te meer nog wanneer jy getroud is met ’n vierjarige kleuter in die huis? En nee, my man, Mike, kon nié na die kleuter kyk nie. Hy het ook geoefen.

Elke ekstra sent wat ons gehad het, is op skerm spandeer – hetsy aan oefengelde, reis en verblyf of mediese onkoste vir beserings.

Elke dag se beskikbare verlof is vir skerm gebruik.

Dit was niks snaaks om ’n Vrydag en ’n Maandag verlof te neem, op ’n vliegtuig na die ander kant van die wêreld te klim, te kompeteer, terug te vlieg en die Dinsdag weer terug te wees by die werk nie.

Wood (links) in aksie teen Sandra Sassine van Kanada in die individuele sabel-kompetisie vir vroue. Foto: Verskaf

Ek en Mike het ses dae ’n week – ná werk – tussen drie en vier ure per dag geoefen. Omdat ons met verskillende wapens skerm (hy skerm degen), het ons soms nie eens by dieselfde plek geoefen nie. Ons seun moes maar meestal saam met my piekel vir oefening. Ek en my man het in ’n stadium meer met mekaar oor die foon gepraat as wat ons mekaar tuis gesien het.

Hierdie situasie het in aanloop tot die Spele twee jaar lank geduur.

As die Spele in 2008 vir ’n jaar uitgestel moes wees, sou dit my droom aan skerwe gelaat het. Ek kan nie dink dat ons vir ’n derde jaar só sou kon leef nie. Dat ons dit sou kon bekostig.

My vraag is nou: wat gebeur met kwalifisering? In party sportsoorte was die kwalifiseringsproses nog nie afgehandel nie. Baie dinge kan in ’n jaar gebeur. Atlete wat te jonk was om nou te kwalifiseer kan dit volgende jaar doen. So wat nou? Gaan atlete wéér deur die proses moet gaan? Waar gaan die geld daarvoor vandaan kom? Het hulle die deursettingsvermoë om dit te doen? Wat van die “ouer” atlete? Gaan hulle steeds probeer?

Hierdie is nie net nóg ’n sportbyeenkoms nie. Dit is die Olimpiese Spele. Die heilige graal van sport. Glo my, ’n atleet sal alles in haar vermoë doen om ná jare se oefen en deelname daar uit te kom.

My verstand verstaan hoekom die Spele vanjaar uitgestel is, maar my hart ween.

Soos wat ek hier sit, 12 jaar ná my eie deelname, wil my hart breek vir elke atleet wie se hoop dit was om in 2020 in Tokio aan die Spele deel te neem. Ek weet baie van hulle gaan wel daar kom, maar dink aan daardie atlete – die hordes wat jy in die openingseremonie die stadion sien binnestap, maar wie se name jy nooit hoor nie.

Dink aan hulle, wie se drome dalk nou verpletter is.

  • Elvira Wood is ’n sakejoernalis vir Netwerk24. Sy skerm steeds.
Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Tokio Spele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.