Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Toerdagboek
WB: Beter as Hollywood-riller

As Steven Spielberg of Quentin Tarantino ’n krieketfliek moes maak en die draaiboek vir Sondag se eindstryd geskryf het, sou ons dit as bog afmaak en sê dis bedrieglik ongeloofwaardig. Sulke goed gebeur nie in die regte lewe nie.

Dit gebeur eenvoudig nie in die “regte lewe” dat twee spanne in die eindstryd van die Wêreldbeker-toernooi, op Lord’s van alle plekke, ná 50 boulbeurte elk gelykop eindig nie. Dan wil jy nog verder gaan en sê ná ’n superboulbeurt is hulle steeds gelykop? Gaan spring in ’n dam, man.

Lord’s, net voordat die eindstryd Sondag begin het, uit die paviljoen van waar ek die wedstryd dopgehou het. Foto: Tinus van Staden

Sondag, toe ek op Lord’s gesit het met my skootrekenaar oop en ses verskillende moontlike inleidings vir my wedstrydverslag gereed, kon ek dit nie eens werklik glo nie.

By die huis het mense amper rumatiek ontwikkel soos hulle met hul afstandbeheerders tussen die drama op Lord’s en Wimbledon gespring het. By die tuiste van krieket was ons 30 000 mense wat in Londen se laatmiddagson in ongeloof gesit en toekyk het hoe die een krieketwonderwerk ná die ander reg voor ons oë afspeel.

Nieu-Seeland en Engeland het ons tot die beste eendagkrieketwedstryd nóg getrakteer. Engeland is die wenner nadat Ben Stokes die wedstryd van sy lewe gespeel het. En die geluksgodin Nieu-Seeland se harte gebreek het.

Nadat die Kiwi’s eerste gekolf en tot slegs 241/8 in hul 50 beurte geraap en skraap het, het ’n mens verwag Engeland sal die beker op ’n drafstap wen. Eindstryde is gewoonlik nie senutergend nie.

Halfeindstryde, soos Suid-Afrika en Australië s’n in 1999, of die Proteas en Swartpette s’n in 2015, of Nieu-Seeland en Indië se stryd verlede week in Manchester, is gewoonlik die wedstryde waaroor ondersteuners liries raak. Die wedstryde wat onthou word. Eindstryde ploeter gewoonlik voort en eindig in ’n antiklimaks.

Tinus van Staden

Ná die Kiwi’s se beurt, het ’n mens dieselfde verwag.

Maar toe, voor ’n skare toeskouers wat geen ander moontlike uitslag as ’n klinkende Engelse oorwinning verwag het nie, begin druk doen wat druk gewoonlik doen. Versmoor.

Die druk van al daardie verwagtinge noop die gewoonlik komkommerkoel Joe Root om sy paaltjie weg te gee.

Jonny Bairstow en Eoin Morgan volg. Engeland wankel op 86/4.

Die Kiwi’s gaan dié ene wen, dink jy, veral met hoe versmorend Colin de Grandhomme (1/25 in tien bbe.) boul.

Ben Stokes (84*) en Jos Buttler (59) het hul span wonderbaarlik tot die drumpel van ’n oorwinning gedra.

Stokes het in die voorlaaste boulbeurt ’n ses geslaan wat slegs ’n ses was omdat Trent Boult, wat die bal gevang het, op die grenstou getrap het. In die laaste boulbeurt was daar die bisarre “oorgooi-ses”, nadat die bal Stokes se kolf getref en vir vier pasella-lopies gerol het.

Ons het gesit en kyk hoe die bal grens toe rol en rol en rol, met ’n Kiwi wat dit agternasit. Stilte het oor Lord’s neergedaal. Toe pandemonium.

Toe vir die superboulbeurt. Nadat Engeland 15 gekry het, het ek weer gedink – dit is dit. Toe Jimmy Neesham egter daardie ses van Jofra Archer se boulwerk slaan . . . Toe daardie laaste ingooi van Jason Roy, Martin Guptill wat verstom op die gras sit, die emosie vasgebrand op sy gesig, die Engelse wat rondhardloop en juig. Sport is nooit net sport nie, dit reik altyd verder as bloot ’n speletjie met ’n bal – dit gryp die verbeelding aan, dit skep hoop, dit verstom, dit breek harte, dit bring ekstase, verander selfs lewens.

Moes die uitslag bepaal word deur wie die meeste paaltjies platgetrek het (Nieu-Seeland) eerder as wie die meeste grenshoue geslaan het (Engeland)? Ja. ’n Span moet liewer beloon word vir die aantal paaltjies wat hy plattrek. Dit is reeds ’n kolwer se spel, die boulers moet ook ’n beloning kry.

Nieu-Seeland het nie verdien om te verloor nie. Maar Engeland het verdien om te wen. Ná waar hulle vier jaar gelede was, om nou hier te wees . . . Dis ongelooflik.

Hulle het hul hoofrol in Sondag se Hollywood-krieketstorie met onderskeiding vertolk en miljarde mense wêreldwyd na hul asem laat snak.

Geniet jou Oscar, Engeland. Dankie vir die herinneringe.

Meer oor:  Wêreldbekerkrieket  |  Eindstryd  |  Tinus Van Staden  |  Toerdagboek  |  Lord's
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.