Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
WB se blasers ’n veel groter pyn as Hagibis

Dit was vroeër vanjaar vir my eienaardig om te hoor dat ’n Suid-Afrikaanse Engels-aksent glo as die tweede sexy­ste ter wêreld beskou word. Om dit selfs meer bisar te maak, is die plat Kiwi-weergawe as nommer een geloof. Daarna kom die Engels wat Iere, Italianers, Aussies (!?!), Skotte en Franse praat.

Die bra lae plek wat die Franse gekry het, saam met die hoë aanprysing van die Kiwi’s s’n, het wenkbroue wêreldwyd laat lig. Nou begin ek vermoed daar is ’n eenvoudige verduideliking hiervoor – dit was grotendeels rugbyliefhebbers wat by die steekproef betrek is.

Want enige vreugde wat ’n man dalk kon put uit die brei-r en die oo-lalaa van ’n aanvallige Paryse mam’selle, het ’n kwaai terugslag beleef met die knaende irritasie wat die aksente van messieurs les arbitres Garcès, Poite, Gauzère en Raynal die afgelope paar weke tydens rugby se Wêreldbekertoernooi ontketen.

Die viertal Franse het ons natuurlik te danke aan Wêreldrugby se skeidsregter-indoena, Alain Rolland. Half Frans, half Iers, heeltemal onbevoeg.

  • Die meeste van ons sal sweerlik Glen Jackson se Kiwi-Engels verkies het. Teen dié tyd dalk selfs as sexy begin beskou het, uit pure verligting dat dit nie ’n Fransman is wat die blessitse fluit vat nie.

*****

Troef Japan vir Skotland, sal die ganse rugbywêreld suid van Hadrian’s Wall behoorlik jubel en juig. Wen Skotland maklik genoeg, is die eerste agt lidlande van die Internasionale Rugbyraad mooi netjies almal in die kwarteindronde.

Rugby se Wêreldbekertoernooi het hoeka 32 jaar gelede afgeskop om die spel wêreldwyd te laat groei. Dit het ook, maar hoewel die wentellings vanjaar oorwegend kleiner is as tevore, was daar net verrassings in die oorwinnings van Japan oor Ierland en dié van Uruguay oor Fidji.

Om kleiner spanne net elke vier jaar aan eersterangse toetsteenstanders bloot te stel, maak dat dié toedrag van sake nie sommer sal verander nie. Die doodgebore Wêreldliga sou wel kon, mits promosie en relegasie in die stelsel gebou word.

Die einste Skotte, in die meeste jare agterosse wat toetsrugby betref, was die grootste teëstribbelaars teen die gedagte van ’n wêreldliga, welwetend natuurlik dat lande soos Fidji en ­Georgië die pap dik sal kan aanmaak met gereelde, betekenisvolle mededinging.

  • Skotland is deesdae minder oes as waaraan ons gewoond geraak het, maar nietemin sou die uwe veel eerder meer Fidjiane en Japanners in aksie wou sien as Skotte.

*****

Skotland het verlede week gedreig om Wêreldrugby te dagvaar, sou die supertifoon Hagibis maak dat vandag se wedstryd gekanselleer word. Om ’n Wêreldbekerreeks in die middel van die tifoonseisoen in Japan te wil aanbied, grens aan die domastrante.

Japan word jaarliks immers deur gemiddeld 25 tifone getref.

Wêreldrugby het waarskynlik voorsien dat so ’n bokkeroppie ’n sterk moontlikheid is, dié dat alle deelnemende lande ’n kontrak voor die toernooi onderteken het om in te stem dat gekanselleerde wedstryde as ’n gelykop uitslag van 0-0 bereken word.

Wat beteken dat enige moontlike regsgeding van die Skotte waarskynlik doodgebore is.

Hier en daar word te kenne gegee dat die kansellering van wedstryde die toernooidoelwitte ondermyn, maar Hagibis sal eendag ’n blote voetnoot wees as dié toernooi onthou word.

As mense eendag steen en been oor dié toernooi se gebreke gaan kla, sal dit eerder oor die gehalte van die blasers en die eensklaps bra drakoniese toepassing van die hoogvatreël wees.

  • Dis weliswaar ’n grys gebied, maar daar is min konsekwent aan die benadering en Wêreldrugby het sommer vroeg reeds erken dat die skeidsregters plek-plek kwaai droogmaak. Dit help natuurlik ook nie jy torring met jou sport se reëls vlak voor jou sport se belangrikste toernooi nie. Rolland is tans een van die grootste drelle in rugby se drinkwater.

*****

’n Geween en ’n gekners van tande was voorspelbaar by die nuus dat Nuweland dalk gesloop gaan word nadat Investec R110 miljoen gehoes het om die beleërde Westelike Provinsie Rugby-unie uit sy ergste finansiële verknorsing te red.

Die nuus laat my, wat so te sê langs Nuweland grootgeword het, taamlik koud. Die stadion het die meeste van sy bekoring verloor toe die staanplekke voor die hoofpaviljoen en die sitplekke vir skoolkinders om die veld verwyder is.

As almal wat nou so bitter ontsteld is oor die moontlike sloping gereelder daar na wedstryde gaan kyk het, had die WP natuurlik nie naastenby die marakkas wat hy nou het nie.

R52 miljoen van dié groot kontantinspuiting is bestem vir Remgro, aan wie die unie dié yslike klomp geld skuld.

Dit los die unie met R58 miljoen.

  • En los my met net een vraag – hoe lank gaan dit hulle vat om R58 miljoen deur hul agterente te trek?
Meer oor:  Menings  |  Louis De Villiers  |  By Die 19De
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.