Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wêreldrugby se stilte laat wrang smaak

In 2000 se Superrugby-reeks was daar vlugtig ’n gebruik waar skeidsregters die media ná wedstryde te woord sou staan om vrae oor hul beslissings te beantwoord.

Die laaste wat ek daarvan onthou, was ná ’n gelykopstryd van 19-elk tussen die Stormers en Bulle op Nuweland waar die betrokke skeidsregter, André Watson, sy kommer oor die gehalte van die rugby uitgespreek het.

Angus Gardner se besluit om Owen Farrell ongestraf te laat vir ’n ooglopende skouerloop op André Esterhuizen, het die rugbywêreld aan die gons. Foto: Getty Images

Watson se uitspraak was dalk so naby aan die waarheid, dat rugbybase hul somme begin maak het oor hoe gevaarlik dit kan raak indien skeidsregters antwoorde sou moes gee oor foute wat hulle gemaak het.

Hoe dit ook al sy, het die gebruik gesneuwel en met die verloop van tyd het dinge net al hoe meer ondeursigtig geraak. Met elke omstrede voorval is daar net ’n dawerende stilte en woed die storie hom in die media uit.

Dis nou weer die geval ná Saterdag se toets tussen Engeland en Springbokke op Twickenham.

Volgens die reëlboek moes die Rose se losskakel, Owen Farrell, gestraf gewees het vir sy skouerloop op André Esterhuizen. Angus Gardner, skeidsregter van Australië, was waarskynlik net nie dapper genoeg om die besluit voor ’n Engelse skare van meer as 80 000 te neem nie, en die uiteinde is dat die Bokke nie die strafskop gekry het wat die wedstryd vir hulle kon beklink het nie.

Vir die Bokke voel ek eintlik nie baie jammer nie. Hulle het baie geleenthede verkwis en moes die toets gemaklik gewen het. Ons kan ook nie met sekerheid sê dat die skop oor sou gewees het nie. Die Bokke moet eerder voor hul eie stoep vee.

Nietemin hang die stank van amateuragtig in die lug met Wêreldrugby se hantering van die saak. Aan die een kant hou die beheerliggaam ’n front voor dat hy die welstand van spelers voorop stel, maar nou wil hy nie in die openbaar standpunt inneem nie.

Deur sy stilswye is Wêreldrugby eintlik besig om sy goedkeuring aan sulke geniepsige spel te verleen. Op ’n ander dag kan so ’n voorval op ’n skorsing uitloop.

Die oorspoel-effek is yslik. Kinders sien dit word ongestraf gelaat en wil soortgelyke duikslae uitvoer. Ouers sien dit en wil liefs nie dat hul kinders rugby speel nie.

Wêreldrugby se stilswye is nie net amateuragtig nie, maar grens aan misdadig.

Intussen hoef Gardner niks aan niemand buite Wêreldrugby te verduidelik nie. Rugbyliefhebbers wêreldwyd moet nogmaals vrede maak met die gebruiklike dawerende stilte wat gepaardgaan met ’n omstrede kwessie wat onder die mat gevee word.

Dit sal mettertyd in ons geheue vervaag en die enigste statistieke wat saak maak, sal in die geskiedenisboeke opgeteken word: Engeland 12, Suid-Afrika 11.

Meer oor:  Bokke  |  Jaareindtoer  |  André Esterhuizen  |  Skouerloop  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  Owen Farrell  |  Wêreldrugby  |  Angus Gardner
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.