Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
WP moet by die Bulle, Haaie se paartie aansluit

Neem ’n mens van Suid-Afrikaanse rugby se probleme in oënskou, is dit duidelik dat die oorgang van amateur- na beroepsrugby nog nie orals gemaak is nie.

Dit is met dit in gedagte dat ’n paar kenners al aan my gesê het hulle meen dat die Bulle en Haaie in die afsienbare toekoms Suid-Afrika se voorste spanne gaan wees.

Albei het goeie ekwiteitsvennote – die Bulle het Remgro en African Rainbow Capital, en die Haaie die Amerikaanse konsortium MVM Holdings.

Dit is moeilike tye vir Zelt Marais, die WP Rugbyunie se president. Foto: Gallo Images

By albei franchises is daar harmonie tussen rugbybase aan die beroeps- en amateurkant. Hulle werk ook danksy hul aandeelhouers nou van ’n sterk finansiële basis af.Terloops het baie van die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU) se probleme begin met die destydse verlies van Remgro as ’n vennoot.

MVM Holdings was gretig om ’n beherende belang in die WPRU se sakevleuel te bekom, maar het hulle vasgeloop in rugbybase wat nie beheer oor die Stormers-franchise wou prysgee nie.

In albei gevalle was daar goud onder die WPRU se neus. Al wat hulle te doen gestaan het, was om dit te ontgin.

Die probleme wat die WPRU teister, is al deeglik gedokumenteer. Daar is baie goeie mense onder die dagpersoneel by die WP en ek voel só jammer vir hulle oor die onsekerheid waaronder hulle soms werk.

Die WPRU se sakevleuel is die meeste jare ’n verliesmakende entiteit (soos die meeste ander groot unies s’n ook, moet ’n mens byvoeg) en die unie self het twee groot eise teen hom – ’n dagvaarding van sowat R145 miljoen van Dream World Investments 401 en ’n eis van honderdmiljoene rande van Flyt Property Investment, met laasgenoemde wat na verwagting deur arbitrasie besleg gaan word.

Die WPRU poog om hom op ’n tegniese punt uit die kontrakte los te wikkel, maar soos ek al vantevore gesê het: Hy moet die bul eerder deur middel van konstruktiewe dialoog by die horings pak. Hy het immers al Dream World se geld gevat en die rente hoop op.

Van die WPRU se probleme glo ek spruit voort uit sy grondwet.

Al die klubs het ’n stem en volgens die jongste weergawe van die grondwet tot my beskikking, is daar ’n addisionele stem vir ’n klub wat drie senior spanne (dit mag ’n o.20-span insluit) in die veld kan stoot.

In werklikheid kom dit daarop neer dat ’n klein klub gemaklik dieselfde sê as ’n grote soos byvoorbeeld die Maties sal hê.

PRETORIA, SOUTH AFRICA - OCTOBER 24: Duane Vermeul
Die Bulle en die Haaie gaan binnekort die pas aangee in SA rugby, meen kenners. Foto: Getty Images

In ’n provinsie van 90-plus klubs beteken dit dat administrateurs wat die politiek die beste speel, verkies sal word. Dis nie noodwendig die geval nie, maar kan wel beteken dat ’n persoon wat nie ’n benul het van kommersiële aangeleenthede of korporatiewe bestuur nie, tot ’n hoë pos verkies kan word.

Dan is daar allerlei bepalings in die grondwet wat die unie, met sy verkose beamptes, bemagtig om sy neus diep in beroepsrugby te steek.

Of dit in werklikheid gebeur of nie, bepaal die grondwet dat die uitvoerende komitee die afrigters en senior personeel, insluitend die uitvoerende hoof, aanstel.

Die grondwet bepaal ook dat beleid onder toesig van die president, ’n verkose beampte, uitgevoer moet word.

Dit staan die unie ook vry om direkteure van die sakevleuel aan te stel en te verwyder. Daarvan het ons onlangs ’n ongesonde manifestasie gesien toe twee sakemanne, Peter Jooste en Moneeb Levy (albei ook verkose lede op die uitvoerende komitee), as direkteure verwyder is.

Hoe lekker vir die franchise-spanne wie se sake goed belyn is en nie aan ongesonde manifestasies van demokrasie en ’n uitgediende grondwet oorgelewer is nie.

Dis nou tyd vir die WPRU om te gaan besin oor hoe hy sy base kies en wat hy hulle bemagtig om te doen.

Remgro en MVM het deur die Kaapse unie se vingers geglip en die geveg met Dream World het ’n gestoei met die skuldmonster geword.

Dít behoort sekerlik die oë te laat oopgaan.


Meer oor:  Investec  |  Haaie  |  Wpru  |  Zelt Marais  |  Mvm Holdings  |  Anc  |  Ebrahim Rasool  |  Bulle  |  Nuweland  |  Flyt  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.