Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
WP-tameletjie: Hoe gemaak as Treu loop?

Danksy die feit dat ek ’n joernalis is, kan ek iets sê wat die Westelike Provinsie nie mag nie: Die “Paul Treu-voorval” het vir dié rugbyunie ’n yslike probleem met transformasie geskep.

Om die geheue te verfris: Treu het glo uit ’n hersieningsvergadering van die Stormers se Superrugby-veldtog gestorm. Hy het gevoel sy insette word nie na waarde geskat nie en was keelvol daarvoor om na bewering sleg behandel te word.

Paul Treu / Foto: Gallo Images

Terwyl die WP in die openbaar sê hy meen die kwessie kan beredder word, verneem ek dat dit oor en gedaan is wat die huidige samestelling van die Stormers se afrigtingspan betref.

Die verhouding tussen Treu en die hoofafrigter, Robbie Fleck, asook die Nieu-Seelandse hulpafrigter, Paul Feeney, is glo baie sleg.

Sou Treu besluit om groener weivelde te vind, laat dit die WP se beamptes met ’n probleem waaroor hulle hul straks agter die skerms verknies: Hoe gemaak om ’n bekwame “gekleurde” afrigter vir hul bestuurspan te kry?

Die Southern Kings se Deon Davids sou ’n goeie opsie gewees het as dit nie daarvoor was dat hy waarskynlik grootgemaak word om Rassie Erasmus in die toekoms as die Springbok-afrigter op te volg nie.

Hoewel Erasmus ’n kontrak van ses jaar het, is die verwagting dat hy vroeër eerder as later weer heeltyds op sy pos as die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se direkteur van rugby sal vestig.

Indien die Stormers vir Fleck behou, is dit nie in Davids se belang om Kaap toe te kom nie.

In Suid-Afrika is dit ’n algemene verskynsel dat daar ’n “gekleurde” hulpafrigter moet wees, terwyl die pos van spanbestuurder soms ook gebruik word om transformasievereistes na te kom.

Treu is egter nie iemand wat jy om transformasievereistes aanstel en van wie jy moet verwag om in die hoek te sit en stilbly nie. Daarvoor het hy al te veel bereik.

In alle eerlikheid is hy nie geskik vir ’n hulpafrigterspos nie. Hy is ’n hoofafrigter, wat self ’n span se rigting en kultuur moet bepaal.

Treu is egter nie iemand wat jy om transformasievereistes aanstel en van wie jy moet verwag om in die hoek te sit en stilbly nie. Daarvoor het hy al te veel bereik

Die ironie van die drama is dat die WP destyds met Gert Smal se aanstelling as direkteur van rugby juis van hom sou verwag het om toe te sien dat die unie se afrigtingstrukture belyn is. ’n Geval soos dié van Treu wys daarop dat dit allermins die geval is.

Die WP is waarskynlik ook die unie wat die meeste aan salarisse vir afrigters bestee, omdat daar as’t ware drie vlakke is – Heel bo is Smal, gevolg deur Fleck en dan die Curriebeker-afrigter, John Dobson.

Fleck en Dobson het ook hul eie bestuurspanne.

Die probleem met die vuil wasgoed wat in die openbaar gewas word, is dat die WP as gevolg daarvan kan sukkel om groot visse vir die Stormers te vang, wat andersins nie veel moeite sou geverg het nie.

Duane Vermeulen en Schalk Brits se persoonlike omstandighede is van so ’n aard dat hulle veel eerder in die Kaap as in Pretoria wil bly. ’n Mens wonder egter of die beeld wat die WP tans uitstraal sake nie dalk in die Bulle se guns gaan swaai nie.

Gert Smal / Foto: Gallo Images

Twee Bulle waarin die WP glo belangstel – Embrose Papier en Warrick Gelant – sal dalk ook mooi dink voordat hulle Kaap toe trek.

Intussen sal dit vir Fleck en Feeney ’n bepalende week wees. Die WP se direksie vergader en tot voor die Treu-voorval sou die status quo waarskynlik gegeld het wat die afrigtingspan betref.

Fleck se pos is dalk veilig, maar tussen die lyne kry ek die indruk dat die WP uitgekuier is met Feeney. Hoe dán met die hulpafrigters gemaak?

Die geskiedenis het ons ook al geleer dat die WP mettertyd keelvol raak vir direkteurs van rugby. Destyds het hulle vir Nick Mallett gesê hy kan in dié pos aanbly mits hy bereid is om die ook Stormers af te rig. Rassie Erasmus het ook uit ’n soortgelyke rol by die WP bedank.

Kan dit wees dat Smal dalk gevra sal word om sy moue op te rol en self by die afrigting betrokke te raak? En wie gaan die gekleurde hulpafrigter wees?

Meer oor:  Robbie Fleck  |  Wpru  |  Stephen Nell  |  Paul Treu  |  Gert Smal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.