Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Zelt moet eerder net dankie sê

As die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU) al ooit by ’n kruispad was, is dit nóú, met ’n Amerikaanse belegger wat ’n beherende belang in sy sakevleuel wil koop.

Nie net wil dié belegger, met ’n oud-Suid-Afrikaner aan die spits, $4 miljoen in ’n maatskappy belê wat op papier dadels werd is nie, maar hy wil ook $2 miljoen aan die unie gee.

Ons weet natuurlik nie wat in die fynskrif staan nie, maar die WPRU moet bitter versigtig wees om nie ’n gegewe perd in die bek te kyk nie.

Zelt Marais, president van die WP Rugbyunie, mik dwarsklappe na ander rugbybase in die unie. Foto: Gallo Images

Zelt Marais, president van die WPRU, se aksies is egter nie dié van ’n man wat lyk of daar pas ’n stukkie geluk oor sy pad gekom het nie. ’n Lang verklaring waarin hy na ander rugbybase kap – kwansuis omdat hulle inligting aan die media uitlek – is veelseggend.

Dít wanneer die prentjie op lang termyn vir die unie se kontantvloei nie juis rooskleurig lyk nie.

As ek dus aan Marais ’n bietjie vriendelike raad kan bied: Vergeet van die unie se begeerte om die sakevleuel se direksie te beheer en neem hierdie aanbod ernstig op.

Moet ook nie vir André van der Veen as ’n onafhanklike direkteur van die sakevleuel verloor nie. Deur die moontlike belegger te vind, wat sommer ’n groot bedrag geld in die unie wil belê, het Van der Veen eensklaps meer vir klubs gedoen as enige van die verkose beamptes die afgelope paar seisoene.

Om Van der Veen in die naam van transformasie uit die prentjie te wil kry, spreek van persoonlike en verskuilde agendas eerder as opregte toewyding tot diversiteit.

André van der Veen het vir die WP Rugbyunie ’n moontlike belegger gevind, maar daar is nie veel van ’n aptyt by die Kaapse unie om hom op die sakevleuel se direksie te hou nie. Foto: Verskaf

Die probleem is waarskynlik dat Van der Veen in die pad staan van agendas wat baie klubs wil deurvoer.

Om van die huidige dramas in die WP beter te verstaan, moet daar gekyk word na die kandidatelys waarop Marais verskyn het vir 2018 se verkiesing van WP-beamptes.

Die wenslys was om vir Reuben Riffel as adjunk- en Ronald Bantom, wat sy veldtog gedryf het, as visepresident te hê. Riffel het die verkiesing teen Moneeb Levy verloor, terwyl Bantom weens sy skorsing op die vooraand nie aan die verkiesing kon deelneem nie. Spencer King, wat aan die ander presidentskandidaat, Peter Jooste se kant was, is gevolglik onbetwis as visepresident verkies.

Die kandidatelys waarop Marais verskyn het voor 2018 se presidentsverkiesing.

Daar was ook ’n baie sterk “Paarl-geur” met Mario Williams, Junaid Moerat en Vida Claassen kandidate vir bykomende lede.

Van daar waarskynlik die gerug dat daar ’n begeerte is om die voormalige Springbok-afrigter Peter de Villiers mettertyd as afrigter van die Stormers aangestel te kry.

Dan het die stories ook sterk geloop – en dit het nog nie opgehou nie – dat ’n veldtog uit unie-geledere gevoer word om vir Moerat as uitvoerende hoof van die WPRU aangestel te kry.

Vir Moerat ken ek nie en dit mag wees dat hy baie belofte toon, maar volgens sy Linkedin-profiel is sy hoogste akademiese kwalifikasie ’n graad in sielkunde aan die Universiteit van Kaapstad.

Kwalifikasies in sake aan Harvard en die Massachusetts Institute of Technology waarna daar op die Marais-kandidatelys verwys word, blyk volgens ’n Google-soektog kort kursusse van ses weke te wees.

Die WPRU het egter strukturele probleme, wat dit bitter moeilik maak om kandidate met MBA-grade aan gesiene universiteite te kan werf.

Volgens die WPRU se grondwet kom dit basies daarop neer dat die uitvoerende hoof na die unie-president se pype moet dans.

Solank as wat die president by die sakevleuel betrokke is – met die unie wat ’n gelyke sê in terme van die getal direkteure het – bly hy ook die oppergesag.

Marais sal dus op persoonlike vlak móét opoffer om aan die moontlike belegger se eise te kan voldoen en dit sal interessant wees om te sien of hy, en die klubs wat hom ondersteun, bereid is om toegewings te maak wat waarskynlik daarop gaan neerkom dat die grondwet gewysig sal moet word.

Gemeet aan die feit dat dit Van der Veen is wat hom in die spervuur bevind, het ek min hoop.

Meer oor:  Investec  |  Wpru  |  Zelt Marais  |  Nuweland  |  Flyt  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.