Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Formule 1
Max gee Lewis bloedneus in F1 se 1ste ‘T20’-ren

Die organiseerders van Formule Een is wraggies net so vol plannetjies as ’n skrumskakel agter ’n Springbok-agttal.

Hul jongste taktiek om meer belangstelling te lok, is dubbele kwalifisering waardeur die finale wegspringvolgorde vir die Grand Prix in ’n naelren op die Saterdag bepaal word.

Dit is gister die eerste keer nog gehou – op Silverstone vir vandag se Britse GP.

Verstappen gee Hamilton (agter) gister gas. Foto: Reuters

Dit gaan nie by alle renne ingestel word nie, maar sal blykbaar nog twee keer vanjaar as proeflopies plaasvind.

Max Verstappen (Red Bull), die kampioenskapsvoorloper, het gister die heel eerste Saterdag-naelren gewen en spring daarom vandag voor weg.

Lewis Hamilton (Mercedes) sal langs hom stelling inneem, met Valtteri Bottas (Mercedes) en Charles Leclerc (Ferrari) op die tweede ry en die twee McClaren-jaers, Lando Norris en Daniel Ricciardo, op die volgende ry.

Die vierde ry sal deur Huis Herfsblaar beset word: Fernando Alonso (Alpine) en Sebastian Vettel (Aston Martin).

Volgens die organiseerders hoop hulle die naelren sal ekstra aksie afgee, “net soos T20-krieket” vir krieket gedoen het.

Dit werk só: Die tweede oefensessie op die Vrydag word deur die volle kwalifiseringsessie vervang. Dit bepaal die volgorde vir die volgende dag se naelren.

Nog ’n oefensessie word die Saterdagoggend gehou, waarna die naelren plaasvind. Daar word gehoop dat (twee) minder oefensessies groter onvoorspelbaarheid sal veroorsaak en dat jaers tydens die naelren heeltyd voet in die hoek sal sit – omdat daar geen kuipestoppe is óf hulle hul bande moet oppas nie.

Die blitsren moet oor minstens 100 km plaasvind – op Silver­stone was dit 17 rondtes. Die wenner kry ook drie kampioenskapspunte, die naaswenner twee en die derde jaer een.

Werk dit? Beslis.

Eerstens word die finale wegspringrooster vir die hoofren nou bepaal deur ’n kwalifiseringsessie wat onder renomstandighede plaasvind. Met ander woorde, alles hang nie meer net af van een blitsige vlieënde rondte wat jy in die laaste minuut van die sessie kan afjaag nie.

GP

Tweedens kan dit almal Sondag meer mededigend maak omdat hulle tydens die naelren data onder rentoestande kan insamel.

En derdens verhoog dit beslis die onvoorspelbaarheid: Hamilton het Vrydag die vinnigste tyd opgestel en gister in die naelren voor weggespring. Verstappen was egter veel vinniger uit die blokke en het die eerste draai eerste bereik. Hamilton kon dit daarna net nie regkry om hom in te haal nie en moet nou van die tweede plek af probeer wen.

GP

Van die ander jaers is ook deur die naelren aan die hakskeen gebyt. Sergio Pérez (Red Bull) het byvoorbeeld vyfde gekwalifiseer, maar moet heel agter wegspring nadat hy gister van die baan gegly het.

Die enigste moontlike nadeel van dié formaat is dat die voorste jaers later dalk halfpad deur die naelren kan besluit die wegspringvolgorde is nou bepaal en hulle moet dit eerder kalm vat en hul motors spaar.

Maar in hierdie stadium voel ’n mens lus en skree: “Maak Sondag s’n ook 17 rondtes!”

Meer oor:  Lewis Hamilton  |  Max Verstappen  |  Grand Prix  |  Formule Een
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.